Model gaan nie wiskunde red nie, sê Fedsas

Argieffoto

Argieffoto

Fedsas meen die departement van basiese onderwys se “1+4-model” wat die vaardighede van wiskunde-onderwysers in hoërskole wil verbeter, gaan waarskynlik die teenoorgestelde uitwerking hê.

Dié plan is vandeesweek deur die Angie Motshekga, minister van die departement van basiese onderwys, aangekondig as deel van wat beskryf word as ’n “radikale benadering tot die verbetering van die gebrekkige vaardighede van wiskunde-onderwysers”. Ingevolge die 1+4-model sal wiskunde-onderwysers elke Maandag opleiding ontvang en moet dan vir die oorblywende vier dae van die skoolweek hul wiskunde-onderrig afhandel.

“Hoewel ons waardering het vir die departement se erkenning van die probleem, is 1+4 in hierdie geval nie gelyk aan vyf nie,” het Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), gesê. “Klastyd is reeds beperk. Om vir 23 dae van die skooljaar nie in die klas te wees nie, gaan ’n ingrypende invloed op byvoorbeeld matrieks hê, wie se skooljaar korter is as ander leerders s’n.”

Volgens Colditz verskuif die departement met hierdie stap een van sy eie verpligtinge – opleiding van onderwysers – na skole. “Onderwysers word by skole aangestel op grond van daardie skool se postevoorsiening. Die onderwyser se plig is teenoor die skool.”

Hy het bygevoeg die departement se voorstel dat skole roosters aanpas om die verlore tyd op te maak, veroorsaak soveel bykomende logistieke probleme dat daar waarskynlik nou vir ander vakke ook klastyd in die slag gaan bly.

“Van ons lidskole het aangedui dat talle van die onderwysers boonop reeds nie vir die eerste dag van opleiding opgedaag het nie. Bykomend weet Fedsas reeds van een bevestigde geval by ’n skooldistrik in Noordwes waar die persone verantwoordelik vir die opleiding ook nie opgedaag het nie,” het hy gesê. “Indien so ’n ‘radikale’ benadering voorgestel word, moet daar tog sekerlik uiters streng monitering wees van bywoning, asook metodes om vordering te assesseer. Andersins gaan dit bloot gereelde langnaweke vir derduisende onderwysers beteken.”

Fedsas stel voor dat die probleem reeds op grondslagfase aangespreek moet word. “Wiskunde-onderrig is deurgaans ’n probleem, nie slegs by hoërskole nie. Opleiding moet na-ure, oor naweke en gedurende vakansies geskied. Hierdie stap bewys dat distrikkantore afgeskaf kan word. Indien die amptenare wat veronderstel is om die hulp te verleen nie hul werk kan doen nie, kan daardie poste net sowel aan skole toegewys word.”

Die organisasie doen ook ’n beroep op ouers om van hulle te laat hoor indien hulle kinders sonder opvoeders in die klas is. “Skoolgemeenskappe moet opstaan vir hul kinders se regte. Kinders se belange moet eerste gestel word. Dit sluit in vyf volledige skooldae per week waartydens onderrig van leerders in klaskamers plaasvind.”

Fedsas se boodskap aan sy lidskole is dat geen skoolhulpbronne vir die 1+4-model beskikbaar gestel moet word nie. “Lokale, voertuie, brandstof – alles is daar vir die onderrig van kinders. Skole en skoolbeheerliggame moet ook nie toelaat dat die departement en sy amptenare hulle intimideer nie. Fedsas sal soos altyd uit sy pad gaan om die belange van sy lede en daarmee die belange van die kinders te beskerm,” het Colditz gesê. “Fedsas eis dat die praktyk onmiddellik gestaak word en dat dit sonder verwyl aan skole gekommunikeer word. Elke dag wat verlore gaan, is ’n dag wat nie weer ingehaal kan word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Flooi ·

Ek is duidelik onder ‘n wanindruk aangaande ons onderwys stelsel. My moeder het vir baie jare skool gegee. In daardie tyd het jy vakke en klasse aangebied slegs as jy REEDS gekwalifiseerd was om dit te doen. Hoekom dan mense aanstel om vakke aan te bied en dan moet hulle ekstra klasse bywoon? Moet jy nie reeds ‘n kenner wees op daardie vak gebied nie?

