Modelbaas se vonnisoplegging wéér uitgestel

Dawie de Villiers in die hof. Foto: ANA

Dawie de Villiers, die hoof van ʼn modelagentskap in Kempton Park wat Dinsdag in die Johannesburgse hooggeregshof gevonnis sou word, sal sy vryheid nog ʼn rukkie kan geniet nadat die vonnisoplegging wéér uitgestel is.

De Villiers, stigter van Modelling South Africa, is in Februarie onder meer skuldig bevind op aanklag van verkragting, seksuele aanranding, bedrog en dat hy kinders aan pornografie blootgestel het.

“Hy hoort in die tronk. Die minimumvonnis vir een van die aanklagte is lewenslange tronkstraf,” het staatsaanklaer Arveena Persad aan die hof gesê. “Hulle weet waaraan hul kliënt skuldig bevind is, hoe lank gaan ons nou nog die saak uitstel,” het Persad laat hoor.

Persad het regter Cassim Moosa vroeër herinner dat die saak tydens die vorige hofsitting uitgestel is sodat die voorvonnisverslag aangehoor kan word. De Villiers se vorige regspan het toe ook ʼn aansoek gebring vir die transkripsies, maar het dit op rekord geplaas dat die opnames, wat in hul besit is, voldoende is sodat die saak Woensdag kon voortgaan.

Adv. Riaan Greyling, De Villiers se nuwe prokureur, het egter gesê die transkripsies wat hy tot dusver ontvang het, is onvolledig.

“Dis net uitsteltaktiek,” het Persad gesê.

Persad het aan Moosa gesê die staat het die uitstel vir die transkripsies teengestaan aangesien De Villiers en sy vorige regspan oor die opnames beskik en hulle notas geneem het tydens die verhoor.

Sy het ook die kwessie aangeroer dat De Villiers nog op borgtog is, ondanks die feit dat hy skuldig bevind is. “Die slagoffers het ʼn reg tot geregtigheid. Daar is geen rede waarom sy borgtog verder verleng moet word nie,” het sy bygevoeg.

Greyling voer aan regshulp het hom versoek om die saak oor te neem en dit was nie De Villiers se skuld nie.

Persad het Moosa later daarop gewys dat die voorvonnisverslag wat deur ʼn maatskaplike werker opgestel is, gebrekkig is, aangesien dit opgestel is kragtens die aanklag, maar nie die skuldigbevinding van die hof nie. Sy het gesê sy kan voortgaan, ondanks die feit dat die voorvonnisverslag nie 100% gereed is nie, aangesien die outeur van die verslag kan getuig oor die afdelings van die verslag wat nie korrek is nie.

“Die feit dat die verslag gebrekkig is, wys dat daar nie genoeg inligting verskaf is nie,” het Greyling aangevoer. Hy het aan die hof gesê hy het slegs ʼn gedeelte van die transkripsie en hy het ʼn aansoek gebring om die volledige transkripsie te ontvang. “Die beskuldigde het opdrag gegee dat hy dit sal benodig om aansoek te doen vir verlof om appèl. Dit sal onregverdig wees om sy borgtog te herroep, aangesien dit nie sy skuld is nie.”

Persad het dit duidelik gemaak daar is nie redes verskaf hoekom die transkripsies nog nie beskikbaar is nie, waarop Greyling geantwoord het daar is ʼn agterstand by die maatskappy wat met die transkripsies werk.

Moosa het beveel dat die transkripsies by die volgende hofverskyning gereed moet wees.

Die saak is uitgestel tot 24 Julie.

Lees alle vorige berigte oor Dawie de Villiers op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

vrikie ·

Nog ‘n prokureur en so skep almal uit die saak ‘n geldjie, is daar dan niemand wat verslae reg en volledig kan opstel nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.