Mkhize ontken ‘persoonlike’ skenkings van omstrede sakeman Sodi

Dr. Zweli Mkhize. (Foto: Elmond Jiyane)

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid en ook ʼn lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), het ten sterkste ontken dat hy ooit enige betaling – na bewering sowat R6,5 miljoen – van die omstrede sakeman Edwin Sodi ontvang het.

Sodi is oënskynlik ʼn skatryk sakeman wat betrek word by die sogenaamde asbes-ondersoek in die Vrystaat. Hy het die afgelope week saam met verskeie medebeskuldigdes in die saak in die hof verskyn en is op borgtog van R500 000 vrygelaat.

“Ek wil dit onomwonde stel dat ek nog nooit geld van mnr. Sodi, persoonlik of deur ʼn derde party, vir my persoonlike voordeel ontvang het nie. Ek kan bevestig dat mnr. Sodi – soos talle ander sakemense, maatskappye en organisasies – tydens my termyn as die ANC se tesourier-generaal skenkings aan die party gemaak,” het Mkhize Vrydagaand gesê.

Hy sê toe hy as tesourier-generaal van die regerende party oorgeneem het, was Sodi se kontakbesonderhede beskikbaar in die ANC-skenkerslys as een van diegene wat vantevore geld aan die ANC geskenk het.

“Die databasis is saamgestel en bygehou deur die finansiële kantoor op grond van verskeie openbare geldinsamelingsgeleenthede wat die ANC gehou het. Dít is hoe ons mense of maatskappye sou nader en na ons geleenthede nooi,” het Mkhize gesê.

Volgens Mkhize het Sodi regstreeks, of deur een van sy entiteite, op 28 Februarie altesaam R3 miljoen aan die ANC geskenk, asook op 3 April van dieselfde jaar R3,5 miljoen, op 29 September 2015 ʼn bedrag van R1,5 miljoen en op 8 Januarie 2016 een van R150 000.

Mkhize sê die geld is direk in die ANC se amptelike bankrekeninge inbetaal en dat die verwysing “Zweli Mkhize” waarskynlik gebruik is omdat hy in daardie stadium die tesourier-generaal was. Hy het ook benadruk dat die geld vrywillig geskenk is en nie gekoppel was aan enige ooreenkoms dat Sodi werk by die regering sou kry nie.

Mkhize ontken voorts dat hy enige persoonlike, professionele of sakeverhouding met Sodi het, benewens die feit dat hy tydens sy termyn as tesourier-generaal kennis geneem het van die sakeman as skenker aan die ANC.

“Ek was nog nooit deel van sakeonderhandelinge met hom nie en het ook nie op ʼn persoonlike vlak met hom te doen gehad nie.”

Mkhize sê hy is ook bewus van die DA se “sinnelose verklaring” dat die party hom by die parlement gaan verkla oor die skenkings aan die ANC. Hy sê toe die skenkings gedoen is, was dit sy werk om geld vir die ANC in te samel. Hy was in daardie stadium nie ʼn lid van die parlement nie en het nie direk by Sodi se skenkings gebaat nie.

“Daar is dus geen parlementêre vereiste vir my om al die skenkings te verklaar wat tydens my termyn as tesourier-generaal deur die ANC ontvang is nie.”

Mkhize sê waar wangedrag of misdade plaasgevind het, moet wetstoepassingsowerhede dit ondersoek.

“Sake wat met mnr. Sodi en sy maatskappye verband hou, is nou in die hof. Die regsproses moet toegelaat word om sy gang te gaan sonder dat dit vertroebel word deur kwaadwilligheid en waninligting wat mense se name deur die modder sleep waar daar geen bewyse is nie.”

Mkhize sê hy neem aanstoot aan bewerings dat hy persoonlik geld van Sodi ontvang het en beklemtoon dat dit geen waarde bydra tot die werk wat wetstoepassers doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Dries ·

Die hele ANC is verrot tot in hulle diepste wese. Sy verduideliking kan net aanvaar word as hy homself sou distansieer van die ANC. As hy so heilig was sou hy ook n fluitjieblaser gewees het. Hy as tesourier generaal MOES van baie bedrog en korrupsie bewus gewees het

Stefan ·

Wees versigtig met daardie stelling Hennie, daar is die laatste tyd skielik baie gebouë wat somer skielik afbrand.

Adam Adriaan ·

As hy so onskuldig blyk te wees, sal hy homself aan ‘n onafhangklike oudit onderwerp, wat al sy belasnge en finansies kan ondersoek. Twyfel word uitgespreek of die knaap tot dit sal instem.

Johann ·

Gly teen n opdraande op…sonder brieke… Issi ekki…wassi ekki…elk geval niks met julle te doen nie…hou op modder gooi….
Jys reg “Dr”, jou naam beteken NIKS nie. Kamptige redder van SA tydens die pandemie? Glo nie n woord wat jy dink of sê nie!

Kobus ·

Vergeet Covid….ons nuwe epidemi is geheueverlies. Skielik kan niemand van groot bedrae ontvang onthou nie…..seker aan Jan v Riebeeck geskenk

My siening ·

Ja skrap my maar maroela waarheid maak seer. ANC IS VERROT!

Persheks Adri ·

Myne ook! Ek was nie eers lelik nie so ek ken daai gevoel…

Dup ·

Die Minister ontken alles maar indien die “skenkings” vanuit ñ korrupte bron gemaak is dan is die eter so skuldig soos die steler.Die betrokke sakeman staan nou in die beskuldigde bank en sy bates is gevries.Dan het die ANC mos geweet die skenkings was verdag!

Steve ·

Sodra hierdie korrupte anc kaders iets ontken moet ons weet dis die waarheid. Anders sou n dagvaarding direk gevlieg het vir naamskending.

Pietertjie ·

Ja, en my ouma is ‘n eendvoël. Geen wonder dat die ANC so skop teen die openbaarmaking van skenkers aan politieke partye nie.

Petrie ·

Dr Mkhize. Voel jy hoe jou neus groei soos Pinokio sin en hoe het die haan vir jou ook gekraai.
Sorry maar ek glo lankal niks wat jy, jou president of enige anc sê nie…..

JohanR ·

Nou kan die lieg werk maar begin en as jy uit gevang word met die een leen dan formuleer maar net nog een soos met die vlug van die ministers Zimbabwe toe. Ou Cyril het homself heeltemal in ‘n hoek in ge lieg!

Sobymykoolkop ·

Nou waar sou die tenderpreneur dan nou sy bankbesonderhede in die hande kry????So stouterd. Dat hy nie sommer net die geld direk in die anc se rekening betaal het nie? Nou moes die arme arme minister nog bankkoste ook betaal het , en dis baie onregverdig, bankkoste op 6,5 miljoen moet eeg wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.