Moeilike pad vir universiteite

kaapstad universiteit

Argieffoto.

Groter klasse, lae klasgelde, swak gehalte en baie min navorsing is die voorland vir openbare universiteite indien die huidige stand van sake op kampusse voortduur.

Prof. Niek Grové, registrateur van die Universiteit van Pretoria (UP), meen dit is van die gevolge wat die voorgestelde wysiging aan die Wet op Hoër Onderwys vir universiteite inhou. Die wet sal dr. Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys en opleiding, se magte by universiteite aansienlik uitbrei.

Grové was een van die sprekers op die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se spitsberaad oor die studentebetogings en die implikasies daarvan vir universiteite en Afrikaans as onderrigmedium. Die geleentheid is Woensdag by die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) in Pretoria aangebied.

“Universiteite sal voel asof hulle soos staatsdepartemente bedryf word, met die minister wat oor taalbepalings sal besluit, rade kan ontbind, transformasiedoelwitte stel en finansiering kan weerhou. Daar is geen vreugde of voorspoed op die pad waarop universiteite tans is nie,” het hy gesê.

Volgens hom beloop die verlies aan eiendom sedert die betogings op kampusse verlede jaar begin het, reeds meer as R200-miljoen.

Universiteite se finansieringsmodelle

Dr. Herman van Schalkwyk, voormalige rektor van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus, wat nou konsultant en eienaar van Aginfo is, meen Suid-Afrika staan op die drumpel van ʼn finansiële krisis in hoër onderwys.

“Die ooreenkoms rondom die #FeesMustFall-veldtog, wat beteken klasgelde sal nie in 2016 verhoog word nie, sal ʼn domino-effek op universiteite se finansies in die toekoms meebring. Universiteite sal op bedryfs- en kapitaalkoste moet bespaar en die langtermyngevolge van hierdie besnoeiings kan ʼn negatiewe impak op gehalte meebring,” het Van Schalkwyk gesê.

Hoewel die staat aangebied het om 75% van die universiteite se verliese aan die inkomste van klasgelde te dek, moet universiteite steeds die ander 25% êrens vind. Dit moet gedoen word terwyl die staat se subsidie aan universiteite reeds nie tred hou met werklike inflasie nie en daar beperkte hoeveelheid inkomste uit ander bronne gegenereer kan word.

“Hoër onderwys word met baie uitdagings gekonfronteer wat almal gefinansier moet word. Openbare universiteite is in die moeilikheid, maar ek dink nie almal besef dit nog heeltemal nie. Baie universiteite sal binnekort gered moet word van finansiële ondergang en selfs gehalteverarming.”

Perspektiewe op Afrikaans

Nog ʼn spreker by die spitsberaad, prof. André Duvenhage van die departement politieke wetenskap aan die NWU, meen min ruimte bestaan vir die voortbestaan van Afrikaanse universiteite. “Universiteite reflekteer toenemend die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing en die politieke ideologie van die huidige regime.”

Dr. Theuns Eloff het in sy toespraak tydens dié beraad gesê Afrikaanse onderrig by die UP is reeds verby, terwyl die Universiteit van die Vrystaat reeds in 2017 sal verengels. “Stellenbosch se demografie sal verseker dat Afrikaans nog vir moontlik vyf jaar as onderrigtaal by die universiteit gebruik word, maar met slegs 50% van die studente wat Afrikaans is en net 30% van hulle wat in Afrikaans wil klas draf, lyk die prentjie vir die taal maar donker. Die bestuur en akademici is ook negatief oor Afrikaans. Tog is ons dankbaar vir die raad wat nog sterk voel oor gelyke bemagtiging vir Afrikaans, maar die vraag is hoe lank kan die raad teen die senaat en bestuur uithou.”

Eloff meen die NWU kan moontlik nog vir die volgende tien jaar van Afrikaans as onderrigmedium gebruik maak. “Potchefstroom se afgesonderheid as plattelandse dorp kan in Afrikaans se guns tel, sowel as die Afrikaanse studente wat aktivisties is.”

