Moederinstink help ma om eie baba te vang

Jamie Lee en Quintin Piek (Foto: Verskaf)

Jamie Lee Piek, reeds ʼn ma van twee seuns, het Maandagaand omstreeks 23:00 haar eie baba in die motor op pad hospitaal toe gevang.

Sy vertel aan Maroela Media dat haar kontraksies teen 22:00 begin het, maar dat die pyn nog nie so erg was nie.

“My man het gevra of ons solank hospitaal toe moet ry, maar ek het nog nie gedink dit is nodig nie,” sê sy.

Jamie Lee het met haar vorige swangerskappe geen pyn of kontraksies ervaar nie.

Teen 23:00 het sy besef dit is tyd en dat hulle vinnig ʼn plan moet maak om by die hospitaal uit te kom. Sy het saam met haar man Quintin en skoonma Elmarie in die motor geklim en gery. Haar seuns Jayden en Dylan het by die huis gebly.

Op pad hospitaal toe het Jamie Lee besef haar baba is besig om gebore te word.

“Ek het my seun se koppie gevoel en vir my man en skoonma gesê dat ons vinnig moet maak. My man het afgekyk en ek kon sien hy is geskok.”

Sy het een oomblik nog gewonder wat om te doen en toe sy weer sien was baba Aiden in haar arms.

“Dit was asof ʼn fliek voor ons afgespeel het,” onthou sy. “Ek het geen mediese agtergrond waarop ek kon staatmaak nie. Dit was absoluut my moederinstink wat ingeskop het.”

Sy het haar baba se geroggel gehoor en terselfdertyd vir haar skoonma, wat agter in die motor gesit het, gevra om handdoeke aan te gee sodat sy Aiden se longe kon warm hou. Haar man het voet in die hoek gesit en in die proses beslis ʼn paar verkeersreëls oortree, skerts Jamie Lee.

Gelukkig bly hulle nie ver van die hospitaal af nie en was hulle binne minute daar. By die hospitaal was die personeel nie te gretig om hulle te help nie, tot haar skoonma benoud geroep het dat Jamie Lee vir Aiden, wat in haar arms was, op pad hospitaal toe in die motor gevang het.

Baba Aiden (Foto: Verskaf)

Jamie Lee is vir die nag saam met baba Aiden opgeneem. Aiden het 2 kg geweeg en ma en seun is albei gesond en by terug by die huis.

Haar oudste seun, Dylan is intussen in die Life Eugène Marais-hospitaal se intensiewe sorgeenheid opgeneem met breinvliesontsteking. Dylan se toestand is in die stadium te onstabiel vir die toetse wat nog gedoen moet word.

“My hart bloei, want ek moet alle nuus oor die telefoon kry en kan hom met niks help nie,” sê Jamie Lee.

Dylan se ouma is in die stadium saam met hom by die hospitaal. Jamie Lee en die res van die gesin mag hom egter nie besoek nie weens die aansteeklikheid van die siekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

AmY ·

By die hospitaal was hulle nie gretig om haar te help nie?
Nog steeds bly alles het goed afgeloop.
Hoop julle ander seun word gou gesond.

Kakamiet ·

Oh no! Alle sterkte vir Dylan. Gebede word opgedra vir sy geneesing en God se geneesende hande oor hom. Praat van bitter soet nuus! Geluk met Aden ook, maar Dylan het alle gebede nodog nou!

Miesa ·

Supermamma en pappa, maar klink my ook ‘n wonderouma!! So ‘n ouma is kosbaar en goud werd!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.