Mkhwebane móét dan getuig  

Die geskorste Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die parlement se artikel 194-komitee wat gelas is met die proses oor die moontlike verwydering van adv. Busisiwe Mkhwebane as Openbare Beskermer, het Mkhwebane se versoek om haar getuienis uit te stel, van die hand gewys.

Mkhwebane moet nou steeds op 15 Maart getuig. Haar regspan het skriftelik versoek dat haar getuienis tot 27 Maart uitgestel word.

Volgens Qubudile Dyantyi, komiteevoorsitter, het die komitee reeds ʼn uitstel vir die OB se beëdigde verklaring toegestaan en sal daar bykomende tyd toegelaat word vir die voorbereiding van die verklaring sonder om die datum vir haar verskyning te verskuif.

“Die komitee het daardie uitstel in ag geneem weens die getuienis van prof. Thuli Madonsela wat afgehandel moes word. Ons wil die bewyse teen 30 Maart finaliseer. Ons het reeds twee dae se uitstel toegestaan en ʼn verdere uitstel tot 14 Maart toegestaan om die beëdigde verklaring te verskaf.”

Ingevolge die riglyne waarbinne die komitee funksioneer, spesifiseer dit nie dat ʼn beëdigde verklaring die getuienis moet voorafgaan nie.

“Die komitee het verder ag geslaan op die brief wat hy van die OB se kantoor ontvang het oor die finansiële probleme waarin hy verkeer. Volgens die brief kan die OB weens finansiële beperkings slegs regskoste vir die OB betaal ten opsigte van die verhore tot die einde van die finansiële jaar, synde 31 Maart.”

Volgens Dyantyi is die komitee van mening dat hy nie die OB se kantoor verder onder druk kan plaas om onreëlmatige uitgawes aan te gaan nie. “Ons sal die einste mense wees om hulle hieroor te ondervra,” het Dyantyi bygevoeg.

Rakende die OB se versoek om verdere getuies te roep, het die komitee besluit dat hy in hierdie stadium verklarings van die getuies wat deur die OB se regspan voorsien is sal aanvaar en dan ʼn besluit sal neem oor die relevansie en noodsaaklikheid daarvan om mondelinge getuienis te versoek.

Die komitee het vroeër die dag gehoor dat niks in die wet Madonsela se beëdigde verklaring onwettig of ongeldig maak soos deur Mkhwebane se regspan beweer is nie.

Adv. Dali Mpofu, Mkhwebane se regsverteenwoordiger, het vroeër die week ure lank die wettigheid of geldigheid bevraagteken van die beëdigde verklaring van Madonsela wat op 28 Februarie aan die komitee verskaf is. Mpofu het onder meer die wettigheid van die verklaring in twyfel getrek aangesien elke bladsy nie geparafeer is nie. Madonsela het die komitee verwys na ʼn Wes-Kaapse hooggeregshofuitspraak waarin die hof bevind het dat dit ʼn praktyk is en nie ʼn wetlike vereiste vir die geldigheid van ʼn beëdigde verklaring nie.

Madonsela het tydens haar getuienis weer eens ontken dat sy ʼn voorlopige verslag in verband met die ondersoek na die Vrede-suiwelprojek uitgereik het, soos beweer is. Die kopie van die verslag wat tydens die sitting vertoon is, het haar besonderhede aan die einde van die verslag maar geen handtekening nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Sarel ·

Hoek word die saak solank uitgerek.en wat beloop die kostes

Danie ·

Geld mors, tyd mors,was die oefenlopie regtig die sous werd?Behalwe om Mpofo nog ryker te maak.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die kaders sorg vir mekaar. Volgende jaar verdedig Mpofo weer vir Ramaphosa. Almal maak geld en die belastingbetaler betaal die rekening.

Kobus ·

Speel vir tyd. Mpofu gaan dit uitrek tot Oktober wanneer haar termyn tot ‘n einde kom en dan sy met volle pensioen voordele rustig gaan aftree.

Shakespeare ·

Jaag die skepsel en somaar die hele ANC/EFF in die diepsee in. God slaap nie kaders. Hy ken julle boosheid en julle sal n duur prys betaal.

skurweberg ·

Wat moet nou nog gebeur, voordat die tegnologie
ook vir die howe moet besluit wie skuldig of bevoegd is of nie?. Julle mors die belastingbetalers se geld. Dit sal vinnig moet plaasvind. Suid Afrika beweeg vinnig na ‘n mislukte staat en derde wêreldse land waar geen normale mens wil belê of bly nie.

Koos 100 ·

Die ironie hier is dat dit nie ‘n hof is nie, maar ‘n parlementêre ondersoek. CR is die meerster om die ondersoeke te las, wetende dat hulle geen afdwingbare “vonisse” kan lewer nie. Al wat die ondersoeke doen is om tyd te koop en moontlike verdagtes in kriminele sake kans geen om voor te berei of te vlug.

skurweberg ·

Jy is reg,
Ek hoop net die Prof het die vuil taktiek wat hulle gebruik ontbloot

Erasmus ·

Wat ‘n skande na Tuli Madonsela. Sy wil net haar tyd uitdien sodat sy al die voordele kan kry.

tierwyfie ·

Waar het jy nou al ooit gehoor dat as jy afgedank word by jou werk kan jy vir jare die belastingbetalers se geld gebruik. Kry dit in jou kop. Jy is AFGEDANK. Stop hierdie geldmorsery ons land is reeds in chaos gedompel.

JohanR ·

Hoe lank gaan die geding nog in die parlement aangaan. Selfs die nag kom een of ander tyd tot ‘n einde! As sy tot October kan aanhou dan loop sy weg met al die lekker goed. Nog net 8 maande om te gaan. My gooiste die vrou was vrot vrot vrot en vrot verby!

Hennie ·

Ek begin alhoemeer in Bundu geregtigheid te glo, as ek sien hoe hierdie narre die howe gebruik en misbruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.