Mkhwebane ‘vertraag’ aanstelling van adjunk-OB

Die geskorste Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die proses om ʼn adjunk- Openbare Beskermer aan te stel gaan van voor af begin.

Die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste het sy verslag met dié aanbeveling aanvaar nadat een van die voornemende deelnemers die proses onherstelbaar vertroebel het.

Die aanstellingsproses het tot stilstand geknars nadat ʼn regsmening gevind het die voormalige Openbare Beskermer (OB) en nou EFF-lid, Busiswe Mkhwebane, versuim het om botsende belange aan te meld.

Die komitee was op die punt om die posisie te vul toe dié inligting in ʼn verslag van die parlement se regsadviseur, Zingisa Zenani, aan die lig gekom het. Die komitee het gemeen Mkhwebane moes haar verbintenis met twee kandidate – Shadrack Tebeile en Ponatshego Mogaladi – bekend gemaak het.

Tebeile verteenwoordig Mkhwebane pro-bono in ʼn hofsaak oor haar vervolging – ʼn feit wat sy verswyg het.

Bulelani Magwanishe, voorsitter van die komitee, het gesê die aanbevelings volg op ʼn regsproses oor die kwessie of Mkhwebane haarself moes onttrek het omdat sy in ʼn tugverhoor opgetree het teen een kandidaat gedurende haar termyn as OB en geldelik voordeel getrek het uit ʼn ander.

Sy het Ponatshego Mogaladi, uitvoerende bestuurder in die kantoor van die OB, afgedank. Sy is gedwing om hom weer aan te stel nadat hy haar voor die arbeidshof gedaag het.

Mogaladi, wat ook aansoek doen vir die pos, is luidens ʼn verklaring van adv. Glynnis Breytenbach, DA-LP, blootgestel aan onregverdige arbeidspraktyke, waar sy onregverdig afgedank is, geviktimiseer en geteister is deur Mkhwebane.

Die Nasionale Vergadering se reëls vereis die openbaarmaking van LP’s oor enige konflik of vooroordeel en dat hulle hul in beduidende gevalle moet onttrek.

Die DA het gemeen die proses kan nie voortgaan nie. Die ANC-meerderheid in die portefeuljekomitee het geweier om die advies van die DA te aanvaar of ag te slaan op die waarskuwing dat om met die onderhoude voort te gaan, ʼn onregverdige proses sal veroorsaak.

Volgens die regsopinie wat gister aangehoor is, was daar ʼn redelike vrees vir partydigheid weens die botsende belange en indien Mkhwebane haarself nie onttrek het nie, dat die proses ʼn wetlike uitdaging kan raak.

Die komitee het egter met ʼn meerderheid besluit om voort te gaan terwyl ʼn regsmening ingewin is op grond van die DA se advies en besware. Die mening sal eers gelewer word nadat die onderhoude afgehandel is.

Die regsmening, wat Woensdag aangebied is, het bevind dat daar ʼn redelike vrees vir vooroordeel is as gevolg van die botsing van belange en het opgemerk die proses sal oop wees vir ʼn regsuitdaging sou Mkhwebane haarself nie onttrek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

The gift that keeps on giving and giving and giving and giving……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.