Hy het verder gesê studente het ʼn reg tot onderrig in die taal van hul keuse en daarom sal dit goed wees as die studente ʼn klas-aksie vir Afrikaanse onderrig begin. “Afrikaanssprekende studente moet begin opstaan en ʼn saak in die grondwethof sal beslis ʼn goeie ding wees. Dit sal nog beter wees as bruin en wit studente kan saamstaan oor Afrikaanse onderrig.”

Toekoms van hoër onderwysinstellings

“Terwyl ons vir Afrikaans veg aan openbare universiteite, sal dit nie dom wees om privaatinstellings te begin nie,” het Eloff gesê. Hy het ondermeer na Akademia verwys, wat reeds grade in ekonomie en bestuurswetenskappe in Afrikaans aanbied. Prof. Anne-Marie Beukes, hoof van die departement linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg en prof. Hennie van Coller het ook hierdie mening ondersteun.

“Wat beteken dit as ons navorsingsuniversiteit ons faal? Ons land sal vir ewig bakhand moet staan vir oplossings vir ons eie probleme by ander lande. Ons sal oplossings moet koop by lande soos Brittanje en Korea – dit is kolonialisme in sy suiwerste vorm,” het Grové gesê.

Grové meen daar sal beslis ʼn toename in privaat universiteite in die toekoms wees. “Dit is die enigste goeie nuus in die huidige konteks. Hierdie universiteite sal heeltemal anders lyk as waaraan ons gewoond is en dit is ideologies nie iets wat die staat graag sal wil doen nie, maar dit is waarheen die tye ons lei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

m ·

Ja wat hoe dan nou anders. Dit sal maar versleg soos die res van hierdie land. Alles is besig om te vergaan.

Joh. 3:16 ·

Kommunisme is nie eerste wreed nie. Hulle wil eerste totale beheer oor alles hê. Daarvoor sal hulle wreed wees. Maar om die beheer te kry sal hulle kaderontplooiing toepas. ‘n Kader is nie noodwendig lojaal nie. Hy word gedwing deur vrees of deur om gekoop te word. Maar die doel van kommunisma is TOALE beheer. Daar mag niks wees in die beweging van die samelewing wat nie onder hulle beheer moet wees nie. Al het hulle nie ten alle tye volle beheer nie, ontmoedig sulke beheer alle kreatiewe oplossings en inisiatief. Daarom na twee geslagte van kommunisme het jy kreatieflose en inisiatieflose mense wat bang is om buite die totale beheer van die staat te dink. Die moderne slaaf…

Aj ·

Ek is n gemiddelde inkomste ouer met bloedsweet twee kinders by UP ons betaal baie en weerhou geen sent maar my kinders ly onder die herhaaldelike “toemaak” van die Universiteit hul wil net studeer maar nou ja. Ek gaan persoonlik my kinders na hul studies op n vliegtuig sit hier is ons voorland niks.

Allison ·

Aj – die vraag is net waarheen gaan daardie vliegtuig? Die hele wêreld is in ‘n gemors. Daardie ‘vlugtelinge’ wat in Duitsland so amok maak, is stadig maar seker besig om orals oor te neem.

pat aldrich ·

Dat ons opleding besig is om afgewater raak is reeds sigbaar. Die tyd dat ons grade soos matriek niks gaan beteken is om die draai. Privaat universiteite sal hierdie papbroekige regering seker weer die rassekaart laat speel. Alleswat goed gewerk het is daarmee heen en sal nooit weer maak kan word nie.

cr ·

Ons sal maar net eenvoudig ons eie universiteite moet skep as ons van al die “chaos” wil ontslae raak!

