Moedertaalonderrig in Namakwaland kry inspuiting

Moedertaalonderrig in Suid-Afrika het ʼn hupstoot gekry met die nuus dat die Noord-Kaapse regering besluit het om weer onderrig in Nama in te stel in skole in Namakwaland nadat dit jare lank nie die geval was nie.

Dit blyk uit ʼn skriftelike antwoord deur Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, op ʼn parlementere vraag deur Veronica van Dyk, DA-LP.

Nama is tot in 2012 nog onderrig in skole in die Noord-Kaapse gemeenskappe Kuboes, Nababeep, Lekkersing, Pella, Port Nolloth, Riemvasmaak, Eksteenfontein, Steinkopf en Alexanderbaai.

Daarna is dit gestaak, maar nou weer hervat danksy die werk van die Khoisan- en Nama-taalraad, het Mthethwa gesê. Daar is omtrent tien skole wat belangstel om Nama aan te bied, en die loodsprojek vind plaas in Kuboes en Riemvasmaak.

Die onderrig van Nama word onderneem in samewerking met die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en die Namibiese regering, want Nama is meer algemeen in Namibië en word suksesvol daar onderrig.

Nog ʼn taal wat dalk binnekort sy terugkeer tot die skoolkurrikulum in Suid-Afrika kan maak is Khoekhoegowab, ʼn taal waarvoor ʼn woordeboek en woordelys tans opgestel word deur die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Namibië in Windhoek, het Mthethwa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanL ·

Gaan die skole Nama aanbied as ‘n taal om te leer, of gaan die taal van onderrig (LOLT) vir alle vakke Nama wees? Duidelikheid daar asb.

Welke een ookal, baie bly vir die betrokke gemeenskappe. Doen so voort.

Hendrik ·

Nou nog net moedertaal onderig in Xhosa, Zulu, Pedi, Sotho, Tshwana, ens.. Die wil om onderrigboeke te skryf in die tale onderbreek egter by die taalsprekers. Engels is gemaklik en alles klaar gedoen.

moedertaalonderrig ·

Die bevolkingskonsentrasie in die groot stede en hulle behoeftes plaas groter druk om Afrikaans as onderrigtaal te skrap. Die feit bly staan dat die opvoedkundige beginsel van moedertaalonderrig kan nie weg gewens word nie, al bly jy waar! Die stryd sal net makliker wees as ‘n mens jou eie gebied het waar jy bly.

marous ·

En wat van Nigeries , Somalies , Mathebele , Hindu , Mandaryn , Ethiopies , Urdu , Portugees , Arabies ? Die mense het meer regte as enige ander . Dan is dit belangrik dat gebare taal dadelik ingebring word . Die parlement gebruik dit elke dag maar niemand verstaan wat hulle kwyt raak nie .

Gerrit ·

Fantastiese nuus.
Ek wens so !Xun (Boesmantaal) was ‘n skoolvak gewees.
Daai taal klink verskriklik oulik, en ek sal wat wil gee om dit te kon praat.

sweis ·

Ek steun dit,ons het meer slim mense nodig nie kandidate wat n graad 12 sertifikaat het maar nie hulle name kan skryf nie.

Alida ·

Maak ALLES engels dit is n wereldtaal. Jy kan jou eie taal by die huis praat en jou kultuur uitleef. Niemand verbied jou nie.

geduld ·

Dis goed en wel dat hul Nama in skole wil inbring, maar los dan Afrikaans uit, hoekom word Afrikaans gesnoep net waar ons kom, omdat Afrikaans volgens die wat ons taal boikot net deur wit mense gepraat word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.