Modelbaas ontken hy gee vrou pille

Dawie de Villiers in die hof. Foto: ANA

Dawie de Villiers in die hof. Foto: ANA

Die Johannesburgse modelbaas, Dawie de Villiers, het Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg getuig die vrou, wat beweer hy het haar verkrag, het hom gevra om vir haar pille te koop wat ‘n swangerskap kan verhoed, nadat sy met haar kêrel seks gehad het.

Die vrou, wat nou 22 jaar oud is, het vroeër in die hof getuig De Villiers het haar pille aangebied wat swangerskap kan verhoed nadat hy haar in 2010 in sy studio verkrag het.

De Villiers het dit ontken en gesê die vrou het hom genader en gesê sy het ʼn persoonlike versoek. “Sy het gesê sy het by haar kêrel geslaap en die kondoom het gebreek. Sy het gesê sy kan dalk swanger wees en gevra ek moet vir haar pille koop om swangerskap te verhoed,” het hy gesê. Hy het getuig hy het vir die vrou gesê dit is nie sy plig nie en hy kan nie deel wees van haar persoonlike lewe nie.

Volgens De Villiers het die vrou vir die hof gelieg toe sy beweer het sy en De Villiers het voorheen seks gehad voordat hy haar glo verkrag het. Hy het ook ontken hy het ooit ʼn fotosessie saam met die vrou gedoen waarin sy in haar swembroek poseer het of dat hy ooit alleen saam met haar by haar ouers se huis was.

De Villiers het ook selfoonboodskappe aan die hof voorgelees om te bewys die vrou is oortuig om in die hof te lieg.

Hy het onder kruisverhoor gesê hy het met die vrou en haar ma vergader voordat sy met modelklasse by hom begin het en hulle het oor ʼn fooi ooreengekom. Die vrou het glo vooraf vir die registrasie en die eerste maand se klasse betaal, maar het daarna glo gereeld agtergeraak met betalings. Hy het gesê hy het aangehou om vir die vrou klasse aan te bied sonder betaling, omdat hy geglo het haar ma sou hom een of ander tyd betaal.

Die vrou het vroeër aan die hof gesê De Villiers het haar geborg om ʼn model-oefenkamp by te woon, maar hy het Dinsdag aan die hof gesê die oefenkamp is deur die lodge geborg waar dit gehou is.

De Villiers staan tereg op aanklagte van verkragting, seksuele aanranding, intimidasie, bedrog en die besit van die kinderpornografie.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Weskaper ·

Ek weet nie vir wie om te glo nie, die vrou se stories klink ook maar soos ‘n rot. Ek weet nie hoekom moet die vrou se woord altyd bo die van die man geglo word nie. Albei geslagte kan die skuldige wees, afhangend van die omstandighede.

Patsy ·

Dit klink eerder vir my asof die ma en dogter finansiële probleme het en nou hierdie modelbaas die sondebok te maak. Sal die saak mooi dophou en kyk wat dop hier uit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.