Partye wat gestem het vir die verwydering van die Openbare Beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, meen sy laat al jare lank lede van die publiek in die steek en haar verwydering moes reeds vroeër gebeur het.
Volgens dr. Corné Mulder, VF Plus-LP en hoofsweep, was Mkhwebane meer oor haar eie belange besorg as oor die beskerming van Suid-Afrikaners.
Altesaam 318 LP’s (79,5%) het Maandag ter ondersteuning van ʼn aanbeveling vir haar verwydering gestem, terwyl 43 in haar steun gestem en een buite stemming gebly het.
Siviwe Gwarube, hoofsweep van die DA, sê die party het al in 2016 haar aanstelling teëgestaan.
“Vir die afgelope sewe jaar het ons vasgehou aan ons oortuiging dat sy nie ʼn geskikte kandidaat is om die amp van Openbare Beskermer te beklee nie. Vandag is ons teenkanting teen haar aanstelling uiteindelik geregverdig,” sê Gwarube.
In 2020, ná ʼn aantal skandale, het die DA suksesvol ʼn parlementêre ondersoek ingestel na Mkhwebane se geskiktheid om die amp te beklee. ʼn Paneel onder voorsitterskap van ʼn afgetrede regter het prima facie-bewyse gevind dat Mkhwebane ongeskik is om te dien. Hierdie poging deur die DA het toe aanleiding gegee tot die art. 194-afsettingsondersoek in 2021, waarvan die verslag Maandagmiddag aan die Nasionale Vergadering voorgelê is vir ʼn stemming.
Maroela Media het vroeër berig die art. 194-komitee is op 16 Maart 2021 op die been gebring om ʼn grondwetlike ondersoek te doen na Mkhwebane se geskiktheid om die amp te beklee. Die getuienis van tientalle getuies is tydens die ondersoek aangehoor oor die ondersoeke wat Mkhwebane in haar dienstydperk as OB gedoen het, verslae wat op hersiening geneem is en die kultuur in die kantoor van die OB.
Die proses om Mkhwebane af te dank was die eerste sedert 1994 waardeur gepoog is om van die voorsitter van ʼn hoofstuk 9-instelling ontslae te raak. Hoofstuk 9-instellings speel ʼn belangrike rol in die beskerming van lede van die publiek deur waghond te speel oor staatsinstellings. Die demokrasie self word sodoende beskerm.
Volgens Mulder was die parlementêre proses onder die aangewese artikel 194-komitee die mees omvattende, deeglike en billike van dié aard sedert 1994. Die verslag van die komitee oor die ondersoek beslaan 404 bladsye.
Gwarube is op sy beurt weer baie trots op die lede wat in die komitee gedien het en sê hulle het “ywer” getoon en hul “ampseed gehandhaaf”, selfs te midde van harde kritiek en ad hominem-aanvalle.
Mulder sê van die begin van die ondersoek af was die strategie van die OB en haar regspan om die ondersoek so lank moontlik uit te rek om die proses te ondermyn. “Dit is presies wat gebeur het,” sê Mulder.
“Haar senior regsverteenwoordiger, adv. Dali Mpofu, het dit verontwaardig ontken. Ná 18 maande en minstens R36 miljoen aan regskoste kon niemand meer ontken ek was reg nie.
“Die strategie was ook om die OB voor te hou as die brose en onskuldige slagoffer van ʼn sameswering. In die proses is miljoene der miljoene rande van die belastingbetalers se geld vermors – juis die mense wat sy veronderstel was om te beskerm.
“Geen gewone landsburger het die voorreg om sy onbevoegdheid op hierdie wyse met belastinggeld te probeer regverdig nie.”
Om sout in lede van die publiek se wonde te vryf, het Mpofu in 2022, toe hy reeds R13,1 miljoen ontvang het, daarna as blote kleingeld verwys. Dít terwyl sowat 60% van die land se jeug werkloos en honger is, sê Mulder.
Die EFF was egter teen die besluit om Mkhwebane te verwyder.
Die party sê haar verwydering is “ʼn growwe ondermyning van ons demokrasie, deurdat dit poog om alle hoofstuk 9-instellings en ondersoekowerhede te intimideer wat die maghebbers ondersoek, om aan hulle te wys dat sou hulle die magshebbers sonder vooroordeel ondersoek, hulle strafbaar verwyder sal word”.
Volgens Omphile Maotwe, EFF-LP, was die proses onregverdig en ʼn “politieke heksejag”. Sy verwys onder meer daarna dat Mkhwebane dit sonder enige regsverteenwoordiging moes aanpak.
“Ons verwerp die verslag, en ons verwerp die politieke heksejag wat deur die DA geïnisieer is en deur die ANC ondersteun is om Mkhwebane te straf om pres. Cyril Ramaphosa te beskerm,” het Maotwe gesê.
“Ons herhaal ons standpunt dat ons die reg voorbehou om hierdie verslag en die onwettige aanvaarding van hierdie verslag deur die parlement op geregtelike hersiening te neem, en ons nooi alle belanghebbende partye om dit saam met ons te doen, insluitend Mkhwebane.”
♦️Must Watch♦️
The EFF Treasurer General @OmphileMaotwe in Parliament rejecting the consideration of the report on the removal of Adv Busisiwe Mkhwebane from office of Public Protector.
We reject the report, and we reject the political witch-hunt initiated by the DA and… pic.twitter.com/UiAoVOTaXO
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) September 11, 2023
Hoop sy gaan haar salaris ook terug betaal en al die regs koste wat die staat moes betaal vir die saak.
ENIGE kader wat in enige posisie aangestel is, is ‘n verleentheid en lei na ‘n mislukking.
Asb Kan Adv Thuli Madonsela nie maar terug kom nie?
Wat! Sy is nie die Afrikaner se oulike vriendin nie. Luister maar na haar uitsprake op Stellenbosch.
Sy moet eerder president wees.
Goed so.
Uiteindelik!
Gelukkig het haar vertragingstaktiek nie gewerk nie en kan sy nie aanspraak maak op die R10 miljoen wat sy sou kry nie, wat sy eintlik nooit op geregtig was nie. Soos niemand in die parlenent nie. Dis ons pensioen. Verder hoop ek sy betaal al die regskoste terug wat sy gemors het, word uit haar huis gesit en al haar luukshede ontneem. Moennie aan iemand doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Hoop meer word nou so uit gestem!!!!
Sy gaan nie ‘n stewige pensioen ontvang nie, maar wel ‘n goeie skeidingspakket.
Die wat vir haar gestem het moet nou ook help om die regskoste terug te betaal. Dis mos die regte ding om te doen. Eff sal altyd vir wat verkeerd is stem omdat huilende babas aandag nodig het
Ek stem vir ou Glynnis Breytenbach om die pos op te neem. Nou die vrou het yster in haar are…….en sy skroom nie om die mense tot verandtwoording te roep nie. Maar ek sien haar naam is nie op die lys nie……dis ‘n jammerte…..sy sou hulle gas gegee het.
Sy was wel benoem maar het nie die benoeming aanvaar nie. Seker maar goed so want elke liewe saak wat sy ondersoek sou seker oor en oor op ras gronde beveg word bloot omdat sy wit is en skurke meestal van ander kleur
Pay back the money OB
Hoekom het sy ‘n goue handdruk van R10 miljoen ontvang? Lyk my hoe slegter jy is hoe beter word jy betaal by aflegging
Ek lees die een het ‘n man – arme ou!
ANC STYL.