Moeilike vrae vir SAL se Dudu Myeni

Dudu Myeni, voorsitter van die Raad van SAL

Dudu Myeni, voorsitter van die Raad van SAL

Die Demokratiese Alliansie gaan poog om die oorsaak te vind van die talle kwessies wat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) teister wanneer die raad van die SAL en sy uitvoerende direkteure Dinsdag voor die parlementêre staande komitee oor finansies verskyn.

Die 2014/15 finansiële jaarverslag van die SAL wat in September ingedien is, dui die omvang van wanbestuur by die lugredery toe, het Alf Lees, woordvoerder van die DA, Sondag gesê.

Volgens Pravin Gordhan, minister van finansies, is dié verslag vertraag weens “ʼn aantal tegniese probleme wat die ouditeure ter elfder ure geopper het”. Die voorlopige verslag sluit nie die ouditeursverslag in nie, en is ook nie deur die raad afgeteken nie, en daar kan nog “noemenswaardige veranderinge” aangebring word, het Lees gesê.

“Dit is kommerwekkend dat die ouditeure nou eers, 18 maande ná die einde van die finansiële jaar en 12 maande ná die sperdatum van die verslag, die ‘tegniese probleme’ bekend maak. Ons vermoed die ouditeure sal na die teen-mededingingseise kyk wat Nationwide en Comair aanhangig gemaak het, wat die SAL na verwagting meer as R1,1 miljard uit die sak gaan jaag en waarvoor daar nie voorsiening gemaak is nie,” het Lees bygevoeg. “Dit kan tot verliese van tussen R4,67 miljard en R6 miljard lei.”

Die verslag dui die benarde situasie van die SAL aan, en voeg by “die aandeelhouer het ʼn verdere waarborg goedgekeur om seker te maak dat die SAL solvent bly en toegang het tot voldoende bedryfskapitaal om steeds met sy bedrywighede voort te gaan”. Volgens Lees is dit ʼn duidelike aanduiding dat daar swaar gesteun word op waarborge van die regering.

Lees voeg by die verslag het verskeie ernstige bestuurskwessies aan die lig gebring:
– ʼn verlies van R4,67 miljard vir die jaar, wat die verliese vir ʼn drie jaar periode op R8,67 miljard te staan bring;
– onreëlmatige uitgawes het tot R68,5 miljoen verhoog, ʼn toename van 241%;
– nuttelose en verkwistende uitgawes van R52,7 miljoen, ʼn toename van 275%;
– verliese in filiale ter waarde van R214 miljoen, ʼn toename van 62,1%; en
– onderdele ter waarde van R224 miljoen wat afgeskryf is omdat dit in onbruik is.

“Om by die oorsaak van die probleme te kom wat in die verslag aan die lig gebring is, sal die DA meedoënloos [die voorsitter van die SAL-raad] me. [Dudu] Myeni en ander uitvoerende direkteure ondervra,” het Lees gesê.

Volgens hom handel sommige van die vrae wat beantwoord moet word onder andere oor die SAL se bedryfsplan om verdere regeringswaarborge te voorkom; R19 miljard regeringswaarborge wat aan die SAL gegee is; Myeni se voorsitterskap; en Myeni se lyfwagdiens waarvoor die SAL betaal.

“Die DA sien uit daarna om volle en omvattende antwoorde te kry wanneer die komitee Dinsdag met Myeni, die adjunkminister en die nasionale tesourier-generaal in die parlement vergader,” het Lees afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gerd Lourens ·

Hierdie soustreindrywer het doodeenvoudig nie die kennis of kwalifikasies om enige finansiële vrae te beantwoord nie. Dis ‘n skande dat sulke tipe onkundige en ongekwalifiseerde mense in uitvoerende posisies aangestel word.

Frederik ·

Sy is een van Nammawan se begunstigdes. Sien Zapiro se nuutste spotprent in die Mail .

Zirk ·

Doe zoo voort, DA.! KEEP UP THE PRESSURE.! Die ANC het dit met ons gedoen in die struggle jare. Een of ander tyd gaan die stoomketel bars.

Kleintjie ·

Mooi so DA. Daar is baaaaie meer sake in ons land waar ondersoeke moet plaasvind.

Nita ·

Hierdie is die tipe ding wat SA op alle vlakke kelder. Mense wat in posisies sit waarvoor hulle TOTAAL onbekwaam is.

Alida ·

Sy is die bestuurder van daardie soustrein maar tog word sy weer aangestel. Verstaan sommige goed nie mooi nie. Dank haar af !!!!!!!!!!!

Jan maak n plan ·

Sy is numbaone se nuutste plesiertjie en die ANC sal nie toelaat dat sy geboelie word oor die bollie wat sy aanjaag nie.

Theuns ·

In die Privaat Sektor sal jy tronk toe gaan vir sulke misdade maar nie in die Openbare Sektor nie? Ek sien die skrywer se weer die “Aandeelhouer” het ‘n waarborg gegee sodat die Lugdiens kan aanhou voortbestaan? Wat se kaf is dit net nie! Die aandeelhouer is nie die Tesourie nie maar die belastingbetaler! Deur ‘n waarborg te verskaf maak die Tesourie hom ook aan ‘n wandaad skuldig? Daar is geen hoop dat die verliese verhaal sal word nie! Ek sien gister in die Rapport Mnr. Phitjane doen die regte ding en praat nie van Staatsondernemings nie maar van Staatsbestuurde Ondernemings (SME’s) Die Media en Politieke Partye help die ANC om te steel deur hulle nie attent te maak daarop dat die sogenaamde Staatsondernemings nie aan hulle(ANC) behoort nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.