Modelbaas-pornosaak: Hy vra meisie glo om te trou

Dawie de Villiers in die hof. Foto: ANA

Dawie de Villiers in die hof. Foto: ANA

ʼn Vrou het Woensdag in die verhoor van die modelbaas Dawie de Villiers getuig hy het haar gevra om te trou, maar haar ma het gesê het sy is te jonk.

“Hy het na my ma se huis toe gekom en ons het saam geëet. Hy het vir my ma gesê hy wil met my trou, maar sy het gesê ek is te jonk. Hy het nogtans daarop aangedring,” het die vrou getuig. “Ek het vir hom ʼn briefie gegee met ons name op en dit geteken en vir hom gesê dit is die naaste wat ons aan ʼn huweliksertifikaat sal kom.”

Volgens die vrou, wat toe 16 jaar oud was, was De Villiers se huweliksaanbod nie ʼn grap nie, maar die briefie wel. Jacques Pienaar, De Villiers se regsverteenwoordiger, het egter aan die vrou gesê die huweliksaanbod was ʼn grap. “Dit kon nie ʼn grap wees nie, want hy het dit soveel keer op BBM ook vir my gesê,” het die vrou getuig.

Pienaar het die vrou vroeër ondervra oor ʼn beweerde voorval waar De Villiers glo sy hand onder haar rok ingedruk en haar gesoen het. Pienaar het die vrou gevra waarom sy ʼn vriendin van die beweerde voorval vertel het. “Sy [die vriendin] het vir my gesê sy het gedink De Villiers is lief vir haar en dat sy lief was vir hom, maar sy het gedink daar is iets tussen ons aan die gang omdat hy altyd vriendelik was met my en dit is waarom ek haar daarvan vertel het.”

“Het jy van Dawie gehou?” het Pienaar haar hierna gevra. “Nee,” was haar antwoord. Pienaar het gevra hoe sy en De Villiers in sy kamer geëindig het. “Ek het my skoene in sy kamer gaan sit en hy het gesê ons moet op die bed sit. Ek wou nie en het net daar gestaan en dit is toe dat hy my aan my heupe vasgehou het.” Pienaar het gevra wat die vrou gedoen het toe De Villiers haar aan haar heupe vasgehou het. “Ek het net daar gestaan, ek het nie geweet wat om te doen nie.”

Pienaar het gesê sy kon teruggetree het. “Ek het in daardie stadium nie geweet wat om te doen nie.” Volgens die vrou het sy en De Villiers net gesels en het hy gesê sy het ʼn mooi lyf voor hulle saam op die bed gelê het en hy glo aan haar maag gevat het.

De Villiers staan tereg op 38 aanklagte van onder meer verkragting, seksuele aanranding, die besit van kinderpornografie, meineed en bedrog. Die saak duur voort.

Lees alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

jan ·

is dit nie tyd dat hulle die foto van Oscar afhaal wat by al die berugte verskyn nie Dankie

Ben ☺☺☺ ·

Oscar bid vir die ou want hy het meer en groter probleme en langer tronkstraf wat wag, lol

SNEL ·

Arme Oscar, nou lyk hy ook soos Dawie de Villiers, hy is nie eers op die foto nie, maar hy word oral raakgesien. Ek dink Oscar was en word selfs vandag nog so in die mense se kele afgedruk dat hulle hom selfs sien as hul oë toe is.

Eish! ·

Jan, my Maroela en jouse Maroela is beslis nie dieselfde Maroela nie. Geen arme ou Oscartjie nie. Shame hy verlustig hom in sy vryheid en beplan sy toekoms wat Reeva nooit sal he nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.