Modelbaas hoor in November sy lot in verkragtingsaak

Dawie de Villiers in die hof Foto: ANA

Dawie de Villiers in die hof Foto: ANA

Die slotbetoë in die verhoor van Dawie de Villiers, die Johannesburgse modelbaas wat tereg staan op verskeie aanklagte wat verkragting, seksuele aanranding en die besit van kinderpornografie insluit, is Woensdag in die stad se hooggeregshof gelewer.

Die regter het die saak tot 30 November uitgestel wanneer uitspraak gelewer sal word.

De Villiers, stigterslid van Modelling South Africa, staan tereg op aanklag van verkragting, seksuele aanranding, onsedelike aanranding, die besit van kinderpornografie, bedrog en diefstal. Die aanklagte dateer uit 2010.

Hy staan ook tereg op ʼn aanklag van intimidasie ná ʼn e-pos waarin hy gesê het hy sal sy klaagster doodmaak. Jacques Pienaar, vir De Villiers, het gesê die woorde in die e-posgesprek tussen sy kliënt en Yolande Smit, met wie die beskuldigde ses jaar lank in ʼn verhouding was, was bloot ʼn “woede-reaksie op die bewerings van seksuele aanranding wat een van die voornemende modelle gemaak het”.

De Villiers het in die e-pos gesê hy sal een van die meisies vermoor wat hom van seksuele aanranding beskuldig het.

Pienaar het Smit na die getuiebank geroep om die bewering te staaf dat die inhoud van die e-pos niks meer was as iemand wat uit woede gepraat het nie. Smit het gesê De Villiers het slegs gesê hy sal sy klaagster doodmaak, omdat hy kwaad was dat sy die meisie gekontak het en dat sy gesê het hy het homself op haar gedwing.

“Hy het nie bedoel hy sal dit fisies doen nie,” het Smit getuig.

Sy het gesê sy kan nie onthou of sy die e-pos na die meisie aangestuur het oor wie hulle in die e-pos gepraat het nie.

Die staat het Dinsdag gesê daar is genoeg bewyse om die voormalige modelagentskapbaas skuldig te bevind gegewe die getal mense wat teen hom getuig het.

De Villiers ontken al die bewerings en hou vol sy klaagsters sweer saam teen hom.

Regter Cassim Moosa het ná die staat en verdediging se slotbetoë die saak tot November uitgestel waar hy sy uitspraak sal lewer.

Lees alle vorige berigte oor Dawie de Villiers op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria van Dieweeck ·

Ja en die staat sweer ook saam oor jou kinderpornografie ne? Pedofiele = onrehabiliteerbaar!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.