‘Moeg, getraumatiseerd’; ontvoerde neef, niggie opgespoor

(Foto: The Independent Co/Facebook)

ʼn Polisietaakspan het ʼn niggie en neef, wat vroeër die maand by ʼn skool op Brits in Noordwes ontvoer is, ongedeerd opgespoor.

Zahraa Mohammed (17) en Bataviya Mohammed (19) was Woensdag 6 Maart van Brits na die Hartbeespoortdam op pad toe hul voertuig glo van die pad gedwing is.

Maroela Media het vroeër berig die twee was in ʼn Mercedes-Benz van Bataviya se huis op Brits op  pad. Die verdagtes, in ʼn maroen Audi, het hulle gedwing om te stop en in ʼn VW Polo GTI te klim.

Die Audi, wat glo in Garsfontein gesteel is, is later saam met die Mercedes verlate langs die pad gevind.

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, het Dinsdag bevestig al twee is Maandagaand in ʼn huis naby New Stands by Klipgat naby Winterveldt en Mabopane noord van Pretoria gevind.

“Paramedici het hulle by die Klipgat-polisiestasie ondersoek en hulle was in goeie gesondheid, behalwe dat hulle uiters moeg en getraumatiseerd was,” het Mokgwabone gesê.

“Hulle is veilig en sonder enige sigbare beserings met hul families herenig.”

Tydens die reddingsoperasie, wat gelei is deur ʼn multidissiplinêre taakmag, is ses verdagtes ook in hegtenis geneem.

Volgens Mokgwabone is ʼn sewende verdagte reeds twee dae ná die ontvoering by Naturena in Johannesburg in hegtenis geneem. Dié verdagte, Humphrey Martin (48), het reeds verskeie kere in die landdroshof op Brits verskyn.

Martin sal na verwagting weer op 8 April in die hof verskyn wanneer hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Sy medebeskuldigdes sal binnekort in dieselfde hof verskyn op aanklagte wat verband hou met afpersing en twee aanklagte van ontvoering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries ·

Dankbaar hulle is ongedeerd opgepoor. Vermoed iemand naby, moontlik werknemers, is betrokke.

Leeubekkie ·

So bly hulle is lewend gevind. Sterkte aan hulle. Welgedaan aan die taakmag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.