Mobiele klaskamers vir KZN-skole

Die vloede het verwoesting in KwaZulu-Natal veroorsaak (Foto: Phill Magakoe, AFP)

Die KwaZulu-Natalse departement van onderwys beplan om 98 mobiele klaskamers as ’n tussentydse maatreël op te rig sodat onderrig kan voortgaan in skole wat deur die vloedramp geraak is.

Die departement het Sondag bevestig altesaam 630 skole in die provinsie is deur die vloede geraak, waarvan 124 ernstig beskadig is. Daar is nog 72 skole wat nog nie vir leerders of onderwysers toeganklik is nie.

Die departement het ’n plan van aksie in werking gestel om leerders en onderwysers wat deur die vloede geraak is, te help. Dit sluit in omvattende dienste om leerders te help om skoolwerk in te haal en onderwysers om van digitale tegnologie gebruik te maak as onderrigmedium.

Volgens die departement word die leer- en onderrig-ondersteuningsmateriaal in al die geraakte skole ook geprioritiseer.

“Ons het altesaam 268 leerders geïdentifiseer wat leer- en onderrig-ondersteuningsmateriaal benodig nadat dit in die oorstromings vernietig is,” het die departement gesê.

Die departement is in samewerking met die departement van sosiale ontwikkeling besig om berading vir die leerders en onderwysers te reël wat deur die vloede geraak is.

“Enige ramp, soos die vloede, het ’n enorme impak op alle sfere van die lewe, ook sielkundig, sosiaal en opvoedkundig.”

Verder is die vervoer van leerders in 34 skole ook beïnvloed weens die vloede. Altesaam 39 skoolbusse en 18 minibustaxi’s kon nog nie weer ry nie weens verskeie redes, waaronder beskadigde paaie.

“Ons verwag dat die meeste voertuie weer in bedryf sal kom soos herstelwerk vorder. Daar is reeds van die voertuie wat van alternatiewe roetes gebruik maak.”

Kos word ook voorsien aan leerders wat erg deur die vloede geraak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.