Modimolle-aanval: ‘Ek het gedink hulle gaan my doodmaak’

Sakkie Bloem en sy verloofde, Natasja Martens. Foto: Facebook

Sakkie Bloem (36), die professionele jagter wat Dinsdagmiddag in sy huis in Modimolle in Limpopo geskiet is, het Donderdag gesê hy is “ongelooflik gelukkig” dat hy die aanval oorleef het.

Bloem, ʼn werknemer van JP Big Game Safaris, is Woensdag uit ʼn Pretoriase hospitaal ontslaan en sterk nou by sy verloofde, Natasja Martens, se huis in die stad aan. Hy het Donderdag aan Maroela Media vertel van die traumatiese gebeure wat Dinsdagmiddag in sy huis afgespeel het.

“Ek was die dag in die dorp gewees en moes die middag weer teruggaan plaas toe. Ek het met my bakkie buite die skuifdeur in my kamer stilgehou en heen en weer geloop om al my goed in die bakkie te pak. Ek was in my kamer besig om my klere in ʼn sak te pak, toe iets my aandag op die televisie getrek het. Ek het vir ʼn oomblik op my bed gaan sit om televisie te kyk en my hond, wat op die vloer langs my gelê het, het begin knor,” vertel hy.

Bloem sê hy het hom aanvanklik nie aan die hond gesteur nie en die volgende oomblik het ʼn onbekende man met ʼn vuurwapen by die kamer ingestap. “Hy het nie ʼn woord gesê nie. Net die pistool opgetel en my geskiet.”

Die koeël het Bloem in sy bors getref en is deur sy skouer en by sy bladbeen uit. Direk daarna het nog twee rowers die kamer binnegestorm en Bloem op die bed vasgedruk. “Ek het nog gevra wat gaan aan en hulle wou net heeltyd weet waar is die geweer en waar is die geld. Hulle het skoenveters, selfoonlaaiers en enigiets wat hulle in die hande kon kry, gegryp en my hande en voete vasgebind.”

Bloem sê sy vuurwapen word gewoonlik op die plaas waar hy werk, gebêre. Dit was egter in daardie stadium in sy voertuig omdat hy op pad plaas toe was. “Ek het vir hulle gesê my beursie en die bakkie se sleutels is in die bakkie. Al waaraan ek kon dink, was om hulle net so gou moontlik uit die huis te kry.”

Hy vertel die rowers het later ook sy hande en voete agter sy rug aan mekaar vasgebind en ʼn handdoek om sy kop gedraai. “Ek het gedink hulle gaan my doodmaak. Ek het nie gedink hulle sal my skiet en dan lewend agterlaat nie. Ek het honderde skietgebedjies gedoen terwyl ek daar gelê het.”

Nadat die rowers met sy bakkie op die vlug geslaan het, kon Bloem daarin slaag om van die bed af te rol en sy hande en voete met ʼn tang en ʼn mes los te kry. Hy het daarna na sy buurman, Pat Loots, se huis gestrompel om hulp te kry. Loots het met hom na ʼn plaaslike dokter se spreekkamer gejaag en Bloem is later na ʼn hospitaal in Pretoria geneem.

“Ek is ongelooflik gelukkig om te leef. Die koeël is dwarsdeur my lyf en het my longe en al my slagare gemis. My bladbeen is heeltemal verbrysel, maar die dokters sê dit sal mettertyd weer vasgroei. Die wond moet nou maar net dopgehou word om seker te maak dit kry nie infeksie nie, maar ek is baie gelukkig.”

Bloem se voertuig is kort ná die aanval verlate op die R101 in Pienaarsrivier gevind. ʼn 49-jarige verdagte is in verband met die rooftog in hegtenis geneem.

Volgens Bloem sal hy weer terugkeer na sy huis in Modimolle en sy werk so gou moontlik hervat. “Ek spot en sê ek is nou een van die statistieke, maar die werklikheid is as ons almal weghardloop wanneer daar iets met ons gebeur, gaan daar naderhand niemand meer in die land oor wees nie. Die lewe gaan aan,” sê hy.

Bloem het sy dank uitgespreek teenoor Loots wat hom direk ná die aanval bygestaan het, Charl Watts en Nelia Prinsloo-Smit wat gehelp het om ʼn ambulans te reël en al die nodige mense in kennis te stel, en Barend Pienaar en al die ander lede van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en veiligheidsgroepe wat gehelp het om die verdagtes agterna te sit.

“En natuurlik moet ek ook baie dankie sê aan my verloofde, Natasja, vir al haar ondersteuning en bystand,” het Bloem afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jenny Thom ·

Ai, ai, ai, geluk het niks hiermee te doen nie Sakkie. Dit is alles net genade. Jy kan waarlik net vir ABBA Vader baie dankie sê dat jy nie ook net een van die baie slagoffers geword het nie. Hy het nog ‘n plan met jou lewe. Bring maar aan Hom al die Lof en die Eer, want dit kom Hom alleen toe!!!

