Modack met nóg ’n moord verbind

Argieffoto van Nafiz Modack (Foto: Noor Slamdien/African News Agency/ANA)

Die lys van ernstige aanklagte teen die vermeende Kaapse onderwêreld-sleutelfiguur Nafiz Modack word ál langer.

Modack het Donderdag weer in die beskuldigdebank verskyn. Dié keer op minstens twee nuwe aanklagte: sameswering om moord te pleeg en moord. Dié nuwe aanklagte hou verband met ’n aanslag op die lewe van die vermeende onderwêreldfiguur Andre Naude én die moord op Richard Joseph, ’n werknemer van die  insleepdiens CF Towing Services.

Joseph is op 20 September 2019 in sy geparkeerde insleepvoertuig tereggestel. Joseph is destyds sewe keer geskiet voordat sy moordenaar te voet op die vlug geslaan het.

Die moordenaar is intussen geïdentifiseer as Abongile Nqodi, wat onlangs ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het en 20 jaar tronkstraf opgelê is. Nqodi voer aan hy is destyds deur Modack en Ziyaad Poole aangesê om die aanval op Joseph uit te voer.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, sê Modack en Poole “wat albei tans in die tronk is vir ’n magdom ander misdade”, is vandag formeel van die moord op Joseph aangekla.

Die Valke het ook gister lasbriewe vir Modack en Poole, asook Riyaad Gesant en Zane Killian se inhegtenisneming uitgereik in verband met die aanslag op Naude se lewe.

Verskeie skote is op 6 September 2019 op Naude se huis in Belville afgevuur.

Modack en sy medebeskuldigdes sal weer op 1 Julie in dié betrokke saak in die Bellville-landdroshof verskyn. Hulle bly in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig Modack het net Woensdag saam met vyf ander mense, onder wie Poole en Gesant, in die Atlantis-landdroshof verskyn in verband met die moord op ’n oud-Valke-lid se pa.

Die 74-jarige Nicholaas Heerschap is in Julie 2019 in Melkbosstrand doodgeskiet terwyl hy uit die oprit van sy woning, wat hy met sy seun gedeel het, gery het.

Die verdagtes het glo destyds die slagoffer se seun Nico, toe ʼn speurder-adjudantoffisier verbonde aan die Valke, geteiken oor ’n saak wat hy ondersoek het, maar verkeerdelik vir Heerschap doodgeskiet.

Modack word dan ook aangekla van die opspraakwekkende moord op lt.kol. Charl Kinnear, bevelvoerder van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid. Kinnear is op 18 September 2020 koelbloedig in sy motor voor sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet.

Modack word ook vervolg vir die gefnuikte handgranaataanval op Kinnear en sy gesin in 2019, asook bedrog ten bedrae van R46 miljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Swerwer ·

Alles goed en wel, maar nou gaan Modack sy skrikbewind uit die gevangnis bestuur.

Cherokee ·

Nelson Mandela het umkhoto we sizwe uit ‘n gevangenis bestuur.

Shakespeare ·

Bendeleiers wat duidelik skuldig is (almal is) moet GEHANG word anders sal jy NOOIT van bendes ontslae raak nie.

JohanR ·

Daar is maar net party mense wat in ‘n rioolplaas gebore is, en hulle hele lewens in die riool spandeer! Hoe beskryf mens die ou – ignorant and arrogant!

lollapot ·

Dat EEN santan soveel mag het gaan my verstand te bowe…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.