Mkhize voor komitee: Antwoorde hieróór gesoek

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Twitter)

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sal Donderdag voor die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid verskyn om die komitee in te lig oor die jongste verwikkelinge rakende die Covid-19-pandemie sowel as die regering se entstofstrategie.

Mkhize sal van 09:00 tot 12:00 voor die komitee verskyn.

Siviwe Gwarube, DA-woordvoerder oor gesondheid, sê die minister moet tydens die geleentheid verantwoordbaar gehou word oor die regering se entstofprogram.

“Ons sal tydens die geleentheid duidelikheid versoek oor verskeie kwessies, insluitend die huidige prosesse en status van die bilaterale gesprekke met entstofvervaardigers. ’n Aantal inentingsopsies is nie lewensvatbaar nie, onbekostigbaar of nie beskikbaar vir Suid-Afrika nie.”

Die regering kan nie net op die Solidarity Fund staatmaak om die fondse vir die entstof te voorsien nie en volgens Gwarube moet die regering ’n volhoubare en lewensvatbare finansieringstroom hiervoor hê.

Die DA sal ook versoek dat ’n gedetailleerde logistieke plan rakende die stoor, vervoer en verspreiding van die entstof bekend gemaak word. “Ons wil ook duidelikheid hê oor die onderhandelings tussen die regering en die private sektor, met inbegrip van mediese fondse. Daar heers verwarring oor siekefondse se rol in die proses.”

Philip van Staden, VF Plus-LP en woordvoerder oor gesondheid, sê sy party is bekommerd oor die breekspul wat volgens mediaberigte in mediese geledere dreig oor Suid-Afrika se inentingsplanne teen die virus. “Dit kan allermins in hierdie stadium bekostig word en moet ten alle koste vermy word ter wille van menselewens en die toekoms van Suid-Afrika.”

Kommunikasiegapings is volgens Van Staden tans aan die orde van die dag en die portefeuljekomitee moet hierdie probleem dringend oplos.

“Dit sal daartoe bydra dat korrekte inligting rakende die verkryging van die entstof teen Covid-19 asook die huidige stand van hospitale en gesondheidswerkers in die land, aan Suid-Afrikaners deurgegee kan word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.