Modack nou ook aangekla van Kinnear-aanval

Argieffoto van Nafiz Modack (Foto: Noor Slamdien/African News Agency/ANA)

Nafiz Modack, ʼn vermeende sleutelfiguur in die Kaapse onderwêreld, het Dinsdag weer in ’n hof verskyn – dié keer in die Bishop Lavis-landdroshof op onder meer aanklagte van sameswering om moord te pleeg en poging tot moord.

Dié aanklagte hou verband met ’n aanval op wyle lt.kol. Charl Kinnear en sy gesin in 2019.

Modack word saam met Janick Adonis and Amaal Jantjies daarvan beskuldig dat hulle in November 2019 saamgesweer het om Charl, sy vrou Nicolette, die egpaar se kinders Carlisle en Casleigh sowel as sers. Grant David Oakes en sers. Mfuneko Sizani te vermoor.

’n Handgranaat moes glo destyds na die Kinnears se huis in Bishop Lavis gegooi word. Oakes en Sizani het vermoedelik wag gehou oor die gesin ten tyde van die voorval.

Maroela Media het vroeër berig Faeez Smith is egter destyds in hegtenis geneem nadat hy glo buite Kinnear se huis met die handgranaat in sy besit betrap is.

Die huis van lt.kol Charl Kinnear in Kaapstad tydens polisiebewaking. (Foto: Verskaf)

Modack en sy medebeskuldigdes staan in dié saak tereg op vyf aanklagte van sameswering om moord te pleeg, poging tot moord, sameswering om springstof te bekom sowel as sameswering om springstof in hul besit of onder hul beheer te hê.

Modack word intussen ook van korrupsie aangekla.

Modack word in dié saak daarvan beskuldig dat hy Ashley Tabischer, ’n polisiebeampte verbonde aan die polisie se teenbende-eenheid, wou betaal vir inligting oor die polisie se ondersoek na hom. Tabischer is Modack se medebeskuldigde in dié saak.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, sê die twee onderskeie sake is tot volgende week uitgestel.

Maroela Media het vroeër berig Modack het die afgelope Maandag vir die eerste keer in die hof verskyn op verskeie aanklagte waaronder ontvoering, onwettige nasporing en poging tot moord. Genl. Bheki Cele, minister van polisie, was daar om Modack se eerste hofverskyning in die landdroshof in Kaapstad te aanskou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marius ·

Onaantasbaar want sy pelle in die hoogste gestoeltes skerm vir hom .

Ferryman ·

Daar was ‘n paar jaar terug koerant berigte dat Zuma na bewering ‘n ontmoeting sou gehad het die bendeleiers in die Kaap waarin hulle Zuma beloof het om te help met geweld en hom aan bewind te hou. Zuma sou in ruil die Polisie en SARS van hulle af weghou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.