Marius ·

Die probleem in ons onderwys is baie meer kompleks as wat gedink word. Daar is die besluitnemers, die wat met sulke kwaliteit besluite vorendag kom soos die 1+4 snert. Daar is die universiteite wat sg. onderwysgrade uitrol teen ‘n geweldige spoed, wat geen in-diepte kennis van ‘n vakgebied aanbied nie. Dan is daar die skole wat swak opgeleide (half-opgeleides, nog-nie-klaar-gemaaktes) in klasse aanstel. En dan is daar die feit dat enigiemand ‘n onderwyser kan word. Daar is geen keuring of respek vir kategoriee soos integriteit, eerlikheid, hardwerkendheid, en… selfs persoonlikheid nie. Al hierdie kategoriee is wat mee werk om ‘n suksesvolle onderrig aanbieding te gee … en dus ‘n gesonde en lewensvatbare onderwys daar te stel. Dis nie net ‘n probleem wat met ‘n sg. ‘quick fix’reggestel gaan word nie.

Tammy ·

Ja, net weer een van die swak besluite van die regering af. Het hulle gedink ons onderwysers is uit die straat geneem om te kom klasse aanbied. Weet die vrou wat hierdie besluit geneem het wat in ons skole gebeur. Die kinders het geen maar geen maniere nie. Jy staan in die klas en vra om asseblief alleen te praat maar hulle sit en lag en is doenig met selfone……stuur vir mekaar boodskappe, Ag nee wat die vrou het die kat nie aan die stert beet nie,maar hierdie keer onder die stert! ANGIE moet dalk self eers skool toe gaan voor sy blindelings na strooihalms begin gryp. Sy het ook al n paar flaters begaan Siestog! Wiskunde is die stiefkind van alle vakke en tot die onderwysers weer die reg het tot dissipline en behoorlike straf vir leerders sal niks verbeter nie. Hoekom word druipelinge in elke geval bevorder na die volgende graad? Dit is ook deel van die swak prestasie in wiskunde want die meeste kinders het in graad vier laas regtig wiskunde geslaag. Nee Angie, dit gaan nie werk nie, pas weer die basiese beginsels toe dan sal die wereld ook ons kwalifikasies respekteer.

J.Z ·

Iemand moet tog vir Angie Motshekga na skool vat en haar n les gee dat as n mens persone aan stel wat die kwalifikasie het jy nie probleeme kry nie,stel mense aan net oor dit polities aanvaarbaar is en hulle later wil leer om die werk te doen stuur jy op n ramp af. BEGIN BY DIE ONDERWYS INRIGING WAT GESLUIT IS EN LY ONDERWYSER OP EN STEL MENSE AAN WAT DIE KWALIFIKASIES HET, DIT IS SO MAKLIK.!

Asjas ·

Ek wou nog altyd ‘n Dokter wees, dit lyk lekker. Hier is nou my kans, stel my solank aan, ek sal Maandae gaan klas loop .
Ek kan solank operasies doen en dan kan Angie Maandae vir my vertel wat dit is wat ek uitgehaal het …

Paplepel ·

As jy kyk na die toestand in alle staatsektore lyk dit of hulle dit al jare doen…

Lindie Lourens ·

Ek het ook al gewonder of my opleiding as grondslagfase-opvoeder nie ‘n klug was nie. Waarom opleiding as enigeen die werk kan doen? ‘n Seniorfase juffrou onderrig nou my graad 1-klas. Sal graag wil weet hoe sy dit regkry. Die graad 2/3-klas word onderrig deur ‘n persoon wat opvoedkunde en sielkunde studeer het.
Die opgeleide personeel werk hulle stokflou!

Asjas ·

Ek het onlangs tot my skok gehoor dat nie al die ondewysers by skole deesdae gekwalifiseer is nie. Tipe van ‘n indiens opleiding omdat daar ‘n tekort aan onderwysers is. Met displine wat dit deesdae in skole is, is ek ook nie verbaas dat daar ‘n tekort is aan mense wat nog wil onderwys gee nie.

Lindie Lourens ·

Asjas, jy slaan die spyker op sy kop! Die “tekort” aan onderwysers kom agv baantjies vir boeties en daarmee saam dan die onopgeleides wat oorneem.
Dis ook een rede waarom ons onderwys lyk soos dit lyk. Opgeleides word weer opgelei en onopgeleides weet by opleidingsessies nie waarvan gepraat word nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.