Modelbaas sê jong model lieg vir die hof

Dawie de Villiers in die hof. Foto: ANA

Dawie de Villiers in die hof. Foto: ANA

Dawie de Villiers, die Johannesburgse modelagentskapbaas, het Donderdag beskuldigings dat hy ʼn 16-jarige model seksueel aangerand en bedrieg het, ontken.

De Villiers, wat tereg staan op verskeie aanklagte insluitend verkragting, seksuele aanranding, intimidasie en die besit van kinderpornografie, was weer in die getuiebank tydens die hof se sitting in Palm Ridge.

Vroeër in die verhoor het die 16-jarige meisie aan die hof gesê De Villiers het tydens ʼn fotosessie by sy huis sy hand onder haar romp ingedruk en haar later gevra om met hom te trou.

De Villiers het haar bewerings ontken en gesê hy is verbaas om haar beskuldigings te hoor veral aangesien hulle nog vriende op Facebook is. Hy het aan die hof gesê die meisie lieg vir die hof en dat die sogenaamde huweliksaanbod net ʼn grap tussen hulle was.

Arveena Persad, die staatsaanklaer, het De Villiers gevra hoekom die meisie vir die hof sal jok en hy het geantwoord dat sy deur die televisieprogram Carte Blanche aangevuur is. Die program het ʼn insetsel oor De Villiers uitgesaai waarin ʼn reeks beskuldigings teen hom uiteengesit is.

Op bewerings dat die meisie se ma R4 000 betaal het vir ʼn kalender met foto’s, maar dit nooit ontvang het nie, het De Villiers gesê die geld is eintlik vir ander foto’s betaal aangesien die kalender vir liefdadigheidsdoeleindes was. Hy het gesê die meisie het wel haar kalender ontvang en dat haar ma dit net aan die hof ontken.

Persad het dit aan De Villiers gestel dat hy nie net die meisie seksueel aangerand het nie, maar ook bedrog gepleeg het.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Liza ·

Dit laat mens wonder….. Is dit ‘n man in magsposisie wat gedink het hy kan doen wat hy wil en wegkom daarmee….of is dit ‘n “vroeg ryp, vroeg vrot” dogtertjie wat nie haar sin gekry het nie en nou sy reputasie probeer vernietig? Wonder maar net….

pjk ·

Liza, ek stem saam met jou tweede stelling. Al van n paar van sulke gevalle gelees. As jy nie jou sin kry nie, maak “ek” n ander plan!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.