Twakkies ·

Ai Jenny- en die wat wel doodgeskiet word is daar nie voor planne of genade nie? Ook nie die duisende wat sterf in ‘n tsoenami nie?

Blits ·

Ek stem 100% saam met jou, ons almal moet op ons kniee gaan en Yeshau lof bring, Sy genade en liefde is groot

Maya Roon Joubert ·

AMEN Net met God se genade laat jy nog vandag op aarde is! Vinnige herstel en seëninge toegewens!

johan ·

En waarom was daar nie genade vir die wat wel vermoor is nie Ek wonder net Wil niemand aanstoot gee nie , ek sukkel net om die goed te verstaan Sal enige hulp waardeer

Pastoor ·

Johan dit gaan rof in ons land. Vir te lank het God se volk weg gedwaal. Kyk maar Sondae hoe leeg is die kerke. Die Woord sê ons sal oorwin deur die Woord van ons getuienis. Bloem se getuienis is vir ons n eye opener. Ons moet elke dag naby die Here lewe. Want as n mens sterf dan begin jou lewe eers. Stel dit so. Jy sterf vandat jy gebore is. Die dag wanneer jy dan sterf dan begin jou lewe in werklikheid. Dit is saam met Christus in die ewigheid. As Hy jou verlosser was. Anders is daar n ander ewige lewe op n heel ander plek

LB S ·

Pastoor, alles wat jy hier sê is waar, maar jy antwoord steeds nie Johan se vraag nie. ☺

Bob ·

Pastoor, Ons kerk is so vol dat ons 2 dienste op Sondagoggende moet hou – Hillsong

Hanna ·

Johan, dit is nie die Here wat hierdie goed laat gebeur nie, dit is die duiwel en sy demone. God tree soms nie in nie, om ons mense op ons kniee te dwing en hom aan te roep vir hulp. Dit was nie die wat oorleef het se tyd om te sterf nie. Jy as mens pluk altyd die mooiste blomme in die tuin, net so pluk God eerste sy mooistes. God gee almal nog kans om hul lewens reg te maak met Hom, jou Hart vir hom te gee, en weer gebore te word in Hom. Glo my, God huil ook maar oor die mens wat hy geskep het, so aangaan soos wat hul doen. Draai eerder na God, nie teen Hom nie. Bid mense ooit nog vir beskerming voor hul gaan slaap, pleit hul Jesus se bloed oor hulself, hul gesin, hul plaas en diere. Bid hul dat die engele hul dal beskerm??? Sê maar net en wonder maar net.

Bach ·

Hanna, Pastoor en ander. Ek verstaan dit ook nie so lekker nie. ‘n Boer en sy vrou wat hul lewe lank die Here gedien het en als vir hul medemens gedoen het, ongeag ras, kom ‘n Sondag vd kerk af en word by hul aankoms wreed op hul plaas vermoor. Ek wil so graag verstaan.

LB S ·

Al wat ek kan byvoeg wat in my gedagtes opkom is iewers in die Bybel staan iets soos : “Eendag sal ons ten volle verstaan”… ☺

SARIE VAN HEERDEN ·

Stem saam met Bach. Hiedie moorde het niks met godsdiens en wat ookal te doen nie. Dis realiteite waarop onmiddellik gereageer moet word soos wat met hierdie slagoffer gebeur het toe hy dadelik geneem is vir mediese sorg. En om die duiwel en demone die eer te gee dat hul dinge met ons laat gebeur ondersteun ek nie. Sommige dinge gebeur agv verkeerde besluite maar vir die res het ek nie ‘n antwoord of verduideliking nie. Die lewe gebeur maar net.

Albert ·

Dit gaan nie oor verstaan nie. Ons bly in ‘n land waar dit onwettig is om ‘n hond se stert af te sit maar waar aborsie wettig is.
Dit gaan oor GELOOF (kennis en vertroue), hoe anders sou ons kon verstaan dat ‘n mens sy lewe kon aflê, op die wreedste moontlike wyse, vir ‘n ander. Om te lewe of te sterwe is net Genade, want ons behoort nie aan onsself nie maar aan Hom wat ons vrygekoop het met sy bloed.
Ja ons word gelouter, gaan dit jou geloof suiwer of gaan dit jou geloof besoedel? Verbeter jou kennis deur jou Bybel te lees en vertrou dat Hy vir jou besoedelde lewe betaal het. Geen mens se hande is skoon nie. Dank ons hemelse Vader dat hy ons genadig is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.