Moeilike operasie red Yorkie wat been insluk

Nero en haar eienaar, Daleen James (Foto: Verskaf)

Veeartse van die Universiteit van Pretoria (UP) het onlangs die lewe van ’n Yorkshire-terriër gered nadat hy ’n been ingesluk en dit aan die basis van sy slukderm, net bokant sy hart, vasgesit het.

Nero is na die Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal geneem nadat hy begin braak en stik het. Dr. Varaidzo Mukorera het die been in die slukderm ontdek. Mukorera is ’n spesialis in veeartsenykundige interne medisyne verbonde aan die departement kliniese studies van geselskapsdiere by UP se Fakulteit Veeartsenykunde.

Nero se eienaar, Daleen James, ’n sakevrou van Bryanston in Johannesburg, vertel die nagmerrie het begin toe Nero een dag begin hoes en opgooi het. Sy vermoed dat een van haar werknemers dalk per ongeluk ’n beentjie op die grond laat val en Nero dit toe gekou het.

Toe die hoes in braking oorgegaan het, het James vir Nero na ’n veearts in Fourways, Johannesburg, geneem. Die veearts het gesê Nero benodig spesialis-aandag en het die UP se Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal aanbeveel.

Dr. Mukorera het gekies om die been met chirurgie te verwyder, eerder as om ’n endoskopiese prosedure te volg. Die prosedure is toe verwys na die spesialis-veearts, dr. Ross Elliott, wat in dieselfde departement as Mukorera werk.

Elliott het die uurlange operasie in die fakulteit se kleindierchirurgiekliniek, onder leiding van dr. Adriaan Kitshoff, ’n genoot van die Europese Kollege van Veeartsenykundiges, uitgevoer.

Nero in die Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal (Foto: Verskaf)

Elliott het ’n ingewikkelde prosedure gevolg, genaamd torakotomie – ’n chirurgiese prosedure waar ’n sny tussen die ribbes gemaak word om die longe of ander organe in die borskas te bereik.

’n Gedeelte van Nero se slukderm moes verwyder word, aangesien die been op drie plekke gate in die slukderm gesteek het. Die oorblywende gesonde slukderm is weer saamgevoeg. Die been het ook skade aan die aorta (die hoofslagaar wat bloed van die hart na die res van die liggaam wegvoer) veroorsaak. Elliott het daardie lekkasie ook herstel.

Die veerkragtige Yorkie het vir tien dae ná die operasie in die hospitaal gebly om te herstel voordat hy ontslaan en met James herenig is.

Elliott was bekommerd dat chirurgiese komplikasies ná die operasie kon ontstaan wat die heg van die slukderm betref.

“Komplikasies wat verband hou met lekkasie uit die saamgevoegde slukderm en ’n infeksie in die bors is baie algemeen na só ʼn operasie. Nero is onder streng toesig gehou. Sy lyf is deur krammetjies bymekaar gehou om te verseker dat die wonde vinnig genees,” het Elliot gesê.

Hy sê die slukderm is ook geneig tot littekens na so ʼn operasie. Daarbenewens verminder die interne deursnee, wat dit moeiliker maak vir kos om in die maag te beweeg.

“Daar is altyd ’n kans, wanneer die slukderm skeur, dat dit nie vinnig genees nie, of kan lei tot infeksie. Maar ‘Super Nero’ het merkwaardig goed herstel.”

Volgens Elliot het Nero ’n dag ná die operasie in kritieke sorg uit sy bed opgestaan.

James sê dit gaan nou baie goed met Nero en hy eet al sagte kos en maak nie meer staat op ’n voedingsbuis nie. Sy het haar dankbaarheid teenoor Elliott betuig vir die wonderwerk wat hy op haar geliefde Nero verrig het.

“Nero beteken die wêreld vir my. Ek is bly hy is besig om te herstel en het reeds die ergste oorkom. Hy is ’n stout hondjie, maar so oulik,” vertel James.

Elliot raai enige honde-eienaar aan om nie bene aan hul vierpotiges te voer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.