Modelbaas se vonnisoplegging uitgestel

Dawie de Villiers in die hof Foto: ANA

Die staat het Woensdag hul misnoeë betuig met nóg ʼn vertraging in die saak van Dawie de Villiers, die hoof van ʼn modelagentskap in Kempton Park, wat in die Johannesburgse hooggeregshof gevonnis moet word.

De Villiers, stigter van Modelling South Africa, is in Februarie onder andere skuldig bevind op aanklag van verkragting, seksuele aanranding, bedrog en dat hy kinders aan pornografie blootgestel het.

“Hy behoort in die tronk. Die minimumvonnis vir een van die aanklagte is lewenslange tronkstraf,” het staatsaanklaer Arveena Persad aan die hof gesê.

Persad het regter Cassim Moosa vroeër herinner dat die saak tydens die vorige hofsitting uitgestel is sodat die voorvonnisverslag aangehoor kan word en dat De Villiers se vorige regspan ʼn aansoek gebring het vir die transkripsies, maar het dit op rekord geplaas dat die opnames, wat in hulle besit is, voldoende is sodat die saak Woensdag kon voortgaan.

Adv. Riaan Greyling, De Villiers se nuwe prokureur, het egter gesê die transkripsies wat hy tot dusver ontvang het, is onvolledig.

“Dis net ʼn uitsteltaktiek,” het Persad gesê.

Persad het aan Moosa gesê die staat het die uitstel vir die transkripsies teengestaan, aangesien De Villiers en sy vorige regspan oor die opnames beskik en hulle het notas geneem tydens die verhoor.

Sy het ook die kwessie aangeroer dat De Villiers nog op borgtog is, ondanks die feit dat hy skuldig bevind is. “Die slagoffers het ʼn reg tot geregtigheid. Daar is geen rede waarom sy borgtog verder verleng moet word nie,” het sy bygevoeg.

Greyling voer aan Regshulp het hom versoek om die saak oor te neem en dit was nie De Villiers se skuld nie.

Persad het Moosa later daarop gewys dat die voorvonnisverslag wat deur ʼn maatskaplike werker opgestel is, gebrekkig is, aangesien dit opgestel is kragtens die aanklag, maar nie die skuldigbevinding van die hof nie. Sy het gesê sy kan voortgaan, ondanks die feit dat die voorvonnisverslag nie 100% gereed is nie, aangesien die outeur van die verslag kan getuig oor die afdelings van die verslag wat nie korrek is nie.

“Die feit dat die verslag gebrekkig is, wys dat daar nie genoeg inligting verskaf is nie,” het Greyling aangevoer. Hy het aan die hof gesê hy het slegs ʼn gedeelte van die transkripsie en hy het voor Woensdag ʼn aansoek gebring om die volledige transkripsie te ontvang. “Die beskuldigde het opdrag gegee dat hy dit sal benodig om aansoek te doen tot verlof om appèl. Dit sal onregverdig wees om sy borgtog te herroep, aangesien dit nie sy skuld is nie.”

Greyling het aan Moosa gesê dit is nie duidelik hoe lank dit sal duur om die transkripsie te ontvang nie, en hy het ʼn maand lank uitstel versoek.

Persad het voorgestel die saak moet vir twee weke uitgestel word en die hof het beveel dat die transkripsies uitgereik word of dat die betrokke persoon in die hof moet wees om te getuig wanneer die transkripsies beskikbaar sal wees.

Lees alle vorige berigte oor Dawie de Villiers op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Justice ·

En dan weer 6 maande vir sy advokaat om die saak te bestudeer vir “loopholes” op verdere belasting betalers se geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.