Moedersdag-moord: Buurman kry borgtog

Jan Rheeders Maandag in die Orkney-landdroshof. Foto: Susan Cilliers / Beeld.

Jan Rheeders Maandag in die Orkney-landdroshof. Foto: Susan Cilliers / Beeld.

Jan Rheeders (31), wat aangekla word van die moord op sy buurvrou, Annatjie Kruger (89), van Orkney in Noordwes, is Maandag op borgtog vrygelaat.

Kapt. Elize Kruger, woordvoerder van die Orkney-polisiestasie, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Rheeders is in die dorp se landdroshof borgtog van R2 000 toegestaan.

Die landdros het aangevoer die staat het nie ʼn sterk saak nie en dit tot Junie uitgestel.

Jacques Swanepoel, hoofstaatsaanklaer in Klerksdorp, het aan Maroela Media gesê hulle bestudeer die uitspraak om te kyk of daar gronde is vir appèl. “Die staat het wel ʼn goeie saak en sterk bewyse wat tydens die verhoor voorgelê sal word,” het Swanepoel gesê. Hy het gesê hulle sal aanvoer dat die saak in die hooggeregshof aangehoor word weens die erns daarvan.

Van dié bewysstukke sluit twee messe in, wat vir forensiese toetse gestuur is. Die uitslae is nog nie bekend nie.

Annatjie Kruger (links), haar kleindogter, Amor Adlem, en dogter, Thea Pringle. Foto: Verskaf.

Annatjie Kruger (links), haar kleindogter, Amor Adlem, en dogter, Thea Pringle. Foto: Verskaf.

Amor Adlem, Kruger se kleindogter, het aan Maroela Media gesê die familie is teleurgesteld dat Rheeders borgtog toegestaan is. “Ons is baie geskok omdat hy borgtog gekry het. Ons voel magteloos, maar het steeds vertroue in die regstelsel en die polisie en ons glo die forensiese toetse sal hom aan die daad verbind. Ons sal dus wag vir die verhoor om sy gang te gaan.”

Maroela Media het verneem Rheeders het Kruger goed geken en woon naby haar huis in ʼn klein kompleks in die dorp. Sy vervreemde vrou was saam met Kruger in die kerk. Hy het gereeld by haar geld geleen en briewe geskryf waarin hy geld gebedel het. Die polisie het op dié briewe beslag gelê. Rheeders het Maandag in die hof erken hy het geld by haar geleen en was afhanklik van dwelms, maar gesê hy het behandeling daarvoor ontvang.

Kruger se liggaam is op 8 Mei in haar kerkklere op die vloer van haar slaapkamer aangetref. Haar dogter, Thea Pringle en Adlem het onraad vermoed toe hulle haar nie in die hande kon kry om haar ʼn gelukkige Moedersdag toe te wens nie. Hulle het vermoed iets is fout toe haar gemeentelede ook navraag gedoen het, aangesien Kruger nie oudergewoonte Sondag in die kerk was nie. Kruger se liggaam is omstreeks 17:00 gevind nadat die polisie ontbied is om haar woonstel se deur oop te breek. Sy het ʼn snywond aan haar keel gehad.

Kruger se klein televisiestel met ʼn haasoor-antenne, ʼn selfoon ter waarde van skaars R300, beursie en motor is gesteel.

Rheeder is op 19 Mei weens Kruger se moord in hegtenis geneem. Kruger se uitgebrande motor is ʼn paar dae voor sy inhegtenisneming in ʼn veld buite die dorp opgespoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Elzaan ·

my innige simpatie met die tannie se famillie. ek hoop dat die persoon sal vervolg word wat so wrede daad gedoen het.

tammy ·

Hoe op aarde vra ek die wereld???? Borg vir die man? Hy is n bedreiging vir almal om hom. As hy n misdaad pleeg hoop ek die saak maak GROOT opspraak!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Piet Snot ·

Hoe kan jy so sê, Tammy? Die man is onskuldig tot ‘n hof anders bevind.
Ek en jy maak afleidings van wat ons hoor, maar ‘n behoorlike verhoor is nodig voor hy toegesluit behoort te word.

Wonder maar net ·

Lagwekkend.R2000-00 borg vir een wat iemand se lewe geneem het.Dit klink amper soos ons “Atleet” se hele lagwekkende Hofsaak.

tamboti ·

Weens sy geskiedenis met die slagoffer is hy verdagte no. een en aangesien hy aan dwelms verslaaf is, is aanhouding mos nou die ideale manier om hom te rehabiliteer. Hy behoort geensins vir borg in aanmerking te kom nie, beter vir hom en die samelewing. Verslaafdes is reeds kriminele – hul oortree reeds die wet. As hy beweer hy is verslaaf erken hy skuld op daardie misdaad. Moord en roof vir geld is voor-die-hand-liggende motief.
Kry net bewyse wat hom met die plek en tyd van misdaad verbind, en hy het dalk nog medepligtiges gehad. Piet Snot met dit wat SA nou het, is geen behoorlike verhoor moontlik nie – net “mense regte” vir oortreders, met veelvuldige skuiwergate.

Wendy ·

Die Media kan tog soms die storie so lekker en intresant laat klink maar tog lê daar so min waarheid agter hulle berigte. Los die oordeel aan die gereg. Want somige mense se oordeel is maar pateties.

Hannes marais ·

Die ou is nog nie skuldig bevind nie…hoe kan jul die man so kruisig

Joann ·

Tomboti jy is reg. As hy skuldig is verdien hy die ergste straf. Wat se kans het die ou dame van 89 teen n man van 31 gehad.

Diana ·

Die borg kwessie is ‘n taai toffie. Die oorwegende vraag is of die beskuldigde ‘n risiko is, van watter aard ookal. Meen ons hy is ‘n risiko vir die samelewing, impliseer dit dat ons reeds glo dat hy wel die misdaad gepleeg het, dit terwyl hy nognie verhoor is nie. Dit bly maar ‘n moeilike besluit vir enige regter. Besluite oor borgtog sal altyd teenkanting ontketen.

Hmmm ·

Ek lees nou al vir ‘n ruk lank Maroele Media Nuus…. en geniet om die persone se komentare te lees, maar HEL, julle (nie almal nie) wat komentaar lewer op verskeie berigte is SOOOooo negatief oor die Lewe en Suid-Afrika…

Wat doen julle in jul persoonlike lewe om ‘n verandering te maak…
Julle wat kritiseer, sit jul Sondag in die Kerk…
Leer jul, jul kinders om so ‘n negatiewe uikyk op die lewe te he…

Elke dag se komentare is so monotonous, tedious, boring, humdrum, mundane (Herhalend!)

Kom aan mense, haal eers die balk uit jou oog voor jy die splinter in ‘n andeer se oog sien

Yvonne ·

Oordeel en wraak kom God toe. Hy het Almal lief, self’s misdadigers, dwelmverslaafdes en julle Wat klippe gooi. Wees versigtig, Wat jy uit jou mond laat kom. Kies jou woorde mooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.