Mkhize: Volgende besending J&J-entstof die naweek al hier

(Foto: Justin Tallis/AFP)

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het bevestig dat die volgende 80 000 Johnson & Johnson-entstofdosisse Saterdag in die land sal aankom. Dit volg nadat die eerste besending reeds verlede Dinsdag by die OR Tambo-lughawe in Johannesburg aangekom het.

Mkhize het Dinsdag in die parlement gesê die departement verwag dat die eerste 40 000 inentings teen Woensdag voltooi sal wees. Die doelwit is om altesaam 80 000 gesondheidswerkers in te ent binne twee weke nadat die eerste besending entstowwe in die land aangekom het.

Statistieke toon dat gesondheidswerkers in Suid-Afrika drie tot vier keer meer geneig is as Jan Alleman om Covid-19 op te doen. Dit word weerspieël deur die sowat 54 685 gesondheidswerkers wat in die openbare sektor die virus opgedoen het en altesaam 779 wat gesterf het.

“Die gesondheidswerkers wat in die voorste linie werk om die verspreiding van Covid-19 te bekamp, is nie die verwoestende gevolge van die tweede golf van infeksies in die land gespaar nie,” het Mkhize gesê.

Oor die verkryging van die entstowwe het Mkhize gesê dit was ʼn ingewikkelde proses wat onderhandelinge met multinasionale vervaardigers van entstowwe vereis het in die lig van entstofnasionalisme en proteksionisme. Onlangs is aangekondig dat meer as 133 arm lande regoor die wêreld nog nie een dosis van die entstof ontvang het nie – hoofsaaklik omdat ryker lande hul finansiële mag gebruik het om die Covid-19-entstowwe te monopoliseer.

“Die Suid-Afrikaanse regering het verkies om sy benadering tot die verkryging van entstowwe te diversifiseer deur middel van verskillende meganismes – bilateraal deur voortdurende gesprekke met individuele vervaardigers; multilateraal deur middel van die Covax-fasiliteit en op streekvlak deur die Afrika-unie se taakspan vir inenting en finansiering van entstowwe.

“Ons het nie-openbaarmakingsooreenkomste met die meeste vooraanstaande vervaardigers onderteken. Dit stel ons in staat om insig te kry in hul toevoerlyne, hul vervaardigingsplanne en moontlike verstoppings in die vervaardigingspyplyn. Dit stel ons ook in staat om onderhandelinge te voer oor pryse, volumes en tydlyne vir aflewering.”

Mkhize het ook aangevoer dat deur inenting te doen volgens die Sisonke-protokol, wat die departement toelaat om die Johnson & Johnson-besendings te gebruik wat reeds onder navorsingsomstandighede deur die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) gesertifiseer is, sal Suid-Afrika een van die min lande wees wat ʼn goed ontwerpte impakstudie onderneem terwyl entstowwe aan gesondheidswerkers beskikbaar gemaak word.

Onlangse navorsing deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing het getoon dat 67% van die land se burgers beslis of waarskynlik die entstof sou neem. Slegs 12% het gesê dat hulle nie die entstof sou neem nie.

Volgens die departement is daar ook reeds 500 000 registrasies op die elektroniese inentingsdatastelsel.

Wat die verkoop van die Astra Zeneca-entstof aan die Afrika-unie betref, het Mkhize bevestig dat Suid-Afrika die dosisse teen kosprys gaan verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Baardman ·

Kosprys plus die ander kostes wat aangegaan is?. Dink nie jy het daaraan gedink nie

Thom ·

En mense wat weier om ingeënt te word verhoog die alreeds hemelhoë risiko waaraan oa dokters blootgestel word nog verder .

Johanna ·

Nie almal weier net om snaaks te wees of omdat hulle glo dis die duiwels merk of wat ook al.
Ek sal nie die inenting kry nie, vir die simpel rede dat ek my eie doodsvonnis teken as ek dit wel kry. Om verskeie mediese redes kan ek nie eers die griep inspuiting kry nie.

Johan ·

Wanneer mag die slawe nou maar weer ophou maskers dra? Of geniet die magshebers en sadiste dit te veel om ons te sien suffer. 70% of meer was inelkgeval reeds bloodgestel en het nie siek geword nie…of praat ons liewer nie daaroor nie.

Baardman ·

Meeste mense dra in elk geval nie meer maskers nie, dis net ons wetsgehoorsames wat dit slaafs dra

donsie ·

voordat ons enige iets verkoop moet onseers ons land se mense almal klaar inent. Anders is dit dieselfde as met die verkoop van ons olie reserwes. Cut you nose and spoil your face

Tjom ·

80000 in 2 weke lyk goed in vergelyking met Amerika se 6miljoen per dag

houopkruip ·

Ek verstaan nie waarom die pers en media (ALMAL) nie kommentaar lewer oor die belaglike min entstowwe wat die land inkom nie …………… en ons wil 40 miljoen mense inent voor die einde van die jaar ?

Bushy ·

80 duisend inentings in twee weke
Teen die tempo sal dit 29 Jaar duur om 69 miljoen mense in te ent.
Ek sal wag tot laaste.
Ek is nou 65 so ek sal 94 jaar oud wees wanneer my beurt kom.
Sou hulle die tempo kon verdubbel sal dit 14 en n half jaar neem dan is ek 80.
As hulle dit vervierdubbel sal dit 7 en n kwart jaar neem.
Mense het nie n begrip van wat dit is om logika toe te pas en vir hulle self te kan dink nie.
Sien sulke nonsens elke dag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.