MKMVA sê Ramaphosa se presidensie is ‘onwettig’

Sibusiso Radebe, Nandi Rweqana en Keith Sogovu, lede van MKMVA se uitvoerende komitee (6 Februarie 2018) Foto: Getrude Makhafola/ANA

Terwyl die beleërde pres. Jacob Zuma poog om in die Uniegebou aan te bly voor die staatsrede, het sy ondersteuners aangevoer dat die huidige ANC-president Cyril Ramaphosa ʼn “onwettige leier” is.

In ʼn sterk bewoorde brief aan die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), het Umkhonto we Sizwe se veteranevereniging (MKMVA) Dinsdag Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy gefinansier word deur “magte wat teen die fundamentele doelwitte van die party gekant is”.

Die veterane het ook beweer Ramaphosa het probeer om Zuma te vergiftig.

“Ons is verras en geskok dat ʼn lid, wat eers in 1991 by die ANC aangesluit het, verhef is, met die ondersteuning van banke, groot ondernemings en wit beheerde media. Ons leiers in ballingskap het ons gewaarsku om versigtig te wees vir leiers wat uit niet uit sal verskyn en die beweging weg sal lei van sy doelwitte,” lui die brief.

Hulle baseer hul bewerings op die inhoud van Gayton McKenzie, leier van die Patriotiese Alliansie, se boek, Kill Zuma – By Any Means Necessary. McKenzie skryf in die boek dat Ramaphosa, ʼn voormalige leier van die vakbondfederasie Cosatu, oor die jare heen “beheer” word deur wit sakeleiers, om seker te maak dat hul belange bevorder word.

“Ramaphosa is hul skepping en gunsteling. Dit is voorwaar rede tot kommer en genoeg rede om ernstig sy lidmaatskap en leierskap van die ANC te bevraagteken. Hy is verskuldig aan wit monopoliekapitaal en hulle sal verseker op sy knoppie druk – as hulle dit nie reeds gedoen het nie, en hy is dit aan hulle verskuldig.”

Kebby Maphatsoe, leier van die MKMVA, is ook adjunkminister van die departement van verdediging en militêre veterane. Hy is ʼn vurige ondersteuner van Zuma.

Maphatsoe het homself Maandag egter van die mediakonferensie gedistansieer.

Die vier NUK-lede wat die media Dinsdag toegespreek het, het Maphatsoe daarvan beskuldig dat hy die MKMVA dadelik verlaat het ná Ramaphosa as die nuwe leier van die ANC verkies is. Hulle het gesê Maphatsoe het “sy deuntjie verander” nadat daar ooreengekom is dat hul brief aan die ANC, met die kritiek teen Ramaphosa, verlede maand by die NUK se agenda ingesluit moes word.

Sibusiso Radebe, lid van die MKMVA se uitvoerende komitee, het gesê die rede vir Maphatsoe se skielike ommekeer is moontlik omdat hy nie sy kabinetspos onder Ramaphosa wil verloor nie.

Maphatsoe het verlede jaar in Desember, tydens die ANC se verkiesingskonferensie, openlik Nkosazana Dlamini-Zuma, voormalige voorsitter van die Afrika-Unie-kommissie, ondersteun om by Zuma oor te neem.

“Ons almal weet Kebby het al gesê dat hy nie Ramaphosa ondersteun nie. Hy het self, nog voor die konferensie, gesê dat Ramaphosa nie kwalifiseer om die ANC te lei nie. Dit is dalk reg om te sê dat hy dit nou doen sodat hy sy werk kan behou. Dis interessant dat hy sy ommekeer gemaak het net nadat die uitslae van die konferensie bekend gemaak is,” het Radebe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann ·

Whahahhahaaaaa. Hoor hoe skree die Zumaikie magsbasis vir aandag noudat NUMBA ONE oppad is… hehehehe. BYE BYE!

Ben ·

Whahahahahahaha … Dieeeee gezzzzoooeeeemmmm van die bye …

Flip Pretorius ·

Ag NEE, nou is dit al weer die wittes se skuld dan Cyril as ANC leier gekies is. Kom ek help julle lot reg, die wittes het hom nie verkies nie, dit was n nie rassige party wat homself die ANC noem. Ai tog wanneer gaan die meerdergeid van die land begin man-up en self verantwoordelikheid vir hulle dade neem. Die dae van skouer optrek en se ek weet nie, is verby mense. Word groot asb en begin vir julle self sorg. Hou op om die witman vir alles te beskuldig. Kyk n slag na julle self. Dit is deur julle ANC lede dat n krimineel as President aangestel is, of is dit ook die witman se skuld. Wys julle is mooi groot en gooi die man op straat uit. Los vir Ciryl uit, hy het darm integriteit en is boonop n geleerde man. Hy sal heelwaarskynlik julle Tate Zuma se gemors kan opruim maar dan sal almal moet hande vat en Ciryl bystaan. So Ciryl begin sommer by die parlement en gooi die helfde uit wat in elk geval nie n clue het wat dit is om agter n lessenaar te sit en te werk nie.

Ben ·

Ja nee Flip, hierdie keer het Jan van Riebeeck seker sy skip te na aan die kaai geseil.. nou gaan hulle n kommissie aanstel wat ondersoek gaan instel of Jan dan n permit gehad het.

marous ·

Hulle behoort aan dieselfde party , maar hulle “party” nie saam nie. Boehoewhahaa!

andre ·

Maar selfde kwaliteit kundige…volgelinge as mugabe…verdedig n korupte leier en dan is jy ook korup…mckensie…wat hom so slim hou…hoekom was hy dan in die tronk…seker nie vir wysheid nie

Blits ·

Ek wil nou nie snaaks wees nie maar di lede van die sogenaamde uitvoerende komitee lyk heeltemal te jonk vir veterane of bedrieg my oë my?

Flip Pretorius ·

Blits jy is heeltemal reg. Hulle moet in hulle middle 50’s tot 70’s wees. Maar daar is n gerugte wat rondloop dat almal wat “claim” hulle is veterane, nog nooit n lid van MK was nie. Dit gaan maar weereens n klomp mense wat op die sous trein spring net vir die pensioen. Maar nou ja dit maar hulle worries ne

Casper Labuschagne ·

Wat nodig is vir Zuma om te oorleef, is dat die meerderheid ANC lede oortuig moet word dat ‘n Ramaphosa oorwinning gelykstaande aan ‘n wit oorwinning sal wees. Verwag om heelwat meer in hierdie trant oor die volgende dae en weke te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.