Moeg vir politieke foutballe: AfriForum skryf vir IKR

Ernst van Zyl, Ronald Peters en Daniel Eloff tydens vandag se mediakonferensie. Foto: Verskaf.

Die burgerregtegroep AfriForum het ’n verslag oor politieke inmenging in Suid-Afrikaanse krieket aan die Internasionale Krieketraad (IKR) voorgelê.

Die verslag van 30 bladsye skets ’n duidelike prentjie van rassekwotas en transformasie – so ver terug soos 1998 – in die Suid-Afrikaanse krieketlandskap.

Volgens AfriForum is die doel van die verslag nie om prestasieverskille tussen rasse uit te lig nie, maar om gedwonge rassekwotas en die invloed van hierdie beleid te ondersoek.

“Die streng afdwinging van rassekwotas het tot gevolg dat ras – en nie meriete nie – die verkiesingskriterium geword het en die gehalte van dié sport benadeel,” het die organisasie vandag in ’n verklaring gesê.

Verskeie voorbeelde van politieke inmenging word in die verslag uitgelig.

In 1999 was wyle Hansie Cronjé en Bob Woolmer in die spervuur omdat die Proteaspan vir die tweede en derde eendagwedstryde teen Nieu-Seeland slegs uit wit spelers bestaan het.

Hierop het Woolmer geantwoord dat die span vir krieket-, en nie vir politieke redes nie, gekies word.

“Ek stel nie in politiek belang nie. Ek het nog nooit nie en sal waarskynlik ook nooit nie,” het Woolmer destyds gesê.

Kyle Abbott is een van ’n rits plaaslike krieketspelers wat Kolpak-kontrakte met Engelse graafskapspanne onderteken het. Argieffoto: AP Photo/Rick Rycroft

In die meer onlangse geskiedenis is die Wêreldbeker-kriekettoernooi in 2015 – toe Kyle Abbott op die vooraand van die halfeindstryd teen Nieu-Seeland deur Vernon Philander vervang is – bespreek, terwyl die Kolpak-spelers ook aandag geniet.

In sy brief versoek AfriForum die IKR om die praktyke en beleid van Krieket Suid-Afrika (KSA) as ’n oortreding van die IKR-regulasies te verklaar en om te bevind dat die krieketorganisasie onbehoorlike politieke invloed uitoefen. Terselfdertyd word daar ook versoek dat ’n riglyn aan KSA uitgereik moet word met die uitdruklike opdrag om sy standpunt oor sy spankeusebeleid te hersien.

Ronald Peters, AfriForum se bestuurder vir sport, sê dat die agteruitgang van krieket in Suid-Afrika weens politieke inmenging reeds te lank toegelaat word.

“Dit is noodsaaklik dat die IKR nou intree en rassediskriminasie en politieke inmenging verbied. Dié inmenging het meer as net ’n negatiewe uitwerking op die standaard van professionele krieket wat plaaslik en op internasionale vlak gespeel word – dit dryf die krieketgemeenskap uitmekaar,” het Peters gesê.

Vroeër vanjaar het die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) ook gesê dat hy aan die Internasionale Krieketraad gaan skryf sodat daar moontlik teen Krieket Suid-Afrika opgetree kan word.

“Regverdigheid moes noodgedwonge pad vir ideologiese agendas maak, terwyl integriteit vir politieke opportunisme en manipulasie opsy staan. Daarbenewens word uitnemendheid en sportprestasies ook minder belangrik as politieke besluitneming geag,” het die instituut se verklaring gelui.

Volgens die IRV se navorsing is daar ook bevind meer as 80% van Suid-Afrikaners verlang dat sport eerder op meriete as op ras gegrond moet word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Deon ·

Alles in ons land is gebreek waar die regering hulle vingers in druk… Ek stel voor, pleks van om tyd op die tipe goed te gebruik, kyk eerder waar julle iemand daadwerklik kan help,iewers waar hulle nie al hierdie reels en regulasies en wette het wat alles kortwiek nie. Bbbeee is hier om te bly, hoe meer tyd ons daaraan mors hoe minder tyd het ons vir goed wat n positiewe verskil kan maak.

Sarel ·

Alle Sportsoorte behalwe Sokker. Kyk wat het onlangs by Netbal gebeur.

B-Man ·

AfriForum. Copy en paste vir die rugbyverslag. Onthou net om die nodige goed te verander dat dit op SARU van toepassing is. Leer uit munisipale-projekte se foute waar tenders vir verskillende projekte presies dieselfde lyk…

Casper ·

Ons het in rugby die gesogde koppie al 3 keer verower met spelers van kleur wat op meriete gekies is.Watter sportsoort het al dit reggekry.Verlede jaar kom Erasmus met ‘n swaart kaptein en ons doen dit vir die derde keer.Niemand kan vandag sê daai spelers het nie hulle plek verdien nie.Geluk aan sokker en krieket en netbal wat so “goed” vaar.

Casper ·

Mnr.Mthethwa druk jou trots in jou sal en erken maar dat jou transformasie nie suksexfol is nie.Hou jou neus uit sport.Jy doen meer skape as goed.Netbal S A stroop ‘n span van ‘n titel wat in ‘n plaaslike kompetisie gwen is.Die rede daar was te min blanke spelers op die baan.Hoe belaglik Mnr.Methethwa will jy nog wees.

Jakes ·

Die regering sal nooit inmeng waar sport slegs be- oefen kan word deur n individu en deur vaardigheid gewedywer word in n spesifieke sportkode nie. Soos bv golf, swem ens. Hoop die IKR neem standpunt in maar ek twyfel sterk.

Vrijburger ·

Alle kwotas op alle vlakke moet opgehef word. Daar is geen regverdiging dat die sogenaamde ‘free borns’ (wat na 1994 gebore is) deur kwotas benadeel moet word nie. Dit is blote rassediskriminasie.

Persoonlik boikot ek alle SA spanne tot alle kwotas eendag opgeheg word. Deur SA se nasionale spanne te ondersteun, ondersteun jy ook stilswyend die diskriminasie (rasse kwotas).

Jack ·

Die revolusie van die rykes: onttrek jou geld en ondersteuning van alles waarin die ANC beheer verkry. Laat hulle op hulle eie aankarring. Kyk net hoe “fantasties” doen SA sokker, hulle het nog nooit ‘n plek in die wereld sokkerbeker toernooi verdien nie. Die ANC moes dit vir hulle koop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.