Modimolle-monster se laaste poging tot vrylating

Johan Kotze tydens sy verhoor op 26 November 2012. Foto: Werner Beukes / Sapa

Johan Kotze tydens sy verhoor op 26 November 2012. Foto: Werner Beukes / Sapa

Johan Kotzé, die sogenaamde “Modimolle-monster”, wend hom nou tot die konstitusionele hof in ʼn laaste poging om sy skuldigbevinding en lewenslange vonnisse om te keer.

Riaan Coetzee, Kotzé se regsverteenwoordiger, het aan Maroela Media gesê hofstukke om verlof tot appèl is ingedien. Die staat het reeds aangedui dat hy die aansoek sal teenstaan.

Kotzé het vroeër die hooggeregshof en die appèlhof genader om verlof tot appèl, maar dit is telkens van die hand gewys.

Volgens Coetzee is Kotzé se jongste aansoek op verskeie redes gegrond, waaronder die belangrikste is dat hy dink hy het nie ’n regverdige verhoor gekry nie. “Sy regspan kon nie behoorlik voorberei nie omdat die staat nie al die nodige dokumentasie aan die verdediging gelewer het teen die dag wat die verhoor begin het nie. Ons het die hof om uitstel gevra om behoorlik voor te berei, maar die versoek is geweier,” het Coetzee gesê.

Hy het ook gesê die verdediging het nooit die maatskaplike werker se verslag ontvang nie en dit het die verslag van die onafhanklike sielkundige wat Kotzé geëvalueer het, benadeel. “Die staat se sielkundige verslag was grootliks gegrond op die maatskaplike verslag, dus was dit wesenlike dokumentasie wat ons moes ontvang het, maar tot vandag toe nog nie gekry het nie,” het hy gesê.

Hy het ook beklemtoon dat die onafhanklike sielkundige verslag aangedui het Kotzé was ten tyde van die misdade ontoerekeningsvatbaar, maar hierdie verslag is nie in die hof se uitspraak in ag geneem nie.

Coetzee bevraagteken ook die appèlhof se weiering om die verlof tot appèl toe staan. “Wanneer jy om verlof tot appèl aansoek doen, moet jy sekere dokumente saam met jou aansoek indien, waaronder die oorspronklike hofuitspraak. Toe ons om verlof tot appèl aansoek gedoen het, was die skriftelik hofuitspraak nog nie beskikbaar nie omdat dit nog in die proses was om getranskribeer te word,” het hy gesê.

“Ons het ʼn brief by ons aansoek tot appèl geliasseer waarin ons aangedui het die hofuitspraak sal ingedien word sodra dit beskikbaar is. Nog voordat die hofuitspraak ingedien kon word, is ons aansoek om appèl afgekeur.”

Kotzé is in Julie 2013 tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis ná die aanval op sy eksvrou, Ina Bonnette. Hy is ook skuldig bevind aan die verkragting en marteling van Bonnette en die moord op haar seun, Conrad. Kotzé se medebeskuldigdes, Andries Sithole is ook tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis, terwyl Pieta Mohlake en Sello Mphaka elk tot lewenslange tronkstraf plus ʼn bykomende 18 jaar gevonnis is.

Kotzé word steeds in die Zonderwater-gevangenis in Cullinan aangehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Retha ·

Ek hoop waarlik Riaan Nel slaap in die nag. Sluit Kotzè vir ewig toe en gooi die sleutel in die see.

Debs ·

die vermetelheid ….. hy hoort in ‘n malhuis …… dat hy aanhou om vry te kom…. duidelik dink hy nie reg nie …. ek hoop hy vrot in die tronk en hy het hel in die tronk ..

Alida ·

Los hom waar hy is. Dit is veiliger vir almal buite die tronk. Wat dink die vent van homself?

Jo-an ·

Riaan los die monster soos jy geno

em word, in die tronk. Die kind wat dood is en die dame se lewe is verwoes, maar nee hy pleit nou ontoerekeningsvatbaar, ag asseblief. Dit net soos dit Mnr Kotze Pas.
Soos in media gesê Modimolle monster bly waar jy is vergeet jy is gebore.

Jennefer ·

Die man het so narsistiese houding! hy glo hy het niks verkeerd gedoen nie. Ek kan nie dink dat n prokureur met sy gewete kan saamleef as hy die monster sou verteenwoordig.

Des jelliman ·

Dubbel lewens lank is te kort bring terug di dood straf

Christie Joubert ·

“Ontoerekeningsvatbaar tydens die aanval”. En nou is jy skielik so helder dat jy die vermetelheid het om aansoek te bly doen om appel, en selfs die konstitusionele hof wil gebruik. Wat van Ina se konstitusionele reg op n gelukkige normale lewe met haar seun wat jy met n besonder slinkse plan doodgeskiet het? Jy is n walgwors, wat steeds nie man genoeg is om verantwoordelikheid vir jou dade te aanvaar nie! Ek hoop jy vrot op in die tronk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.