Mnandi weer teiken van grondgrype

‘n Sinkhuisie wat deur grondbesetters opgerig is. Foto ter illustrasie (Argieffoto)

Sowat 100 onwettige besetters het hulle sedert Vrydagaand tuisgemaak op ʼn onbeboude stuk grond in Mnandi, net buite Centurion.

Hoewel geen geweld nog uitgebreek het nie, is inwoners op hoë gereedheidsgrondslag en ʼn ontruimingsplan is gereed om in werking gestel te word.

Dr. Gail Pedra, adjunkvoorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, het aan Maroela Media gesê hulle is reeds twee dae tevore ingelig dat plakkers moontlik hier gaan toeslaan en het dus reeds reëlings begin tref om kwesbare inwoners te verwyder, indien nodig.

Besetters het Vrydagaand toegeslaan en die aanvanklike 30 plakkershutte het teen Saterdagoggend tot 100 toegeneem.

“Die grond wat beset is, word besit deur privaat eienaars en hulle is reeds besig om interdikte teen die plakkers te verkry,” sê Pedra. Teen Saterdagmiddag was die situasie kalm en Pedra sê daar is geen sprake van aggressie of geweld nie. “Ons het inwoners wel gevra om so ver moontlik weg van die gebied te bly en het patrollies wat in en om die woonbuurt patrolleer.”

Sy sê hulle het geen benul wie die groep grondgrypers is nie, maar dit is wel dieselfde grondgebied wat ʼn paar jaar gelede óók beset is.

Die polisie in Gauteng het nog nie op navrae gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.