Mkhwebane moet werksaansoek by Staatsveiligheid vir DA wys

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: ANA)

Die Appèlhof het beslis die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, moet die dokumente oor haar werksaansoek by die Staatsveiligheidsagentskap beskikbaar stel.

Mkhwebane het ʼn regsgeding aanhangig gemaak nadat die DA-LP Glynnis Breytenbach in 2016 aangevoer het Mkhwebane is nie ʼn geskikte kandidaat vir die pos as OB nie.

Mkhwebane was in daardie stadium pas aangestel in die pos.

Breytenbach het onder meer aangevoer Mkhwebane was ʼn regeringspioen van die Staatsveiligheidsagentskap terwyl die departement van binnelandse sake haar in China ontplooi het.

Mkhwebane het aangevoer die stellings is lasterlik en maak inbreuk op haar integriteit en goeie naam. Sy het gesê dit berus nie op feite nie, het ʼn invloed op werk van die kantoor van die OB en het geëis dat die stellings teruggetrek word.

Die DA het geweier en Mkhwebane het ʼn hofaansoek ingedien om ʼn verklaring te bekom dat die stellings onwaar en lasterlik is en teruggetrek moet word.

Breytenbach, DA-lid Werner Horn en die DA as party het die aansoek teengestaan. Hulle het ook gevra vir toegang tot sewe dokumente, waarvan Mkhwebane vyf verskaf het. Haar weiering om die ander twee te verskaf het gelei tot nog ʼn saak in Junie 2018 in die hooggeregshof om haar te dwing om dit te doen.

Die twee dokumente was Mkhwebane se aansoek vir ʼn posisie as ontleder by die SSA, waarin verwys word in haar aanstellingsdokument, asook ʼn brief waarin sy die pos aanvaar. Die DA het aangevoer die dokumente hou regstreeks verband met die kwessie of Mkhwebane ʼn spioen was en of sy dus teen die stellings kon kapsie maak.

Die hooggeregshof het die aansoek dat haar indiensnemingsrekord by die SSA oorhandig word, in 2019 van die hand gewys.

Die Appèlhof het nou dié besluit omgekeer en sê die vraag was of die dokumente bewyswaarde het vir die DA om sy bewerings te verdedig en dat Mkhwebane se aansoek vir die pos van ontleder verband hou met die tyd wat sy ʼn verbintenis met die agentskap gehad het en in watter hoedanigheid.

Die Appèlhof het beveel Mkhwebane moet haar aansoek vir die pos as ontleder by die Staatsveiligheidsagentskap teen nie later nie as 1 April verskaf.

Natasha Mazzone, die DA se hoofsweep, het die uitspraak verwelkom en sê die DA vertrou dit gaan duidelikheid verskaf oor die aard van Mkhwebane se rol by die agentskap.

“Die DA sien uit daarna om Mkhwebane se SSA-werksaansoek te ontvang,” het sy gesê.

Intussen stem die parlement na verwagting Dinsdag oor die kwessie of daar begin moet word met die proses om Mkhwebane uit haar amp te verwyder.

Die onafhanklike paneel wat aangestel is om te besluit of daar meriete is in die pogings om Mkhwebane van haar amp te onthef, het sowat twee weke gelede sy verslag daaroor aan die parlement oorhandig. Daarin het hy bevind daar is inderdaad prima facie-bewyse dat Mkhwebane onbevoeg vir die pos is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks Adri

Integriteit en goeie naam gggmmmfff ek gaan my in ‘n ander bloedgroep in lag! Weet sy wat integriteit beteken ooit? Ag asb kom net by en mag jy nie bevorder word in die kabinet nie oe ee ee

Tjom

Proses vir begin van amp verwydering gaan langer vat as covid kudde inenting

Fedup

Hope we get to see that papers as well.
I for one look forward to it.
Integrity need to be learned to spelled first before you use that word, busisi.

Casper

Hoe in die lewe kry sy dit reg.Sy maak droog op groot skaal maar sy klou soos ‘n mossel aan ‘n klip.Sy het nou al haar appèle verloor en nog steeds sit sy.As dit ek was was ek lankal past tense.