Moederstad skud vere reg vir parlementsopening

Pres. Cyril Ramaphosa en sy adjunk, David Mabuza, sit saam met ʼn span adviseurs en gaan vir oulaas oor die president se staatsredetoespraak. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Kaapstad skud haar vere reg vir vanaand se staatsrede wanneer die nuwe parlementêre termyn deur pres. Cyril Ramaphosa ingelui word.

Ramaphosa sal die staatsrede vanaand om 19:00 in die parlement se Nasionale Vergaderingsaal lewer, en hy doen dit te midde van baie spesifieke politieke uitdagings.

Die eerste vraag oor vanaand se staatsrede is tot watter mate dié rede deur die opposisie ontwrig gaan word. Dit is jaarliks die politieke gebeurtenis wat die grootste gehoor trek, en alle politieke partye wil soveel munt as moontlik daaruit slaan.

Verby is die dae toe opposisiepartye net met verskuldigde eerbied na die staatshoof sit en luister het.

Terwyl die parlementêre uitsmyters reeds vandeesweek vergader het, swyg elke jaar se ontwrigters, die EFF, soos ʼn vulkaan oor sy planne. Die DA het reeds aanduidings gegee dat dié party Ramaphosa se rede kan ontwrig met punte van orde en die IVP het vandeesweek ʼn brief aan die president geskryf dat hulle hom mede-aanspreeklik hou vir die wandade van die Zuma-bewind.

Wat die staatsrede self betref sal die grootste verwagting wees hoe Ramaphosa – ʼn uitstekende orator – binnelandse en buitelandse beleggers sal probeer oorreed om op groter skaal in die land te belê sodat die tam ekonomie sy kop kan lig.

Omdat dit ʼn verkiesingsjaar is, kan verskeie aankondigings oor werkskepping deur infrastruktuurverbetering verwag word.

Pres. Cyril Ramaphosa kyk vir oulaas oor sy staatsredetoespraak by sy amptelike woning in Kaapstad. Hy sal vanaand die staatsrede in die parlement lewer. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Ramaphosa sal egter verder as die populistiese moet gaan as hy ʼn oortuigende inset wil lewer. ʼn Taai taak lê vir hom voor – en ʼn terugvallery op konvensionele mooipraatjies gaan nie vanjaar die wa deur die drif kry nie.

Die grondkwessie sal nóg ʼn belangrike onderdeel van sy staatsrede vorm. Ramaphosa is tot dubbelpratery geneig en dit sal interessant wees of hy die populistiese binnelandse of die verantwoordelike buitelandse kant van sy politieke persona gaan wys.

Takeling van korrupsie is ook ʼn belangrike aktuele kwessie in die nasionale diskoers. As Ramaphosa probeer krediet neem vir die arrestasie van leidende Bosasa-amptenare gaan hy polities gesproke bedroë daarvan afkom. Die vraag is hoe hy met soveel korrupsie-geïmpliseerdes in sy kabinet sit.

Die buitelandse beleid gaan vanjaar vir die gewone Suid-Afrikaner ʼn interessanter onderdeel as gewoonlik wees in die staatsrede. Die memorandum van vyf leidende Westerse lande oor probleme in die Suid-Afrikaanse staat kan nie geïgnoreer of weggepraat word nie, en waarnemers sal Ramaphosa se reaksie fyn dophou.

Laastens sal Suid-Afrikaners duim vashou vir die aankondiging van ʼn stemdatum vir vanjaar se algemene verkiesing, hoewel die kanse beter is dat Ramaphosa dit volgende week sal aankondig, wanneer dit nie die nuushoek van sy staatsrede sal steel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Countryboyo ·

Dankie is daar is darm weer vanaand iets op die kassie te kyk wat die moeite werd is..Popcorn en chips is klaar reg en die koeldrank op ys…die id een komedie wat ek nie kan mis nie…LOL

Michael ·

Ons sal maar kyk vanaand op televisie.OJ terloops dit word regstreeks op cartoon network uit gesaai.

Tobie Klarens ·

Skud vere reg vir die varke om te kom baljaar en om die trog van korrupsie te vergader

EK ·

Ek gee kaartjies verniet weg as jy vanaand sirkus toe wil gaan.

Elvira ·

Gee my krag! Waarom gebruik julle nie more al daardie geld wat uitgegee word aan die funksie daarna, koek en tee en drank om n paar huise vir arm mense wat vir julle gaan stem te bou nie. Die luister ryke ge-optoffery van die vrouens en mans is in elk geval n apartheid-era ding. Die vrouens het daardie tyd aangetrek asof hulle na die Durban July toe gaan. Kon mnr Ramaposa nie net in sy kantoor sit en die rede gee nie?

At Dippenaar ·

Kry die popcorn en Coke – die sirkus begin nou-nou.

Afrikaner ·

Ek voel soos ‘n Rip Van Winkel, 9 jaar van my lewe is daarmee heen. As ek die geleëntheid kon kry, sou ek hom vra:”En toe, waar was Jy?”

Meerkat ·

Jan, mens sal na sy staatsrede gelewer is sien of dit nie maar tog beter was om die stemdatum aan te kondig nie, dan kan almal daarop konsentreer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.