Modack, familielede van miljoene se bedrog verkla

Argieffoto van Nafiz Modack (Foto: Noor Slamdien/African News Agency/ANA)

Nafiz Modack, ’n vermeende sleutelfiguur in die Kaapse onderwêreld wat reeds deur verskeie ernstige aanklagte in die gesig gestaar word, word nou ook van bedrog ten bedrae van R46 miljoen aangekla.

Modack word dié keer saam met onder meer sy ma, Ruwaida, en jonger broer, Yaseen, aangekla.

Die Modacks het Woensdag saam met vyf ander verdagtes, onder wie ’n beampte van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), in die Kaapstadse landdroshof verskyn op aanklagte van rampokkery, bedrog, geldwassery, die vervalsing en uitgee van vervalste dokumente, sowel as die oortreding van die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW).

Dié rits aanklagte spruit uit ’n wenk wat die SAID se kriminele ondersoekeenheid vroeër ontvang het oor belastinggeld wat onregmatig teruggeëis is. Dit word beweer dat 25 korporatiewe entiteite, wat vir BTW geregistreer is, glo valse eise ingedien het om BTW onregmatig te kon terugeis.

Die fondse is dan vinnig na verskeie ander bankrekeninge oorgeplaas in ’n poging om dit te verberg.

Die ondersoek het bevind dat die SAID meer as R46 miljoen aan die vermeende bedrieërs uitbetaal het, na gelang van die bedrieglike eise. Sommige van dié eise is wel nie toegestaan nie.

Sou alle eise toegestaan gewees het, sou die SAID se verlies ’n stewige R219 miljoen gewees het.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die meeste van die verdagtes is Woensdag kort voor die verskyning in hegtenis geneem.

Modack is egter by die Blue Downs-streekhof aangekeer terwyl hy aansoek om borgtog gedoen het in die moordsaak van lt.kol. Charl Kinnear, bevelvoerder van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid.

Ntabazalila sê Modack se ma en jonger broer is gister op borgtog van R50 000 elk vrygelaat, terwyl borgtog van R25 000 aan hul medebeskuldigde, Bashier Syce, toegestaan is. Nog ’n beskuldigde, Nadia Said, is op borgtog van R20 000 vrygelaat, terwyl borgtog van R10 000 aan die beskuldigdes Dominique McLachlan and Kulsum van der Schyff toegestaan is.

Die SAID-beampte Faried van der Schyff en Modack bly egter in aanhouding.

Van der Schyff sal na verwagting volgende week aansoek om borgtog doen, terwyl Modack nog nie aangedui het of hy aansoek om borgtog gaan doen nie. Die staat sal borgtog teenstaan sou hy besluit om aansoek om borgtog te doen, sê Ntabazalila.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

JIP, kriminele regeer en floreer in die land. Intussen is die korrupte ANC Kaders self so besig met korrupsie dat hulle dit als miskyk.

Shakespeare ·

Hoe lank gaan dit ons regstelsel vat om Modack n gewetenlose krimineel in die tronk te kry? ‘n Jaar, 3 jaar, 5 jaar ?

JM ·

Waarom is Modack nie al lankal toegesluit nie? Wat gaan aan met die regstelsel?

Eiervrug ·

Hy lyk effe bekommerd as ek so na sy koeëlvaste baadjie onder sy hemp kyk…. Ek slaap liewer lekker in die aand met min geld in die bank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.