Moederstad skud vere reg vir Duitse toeriste

Die Moederstad is reg om Duitse besoekers vir die somer te verwelkom. (Foto: Love Cape Town/Facebook)

Duitsland het Dinsdag streng reisbeperkings vir verskeie lande met ʼn hoë voorkoms van die Omikron-variant van die koronavirus – ook Suid-Afrika – opgeskort.

Altesame nege lande, waaronder Brittanje en benewens Suid-Afrika verskeie ander lande in suidelike Afrika, is einde verlede jaar op ʼn lys van gebiede wat kommer wek geplaas. Deutsche Welle berig vantevore moes reisigers 14 dae lange verpligte kwarantyn ondergaan en daar was ʼn beperking op Duitse burgers om die spesifieke lande te besoek.

James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese groei vir die Stad Kaapstad, het die ophef van die beperkings verwelkom en sê die Moederstad sien daarna uit om Duitse besoekers te verwelkom.

“Die beperkings kom in die lig van ons wetenskaplikes se identifisering van die Omikron-variant. Navorsing het egter gewys dat reisbeperkings wat stuksgewys ingestel word, ondoeltreffend is en net die ekonomieë van die geraakte lande straf. In die toekoms moet regerings wêreldwyd alternatiewe maatreëls oorweeg,” sê Vos.

Duitsland se opheffing van die beperking kom vir Kaapstad op net die regte tyd – Duitse reisigers is dikwels gretig om te ontsnap van die land se ysige winters en ruil dit graag vir ʼn sonnige somervakansie in Kaapstad.

Kaapstad het Duitsland se besluit om reisbeperkings na Suid-Afrika op te hef, verwelkom. (Foto: Love Cape Town/Facebook)

“Ek sien daarna uit om dié besoekers op Lufthansa-vlugte na Kaapstad – vanaf München en Frankfort – te verwelkom,” sê Vos.

Kaapstad het ʼn paar weke gelede ʼn bestemmingsbemarkingsveldtog in München en ander groot Duitse stede van stapel gestuur in ʼn poging om die uiteenlopende ervarings en skoonheid van Kaapstad aan Duitse besoekers te wys.

“Duitsland is ʼn beduidende reis- en handelsvennoot vir die Moederstad en ons sien daarna uit om weer bedrywighede te hervat en hulle weer te ontmoet. Kaapstad verwelkom julle.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Philip ·

Daar is so baie besienswaardighede in die moederstad veral in die omgewing van die middestad en by name die Parlements gebou wat al vir donkiejare SA se vertoonvenster was van doeltreffende Regerings in die verlede tot vandag se totale verval.

piet ·

Die anderskleuriges in die land sal beslis met jou saamstem dat hulle baie doeltreffend uitgesluit is en soos gemors behandel is in die verlede…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.