Modelbaas se vonnis weer uitgestel

Dawie de Villiers in die hof. Foto: ANA

Die veroordeelde verkragter, Dawie de Villiers, se vonnisoplegging is Woensdag uitgestel omdat die regter in die verhoor van die modelbaas ongesteld is.

Dawie de Villiers (38) het op Maandag 5 Oktober 2015 die eerste keer in die hooggeregshof in Palm Ridge, Johannesburg, verskyn op 38 aanklagte van onder meer verkragting, die besit van kinderpornografie, bedrog en intimidasie.

De Villiers, ʼn inwoner van Kempton Park aan die Oos-Rand, is die stigter van die agentskap Model South Africa.

Hy is onder meer daarvan beskuldig dat hy ʼn 14-jarige meisie in 2011 in Rustenburg gemolesteer het. In dieselfde jaar het hy na bewering ʼn 15-jarige meisie van Kempton Park verkrag.

Die staatsaanklaer Arveena Persad het destyds aangevoer dat De Villiers die meisie voorberei het deur haar te vra om foto’s van haar geslagsdele aan hom te stuur en met hom in ʼn verhouding te wees.

Nog ʼn aanklag teen De Villiers het verband gehou met ʼn voorval tussen 2006 en 2007 in Alberton toe hy glo ʼn volwasse vrou seksueel aangerand het. Hy het ook na bewering in 2008 SMS-boodskappe aan ʼn minderjarige gestuur waarin hy eksplisiete seksuele versoeke aan haar rig.

Van die 38 aanklagte was 11 vir bedrog en diefstal van meer as R200 000.

In Februarie 2017 is De Villiers eindelik nadat die verhoor meermale uitgestel is, skuldig bevind op 32 van die aanklagte van verkragting, molestering, seksuele gereedmaking, bedrog, blootstelling aan kinderpornografie en die besigtiging daarvan. Hy was sedertdien uit op borgtog van R15 000.

Persad het Woensdag aan die hof gesê regter Cassim Moosa is ongesteld en het gevra dat die saak tot 23 November uitgestel word vir vonnisoplegging in die hooggeregshof wat sit in Palm Ridge, suid van Alberton.

Vir alle vorige berigte oor De Villiers se verhoor, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Estie ·

En daar is geen ander regter wat die uitspraak (wat normaalweg getik is), kan voorlees nie?

KL ·

Die regter wat die saak waargeneem het moet dit uitlewer. Hof101.

Liewe aarde ·

Ek kan nie glo hoe hierdie man net eenvoudig elke keer vry rondloop, dan is dit sy regshulp, dan is dit dit en nou die Regter is ongesteld – jinne hy is skuldig bevind. Dit klink net nie reg dat alles in sy kraal gebeur nie. Werklik ondersteuning, genade en beskerming moet by die slagoffers wees, dit is so asof hy onaantasbaar is.

Guve ·

15000 Borgtog vir verkragting hoe siek is ons land CR,maar o,wee,net nie rassisties nie,dis baie erger as verkragting CR

Wonder maar ·

Die hartseer saak is hy is nogsteed besig met die “Model Wêreld” ek sit met bewyse van hoe hy onlangs nog met modelle onderhandel en vir hulle vertel hy is nie skuldig nie en die hof vat so lank want hulle wil die uitspraak trug trek Hy beloof ook dan die model R10 miljoen te gee indien die hof hom vonnis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.