Mnangagwa stel tydelike kabinet aan

Emmerson Mnangagwa (Foto: ANA)

Emmerson Mnangagwa, die nuwe Zimbabwiese president, het Maandag ʼn interim kabinet wat uit twee lede bestaan aangestel om “voorsiening te maak vir ononderbroke dienste in kritieke regeringsdepartemente”.

Misheck Sibanda, hoofsekretaris van die president, het Maandag in ʼn verklaring gesê in terme van die Zimbabwiese grondwet het Mnangagwa met sy aanstelling as president die kabinet ontbind en is hy tans besig om ʼn nuwe groep kabinetsministers saam te stel.

Die verklaring lui verder dat Mnangagwa egter besluit het om in die interim twee ministers in waarnemende hoedanigheid aan te stel totdat die nuwe kabinet aangekondig word. Patrick Chinamasa is as die waarnemende minister van finansies en ekonomiese ontwikkeling aangestel en Simbarashe Mumbengegwi as waarnemende minister van buitelandse sake.

Sibanda het gesê Mnangagwa sal Dinsdagmiddag met alle permanente sekretarisse by die Munhumutapa-kantoor vergader en al die permanente sekretarisse is verplig om die vergadering by te woon.

Mnangagwa is Vrydag as Zimbabwe se nuwe interim president ingesweer drie dae nadat sy voorganger, Robert Mugabe, ná 37 jaar as staatshoof bedank het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Grassie ·

Ek hoop die nuwe besem vee skoon, maar ‘n mens moet hom maar dophou. Hy was betrokke toe Mugabe se weermag talle Matabeles uitgeroei het. ‘n Jakkals verander van hare maar nie sommer van streke nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.