Berhalet Beukes ·

Die chaos wat nou by universiteite regeer is alles onnodig. Daar is selfoon programme wat taal onmiddelik vertaal terwyl ‘n persoon praat. Daar is allerhande maniere om die hele situasie te vermy maar dit is skynbaar nie wat studente wil hê nie. Ons moet ten duurste vir ons kinders vir verbly in woonstelle of kommunes betaal, het nog altyd, en so kan so elke ding uiteensit. Op die ou end gaan dit oor die algehele uitwissing van die blankes in SA. Niks anders nie

Loeis ·

Theuns Eloff, jy was mos een van die onderhandelaars wie so BITTER graag vandag se sisteem wou sien gebeur! Mag hierdie vierkantig op jou en jou genote se skouers neerkom!

Frederik ·

Prof Eloff reken dat Afrikaans moontlik nog vir so 5 jaar ‘n onderrigtaal by US sal wees. Liewe Prof, oor 5 jaar is daar van die SA van vandag niks meer oor nie, net anargie en heel moontlik ‘n burgeroorlog. Die gemors wat ons nou sien en deur die EFF begin en aangeblaas word sal nie stop voor alles in die land verwoes is nie.
Maroela, geen reël is verbreek nie, so plaas dit maar.

elize ·

As ek die storie so kyk gaan ons vir Solidariteit baie meer moet ondersteun sodat hulle Akademia kan uitbrei.

Suzelle ·

In die dae van sanksies toe SA geen brandstof kon kry uit die buiteland nie, toe maak ons ‘n plan en SASOL het ontstaan. Ek weet in die diskriminasie tydperk waarin ons is sal ons weer ‘n plan kan maak en Akademia is beslis daai plan. Dis so hartseer om te dink dat so baie mense net ‘n donker toekoms vir ons land sien. Dit gee my koue rillings as ek moet dink in watter toekoms ek my klein kindertjies in moet stuur. Maar als is nog nie verlore nie en ons kan opstaan en voortbou.

Theo Schoemn ·

Kom besoek Centurion Akademie en ondersteun n privaat universiteit wat al17 jaar bestaan. Kom kyk hoe lyk n werkende privaat universiteit

HEVW ·

Theuns, ek was ook in die goeie ou dae n PUK. Nog PU vIr CHO met interfakeltere wysbegeerte en al. Ken so bietjie van jou. Wat het van hierdie naam geword? Dit wat jy nou moet sluk is seker maar bitter.

Gemsbok ·

Ons moet ‘n volledige universiteit vir inwonende studente op Orania bou. Daar sal beide die demografie en die afgesonderdheid dit die ideale plek maak vir Afrikaanse uitnemendheid en studentekultuur om te vir altyd te floreer.

Gerhard ·

Solank as universiteite hulself met semels meng, moet hulle nie kla as die varke hulle verswelg nie.

Wim Jansen ·

Die vul van rektorsposte met swakkelinge is een van die universiteite se grootste probleme.

Theo Schoemn ·

Kom studeer in Afrikaans. Centurion Akademie bestaan al 17 jaar en is n private universiteit. Ons het grade diplomas en hoer sertifikate. In sekere kursusse is ons leiers in SA. Ons het 100% indiensneming van ons studente. Ons het 3 kampusse is Centurion 2 in Bellville 2 in Klerksdorp 1 Rustenburg en Witbank. Kom besoek gerus ons kampusse. Ons het ook koshuise en verblyf. Kom ondersteun ons studiefonds vir hulpbehoewende studente. Kom ondersteun Afrikaans. http://Www.ca.ac.za

AS ·

Plan:
Doseer en studeer IN AFRIKAANS op die internet!!!

Los die “old school” tipe opleiding vir die ‘peoples ‘… dit is te duur en uit pas met die vinnig groeiende inligtingswêreld.

Boetie en Sussie bly in hulle ouerhuise aan nadat hulle matriek geslaag het terwyl hulle by AANLYN UNIVERSITEITE studeer in Afrikaans (ook Nederlands).

Dink!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.