Mkhize oor Covid-19-entstof: Regering, mediese fondse kan hande vat  

Minister Zweli Mkhize. Foto: @DrZweliMkhize/Twitter

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het Donderdag die deur wyd oopgelaat vir samewerking tussen die staat, private mediese fondse en groot maatskappye om soveel Suid-Afrikaners as moontlik te laat inent teen Covid-19.

Hy het aan die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid gesê die staat sal sy deel doen, terwyl private mediese fondse en groot maatskappye deur “kruis-subsidiëring” deel van die verskaffingsproses kan word.

Hoewel hy dit glad nie uitgespel het nie, kom Mkhize se stellings te midde van die nuus dat Suid-Afrikaanse private mediese skemas, wat sowat 15% van die bevolking bedien, aan die regering ʼn aanbod gemaak het dat die mediese skemas sal betaal vir die inenting van elkeen van hul lede, en vir elke mediese skema-lid wat ingeënt word, sal die mediese skema betaal vir die inenting van een Suid-Afrikaner wat nie lid van ʼn mediese skema is nie.

Waar die staat dus tans net genoeg geld het om 10% van die bevolking te laat inent, sal die mediese fondse betaal vir ʼn verdere 30% van die bevolking, om die totaal op 40% van die bevolking te staan te bring.

Eweneens het Mkhize nie uitgestippel wat die rol van groot maatskappye in so ʼn kruis-subsidiëring sou wees nie, maar dit is bekend dat verskeie groot maatskappye, plaaslik en multi-nasionaal, hard werk om te verseker hul werknemers word ingeënt. As dit op dieselfde model as die voorgestelde mediese fonds-kruissubsidiëring werk, kan groot mynboumaatskappye byvoorbeeld van die eerstes wees om bereidheid tot deelname te verklaar.

Mkhize het toegegee die gesondheidstelsel kreun tans onder die las van die tweede golf infeksies, met nuwe rekords vir infeksies en sterftes wat tans daagliks in Suid-Afrika opgestel word.

Hy het gevra dat alle veldhospitale wat nie tans aktief is nie, heropen word. Tans is die meeste nuwe infeksies in KwaZulu-Natal, waar 6 742 nuwe gevalle Woensdag aangeteken is, gevolg deur Gauteng met 5 754 en die Wes-Kaap met 3 766.

Dit lyk volgens die minister voorlopig of die Oos-Kaap oor die piek van die tweede infeksiegolf is. Suurstoftekorte in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal is aangevul deur verhoogde produksie.

Die groot kommer is oor Gauteng waar infeksies die hoogte inskiet sonder dat die tweede infeksiegolf werklik begin het. Die verwagting is dat die tweede golf in Gauteng weke kan duur namate soveel van daardie provinsie se inwoners terugkeer van hul Kersvakansies af.

Mkhize het toegegee dat daar vertragings was in betalings om Suid-Afrika deel te hou van internasionale entstof-groeperinge soos Covax, maar hy het gesê die vertroulike onderhandelings waarmee die regering sedert Julie en veral sedert September besig is, het hierdie probleem oorkom.

Volgens Mkhize is die aankondiging van die eerste 1,5 miljoen dosisse entstof uit Indië maar die eerste van verskeie vertroulike ooreenkomste wat binnekort geopenbaar sal word.

Van die staat se kant af sal personeel in die mediese sektor eerste ingeënt word, gevolg deur mense ouer as 60 jaar en mense met onderliggende siektetoestande.

(Argieffoto: Unsplash)

Suid-Afrika sal ʼn verskeidenheid entstowwe bekom en gebruik. Die entstowwe wat hier te lande gebruik sal word sal aan die hand van beskikbaarheid, veiligheid, effektiwiteit, gemak van toediening, bergingsvereistes, koste en registrasie deur die Suid-Afrikaanse Regulatoriese Owerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) gekies word.

Tans oorweeg Suid-Afrika die produkte van onder meer Pfizer, Astra Zeneca, Johnson&Johnson (die voorkeurproduk want dis ʼn enkeldosis), Moderna, en Sinopharm van China.

Mkhize het gesê die regering is bewus van die noodsaak om verspreidingsprosesse te vestig, te sorg dat afleweringsvoertuie beveilig word en dat elke dosis met ʼn unieke stafiekode gemerk moet word sodat ʼn mens weet presies watter mens het watter middel ontvang.

Elke Suid-Afrikaner wat ingeënt word sal ʼn geel mediese kaart ontvang soortgelyk aan ʼn geelkoors-kaart wat byderhand gehou moet word, maar rekord van inentings sal ook elektronies gehou word vir diegene wat hul kaarte verloor. Dis belangrik omdat entstowwe in volledige dosisse toegedien moet word en nie gemeng moet word nie.

Die hantering van mediese afval moet gereguleer word, het Mkhize uitgewys.

Die regering wil 40 miljoen Suid-Afrikaners oor die volgende jaar inent.

Oor stellings deur die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, dat die provinsie begroot het om self entstof vir sy inwoners aan te koop het Mkhize gesê na onderhandelings tussen die Wes-Kaap en die nasionale regering is besluit om voorlopig net sentraal entstof te bekom omdat die vervaardigers tans met nasionale regerings onderhandel.

Wanneer vervaardigers meer geneë is daartoe in die toekoms, kan onderhandelings deur byvoorbeeld provinsies oorweeg word, het die minister gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.