Mkhize: SA reg vir vlak 1, regulasies kan verslap

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: GCIS)

Die aantal bevestigde gevalle Covid-19 in die land neem steeds af en dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, is versigtig optimisties dat Suid-Afrika deur die ergste van die Covid-19-pandemie is.

Sy departement beveel nou aan dat afsonderingsregulasies verslap word. Dit sluit in regulasies rakende die aandklokreël, die verkoop van alkohol, godsdienstige byeenkomste asook reisbeperkings.

Verslapping van regulasies, nog ’n advieskomitee

Die finale besluit lê egter by die nasionale bevelsraad wat eindelik aanbevelings aan die kabinet maak.

Nog ’n ministeriële advieskomitee oor Covid-19 sal ook op die been gebring word noudat die land al hoe minder gevalle aanmeld. Dié komitee sal spesifiek op die ontwikkeling van ’n entstof fokus.

“Die komitee sal ons adviseer oor alle aangeleenthede rakende die ontwikkeling en inwerkingstelling van die koronavirus-entstof, vanaf die monitering en verslagdoening oor die vordering met ons kandidaatstudies, tot advies oor ons aankoopopsies en ons vermoë om in die toekoms moontlik entstowwe te vervaardig.”

Aantal daaglikse gevalle, hospitaalpasiënte neem af

Sedert 22 Augustus word daagliks minder as 3 000 nuwe gevalle Covid-19 aangemeld. Dít is ’n beduidende afname in nuwe gevalle vergeleke met Julie toe die pandemie sy piek bereik het en enigiets van 10 000 tot 15 000 nuwe gevalle daagliks aangemeld is.

Maroela Media het vroeër berig die land het maar 956 nuwe gevalle in die laaste 24-uur-siklus aangemeld.

(Argieffoto: Unsplash)

Die minister het verder daarop gewys dat die aantal pasiënte in die land se hospitale asook die Covid-19-verwante sterftes aan die afneem is.

’n Verslag is onlangs met behulp van die data van 459 hospitale reg oor die land opgestel.

“Dié verslag [van 11 September] toon ’n duidelike verandering in die gedrag van die epidemie met afwaartse neigings in hospitaalopnames en sterftes in die algemene hospitaalsale asook die waakeenhede,” meld Mkhize.

Altesaam 66 515 pasiënte se data is nagegaan vir dié verslag van wie 4 314 in dié stadium in ’n hospitaal opgeneem is met Covid-19.

Volgens die minister het die betrokke hospitale gedurende die piek van die pandemie tussen 6 400 en 6 800 pasiënte per week opgeneem.

Die koers waarteen die pasiënte uit die hospitale ontslaan is, staan op 75% met die sterftekoers in dié hospitale op 17,5%.

Hospitaalbeddens vir die behandeling van Covid-19. (Foto: Adhy Savala/Unsplash)

Die persentasie hospitaalbeddens wat tans deur Covid-19-pasiënte beset word, is onder 10% vir beddens in algemene sale en minder as 30% vir beddens in waakeenhede.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het op sy beurt verlede Donderdag ’n situasieverslag bekend gemaak wat Suid-Afrika se 37ste week van die pandemie weerspieël. Dié verslag beaam dat die land se aantal Covid-19-gevalle aan die afneem is.

Hierdie verslag dui ’n afname van 42% in die voorafgaande twee weke en ’n afname van 28,9% in die sterftes in dieselfde tydperk aan.

Die aantal opnames in waakeenhede het gedurende die 37ste week van die pandemie met 13,9% toegeneem, hoewel opnames in algemene hospitaalsale met 43% afgeneem het.

Die mediaan-positiwiteitskoers is op 9,8% aangeteken vergeleke met 11,4% in die vorige week.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

NEO ·

Met ‘n herstel koers van 89% en sterfte syfers van minder as 1% is dit kwalik ‘n pandemie. So sal ons almal wag totdat die kommunistiese ANC regering besluit wanneer ons vrygelaat mag word.

Christo ·

Ongelukkig weet ons almal dat die statistieke onbetroubaar is.

Christo ·

Sou darem baie graag statistieke wou sien, ten opsigte van misdaad, nou met alkohol oop en aandklokreel in. Indien die aandklokreel die werklike oorsaak van afname in geweld was, ( nie die alkoholverbod nie ), kan dit gerus maar bly………. !?!

wim ·

Enige reëls onder die rampstoestand mag net wees om Covid-19 te beveg en vir GEEN ander rede nie.

Elke Suid-Afrikaner behoort gekant te wees teen enige reël wat so ingestel word wat ‘n ander doel het, al is dit volgens jou ‘n goeie doel.

As mens ‘n wet wil maak, dit is hoekom daar ‘n parlement is.

annie ·

Wel, as ons die tweede super-vertikale-inval wil bereik teen Desember, soos WHO mos besluit, moet ons nou die briek los. Wow, en ons is no1. Die Nobelprys vir dr Z.

Fae Fubar ·

As ek sien hoe onverantwoordelik die mense in ons dorpie reeds optree, dan gaan die syfers binnekort begin klim. Vandat die simpel boodskap onder die nedersettings begin versprei het dat die virus “weg is”, dra net hier en daar iemand ‘n masker in die openbaar. Die virus het seker ‘n bus geklim en Zimbabwe toe verkas!

wim ·

Jy is verniet bekommerd.

Die gevalle is nie besig om te val as gevolg van gehoorsaamheid of inperking nie, maar as gevolg van groeiende immuniteit in die breë bevolking, omdat baie dit al gehad het.

Die regering (insluitende die Wes-Kaapse DA) versprei hierdie mite, en bedank mense vir hul goeie samewerking wat hul sê, die gevalle laat daal het. Ek is nie seker of dit ‘n gebrek aan begrip is, totale naiwiteit, of ‘n manier om hulself te regverdig dat hul so pro inperking was nie.

Die mense in die nedersettings het nog minder maskers gedra weg van die openbare oog, en selfs waar dit gedoen is, het maskers niks beteken nie omdat mense meer aan hul gesigte raak.

Gevalle is besig om te daal, soos verwag, omdat minder mense nou vatbaar is.

JohanR ·

Agh my maat NIEMAND gee meer om. Ek is al lankal of Vlak 0 en verby. Gaan ou Cyril weer op die kassie verskyn, en ou Kopdoek die dag daarna om Vlak 1 te explain vir ons stupid Suid Afrikaners? En daar ook het ons nog ‘n komitee. Hoeveel komittees is daar al?

Scalla ·

Maroela, wat is die kans dat julle Prof Gray nader vir haar siening/ kommentaar?

Ilze ·

Scalla, ek stem. Sodat ons ‘n bietjie common sense kan sien

Morne ·

Watse verslaping is daar. Net die nommer van 2 na verander. Die res bly maar die selfde. jy mag nogsteeds nie sport gaan kyk nie, jy moet nogsteeds die masker dra jy mag nogsteeds nie tussen 22H00 en 04H00 op die pad wees nie die drank winkel maak nogsteeds Donderdae toe. Wat is dan level 1.

Jaco ·

Niemand luister na die minister. Want dit gaan nie oor die virus nie. Kom nou minister jy is net gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.