Die parlement se art. 194-komitee wat belas is met die proses van Busisiwe Mkhwebane se moontlike verwydering as Openbare Beskermer (OB), het sy finale verslag aanvaar waarin aanbeveel word dat die Nasionale Vergadering (NV) Mkhwebane van haar amp onthef.
Die komitee het bevind Mkhwebane moet uit haar pos verwyder word op grond van onbevoegdheid en wangedrag soos vasgestel deur die getuienis voor die komitee.
Mkhwebane is tot 21 Augustus kans gegee om op die verslag te reageer, maar volgens Qubudile Dyantyi, komiteevoorsitter, het sy dit nie gedoen nie. Hy het gesê die komitee het wel Sondagaand korrespondensie van Motsoeneng Bill-prokureurs ontvang waarin hulle hulself as Mkhwebane se nuwe prokureurs voorgestel het. Hulle het aangedui dat hulle nie met haar vergader het om opdragte te neem nie, maar het terselfdertyd die proses onwettig en onbillik genoem.
“Hulle het ʼn paar weke versoek om hulself van die aangeleentheid te vergewis, maar het geen vaste verpligtinge in hierdie verband verskaf nie.”
Die komitee het weereens beklemtoon dat hy Mkhwebane in geen stadium geweier of verhinder het om regsverteenwoordiging te hê nie. Lede van die komitee het deur die loop van die verrigtinge die tallose geleenthede beklemtoon wat aan Mkhwebane gegee is om haar oënskynlike uitdagings met regsbystand aan te pak, asook die rol wat die komitee gespeel het om haar by te staan met kwessies wat verband hou met fondse en die betaling van haar regspan, hoewel hierdie aangeleenthede buite die mandaat van die komitee geval het.
Die komitee het beklemtoon dat hy “agteroor gebuig het” om Mkhwebane tydens hierdie proses in ag te neem en dat hy in die afwesigheid van enige skriftelike kommentaar van haar op die verslag, geen ander keuse gehad het as om sy finale verslag in ooreenstemming met sy grondwetlike verpligtinge te aanvaar nie. Die EFF en ATM het teen die aanvaarding van die verslag gestem en aangedui dat hulle die verslag op hersiening sal neem.
Volgens Dyantyi sal die verslag in ʼn finale formaat geplaas en aan die NV gestuur word vir aanneming.
Mkhwebane het vroeër vandeesmaand uitgevaar teen die komitee se konsepverslag en gesê daar is gedebatteer oor die verslag terwyl sy nuwe regsverteenwoordiging moes soek.
Mkhwebane het bevraagteken hoe sy veronderstel is om op die konsepverslag kommentaar te lewer terwyl sy steeds in die proses was om nuwe regsverteenwoordiging te bekom. Sy het die DA, ANC en Dyantyi daarvan beskuldig dat hulle saamsweer om ʼn voorafbepaalde uitkoms te bereik.
“Die hele proses is niks anders nie as ʼn bespotting van geregtigheid wat deurspek is met skreiende onwettighede.”
Sy het ook vroeër uitgevaar oor die spertye wat aan haar gegee is om vrae van die komitee te beantwoord. Volgens Mkhwebane was daar meer as duisend vrae waarop sy moes antwoord. “Daar word van my verwag om eiehandig ʼn dokument wat langer is as die Bybel in die bestek van ongeveer een week te produseer. Dit is pure absurditeit,” het Mkhwebane aangevoer.
Die art. 194-komitee is op 16 Maart 2021 gestig om ʼn grondwetlike ondersoek te doen na die OB se geskiktheid om die amp te beklee.
Die getuienis van tientalle getuies is tydens die ondersoek aangehoor oor die ondersoeke wat Mkhwebane in haar tyd as OB gedoen het, verslae wat op hersiening geneem is en die kultuur in die kantoor van die OB. Daar is miljoene rande vir Mkhwebane se regsverteenwoordiging tydens die verhoor opgedok.
Mkhwebane se sewejaar-termyn verstryk op 14 Oktober.
So waar tel sy haar golden handshake op?
Daar was al sedert 1994 nutteloses, maar die een wen eerste prys! Kan daai R10 miljoen nie vir kinderhuise en diere beskerm gegee word nie?
Hoe kry die vrou dit reg om jare later steeds nie weggejaag te wees nie? Die ondersoeke kom nou al hoe lank aan en sy lag steeds elke maand bank toe.
Ek glo nie dis so moeilik om die vrae te beantwoord nie ek dink eerder dis ‘n kwessie of jy dit wil beantwoord. Sovêr ek weet is jy ‘n sogenaamde regs geleerde dan het jy mos nie ‘n regsspan nodig om die vrae te beantwoord nie
Sy gaan nog lekker aftree. Die parlement moet met ‘n groot meerderheid stem om haar uit te kry.
Sy speel vir tyd en gaan einde Oktober met volle voordele en n vet staatspensioen aftree.
Top kader gehalte.
hoeveel jare , maande gaan julle nog sukkel om van haar ontslae te raak ?????????, die ontslag bevel is mos reeds lankal gedoen