Modack aangekla van moord op Kinnear

Argieffoto van Nafiz Modack (Foto: Noor Slamdien/African News Agency/ANA)

Nafiz Modack, ʼn vermeende sleutelfiguur in die Kaapse onderwêreld, en sy medebeskuldigde, Ricardo Morgan, is Vrydag amptelik aangekla van die moord op lt.kol. Charl Kinnear.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê in ’n verklaring Modack en Morgan is ná Zane Kilian (39) se inhegtenisneming met die moord verbind.

Al drie staan nou tereg vir die moord op Kinnear (52), bevelvoerder van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid. Kinnear is op 18 September koelbloedig in sy motor voor sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet.

Maroela Media het vroeër berig Modack word ook vervolg vir die gefnuikte handgranaataanval op Kinnear en sy gesin in 2019.

Modack staan ook tereg op aanklag van korrupsie. Dié berugte onderwêreldbaas wou na bewering ’n polisiebeampte verbonde aan die polisie se teenbende-eenheid betaal vir inligting oor die polisie se ondersoek na hom.

Lt.genl. Tebello Mosikili, hoof van die Valke, sê in die verklaring hy hoop van harte dat Modack en Morgan se inhegtenisnemings vertroosting sal bring. “Dit bring ons ʼn stap nader aan berusting.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Genis ·

Soek verder, julle sal “top cops”, met selfgemaakte range ook arresteer…

Hennie J ·

Vanaf die dag van Killian se arrestasie het ek die mening gelug dat hy nie die moordenaar is nie maar wel die scapegoat en dat iemand beskerm word.
#Genis, ek glo jou kommentaar is in die kol!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.