‘Mnr. X’ soek beskerming vir getuienis oor Myeni, Zuma

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-raad. Foto: ANA

ʼn Getuie by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping vrees vir sy lewe en het die kommissie vir getuiebeskerming gevra.

Die getuie, wat as mnr. X bekend staan, getuig van ʼn geheime bestemming en in camera teen oudpres. Jacob Zuma en Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-direksie.

Adv. Kate Hofmeyr, getuienisleier van die kommissie, het gesê mnr. X het nie regsverteenwoordiging nie en dat hy die kommissie Saterdag gekontak het. Volgens Hofmeyr vrees mnr. X om verskeie redes vir sy lewe vanweë inligting wat hy aan die kommissie sal verskaf.

Volgens Hofmeyr is mnr. X se dogter deur Myeni gebel en gedreig. Myeni het glo aan die dogter gesê dat haar pa haar [Myeni] verraai het.

Mnr. X sal getuig oor betalings wat glo in opdrag van Myeni aan die Jacob Zuma-stigting gedoen is deur ʼn maatskappy wat deur Myeni se seun, Thalente, bestuur word.

Thalente Myeni het Maandag getuig dat hy nie die rede kan onthou vir ʼn betaling van R2 miljoen aan sy firma vanaf VNA Consulting nie.

Hy het gesê die betaling is seker vir konsultasiewerk wat aan sy maatskappy gesubkontrakteer was om vir VNA te doen. Hy het egter gesê dit was jare gelede en dat hy nie ʼn faktuur of ander dokumentasie gehou het wat die transaksie verduidelik nie.

Hofmeyr het behoorlik onder Myeni ingeklim oor ʼn R3 miljoen-betaling wat deur sy maatskappy, Premier Attractions, aan ʼn konstruksiemaatskappy, Isibonelo Construction, gedoen is. Daar is drie afsonderlike betalings tussen Oktober 2015 en Februarie 2016 gedoen.

Myeni het volgehou die betalings was deel van ʼn saketransaksie en dat daar niks verdag daaraan is nie.

Hofmeyr het aan die kommissie gesê dat mnr. X Myeni se weergawe van die gebeure sal weerlê en sal getuig dat hy instruksies van Dudu Myeni gekry het om geld oor te plaas en dat van die geld glo na die Jacob Zuma-stigting gegaan het.

Dié werknemer van die SAL het vroeër vanjaar getuig dat Myeni toe sy as voorsitter gedien het, Zuma se naam gebruik het om te verseker dat haar opdragte uitgevoer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
HOOP

Dit is dan vanselfsprekend dat die DUDU nou weet wie MR.X is aangesien hulle bekend gemaak het sy dogter is gebel en gedreig . Dit is mos net n kwessie van tyd dat hy genoem gaan wees , stilbly van enige dreigemente ens. sou seker n beter opsie gewees het as jy Mr. X wou gebly het , of sit ek die pot mis.

Nie Verbaas

Die blatante arrogansie bly verbasend. Het hulle werklik geglo dat hulle geregtig was om fondse net vir eie gewin aan te wend en onbepaald daarmee weg te kom of is dit net bloot onnosel? Dan nog onverstaanbare wanbestuur van entiteite ook.

Marie

Beteken dit dat Mr.X haar seun is: “Mnr. X sal getuig oor betalings wat glo in opdrag van sy ma (Dudu Myeni) aan die Jacob Zuma-stigting gedoen is deur ʼn maatskappy wat deur Myeni se seun, Thalente, bestuur word”

Riaan

Dit is duidelik dat hierdie berig nie nagegaan is… Mr X is duidelik Dudu Myeni se seun Thalente. Ai, ai ai, Ik beslis onderstandaard