Moeilike ekonomiese tye staar SA in gesig, sê Gigaba

malusi-gigaba-minister-van-binnelandse-sake

Malusi Gigaba, minister van finansies. (Maart 2017) (Foto: GCIS)

Malusi Gigaba, minister van finansies, het Donderdag gesê moeilike ekonomiese vooruitsigte staar Suid-Afrika in die gesig aangesien groeivooruitsigte vir dié land bedroewend lyk.

Gigaba, wat Woensdag sy mediumtermynbegroting gelewer het, het tydens ʼn vergadering met die staande komitees van die parlement gesê Suid-Afrikaners gaan in die toekoms op hul tande moet kners om moeilike ekonomiese toestande te oorleef.

Hy het gesê ʼn daadwerklike verandering in die ekonomie is nodig om te verhoed dat die hele land in ʼn krisis gedompel word. “Ons moet ons huidige situasie in Suid-Afrika verbeter, want as dinge nie verander nie, sal ons skuld toeneem, ons tekorte verhoog en ons sal nie meer die selfvertroue hê om te kan glo dat ons die land se finansies kan bestuur nie.”

Suid-Afrika het reeds sy ekonomiese groeivooruitsigte vir die nabye toekoms aangepas van 1,3% tot 0, 7% vir 2017.

Oor die driejaarlikse bestedingstydperk sal gekonsolideerde uitgawes groei met ʼn jaarlikse gemiddelde van 7,3 % van R1,6 biljoen (trillion) in 2017/18 tot R1,9 biljoen (trillion) in 2020/21.

Die gebeurlikheidsreserwe sal oor die volgende drie boekjare tot R16 miljard verminder word om vir inkomste-tekorte te vergoed, terwyl die nasionale tesourie dié finansiële jaar ʼn tekort van R50,8 miljard voorsien.

Gigaba sê addisionele finansiële verpligtinge kan voortspruit uit beleidsprosesse wat tans aan die gang is of aan die gang gesit word, wat onder meer insluit gratis hoër onderwys, nasionale gesondheidsversekering (NHI), vroeë kinderontwikkeling, grondhervorming en groot infrastruktuurontwikkelings.

Hy het gesê dat die kommerwekkendste regeringsbesteding onder meer toenemende stygings in lone en die finansiële krisisse van staatsondernemings insluit.

“Verskeie maatskappye in staatsbesit toon aanhoudende operasionele ondoeltreffendheid en swak korporatiewe bestuur. Hulle versuim ook om hul finansiële verpligtinge na te kom. Om ʼn volhoubare begroting te hê moet verhogings in uitgawes ooreenstem met toename in inkomste. Die totale regeringsuitgawes kan slegs aangepas word om nuwe uitgawes te akkommodeer wanneer ʼn permanente bron van inkomste gevind word om die verhoogde besteding te verreken. Die regering oorweeg byvoorbeeld om die nasionale gesondheidsversekering te finansier deur die aanpassing aan die mediese belastingkrediet,” het hy gesê.

David Maynier, DA woordvoerder vir finansies, het op dié toespraak gereageer deur te sê Gigaba het die belangrikste aspekte van die begroting tot op ʼn onbekende datum in die toekoms uitgestel met die hoop dat pres. Jacob Zuma nie ná Desember meer die president van die land sal wees nie. Hy het bygevoeg dat permanente bronne van inkomste binnekort gevind moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alida ·

Verhaal die gesteelde geld by jou werkgewer as jy integriteit het. Grysstof ontbreek in daai koppie.

Eish ·

Maar julle is mos lankal gewaarsku. Gewaarsku oor die gevolge van beleidsrigtings, gewaarsku oor staatskaping, gewaarsku oor korrupsie, maar née, jul wil saam met slange kooi toe.

Weer die armes wat gaan bloei.

Anoniem ·

Maroela Media, julle het ‘n fout op julle kommentaar die laaste persoon se details vul outomaties by Naam en E-pos adres in en ek kon dus nou die vorige persoon se details sien. Kan julle dit nagaan en regstel?

Cyril Blackburn ·

Dagsê Anoniem
Dankie vir jou kommentaar! Ons ervaar ‘n tegniese probleem met ons kommentaarstelsel en die span werk hard daaraan om die probleem so gou as moontlik op te los. Ons vertrou die probleem sal sommer binnekort weer opgelos wees!
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

Johannes van Rooyen ·

En dis 100% die ANC en GUPTAS se skuld dis hulle wat die ten gronde gesteel het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.