Moenie bespiegel oor brandstofheffing – Mbalula

(Argieffoto: pixabay)

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het gemaan teen bespiegeling oor ʼn verhoging in die brandstofheffing om op te maak vir die moontlike skrap van e-tolgeld.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) en die drukgroep Outa het vroeër gewaarsku dat die regering die verwagte daling in brandstofpryse kan “kaap” om die brandstofheffing te verhoog sodat geld ingevorder kan word om die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) te help betaal – iets wat nie met die mislukte e-tolstelsel reggekry kon word nie.

“Dit moet onomwonde gestel word dat die regering geen uitlating oor hierdie kwessie gemaak het nie. Ons doen dus ʼn beroep op belanghebbendes om hulle te weerhou van die versprei van gerugte wat bedoel is om onrus onder motoriste te veroorsaak,” sê Mbalula.

Volgens die minister het hy al vantevore met Outa en die AA vergader om sake van gemeenskaplike belang te bespreek en hy bly verbind tot opbouende gesprekke wat help om probleme op te los.

“Daar is geen rede om alarmisties te wees oor moontlike aankondigings oor die regering se besluit oor die finansiering van die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek nie.

“Ek doen ʼn beroep op almal om te wag op ʼn formele aankondiging en nie betrokke te raak by bespiegeling wat geen oplossing vir ons uitdagings bied nie.”

Wat Mbalula egter nie gedoen het nie, was om te ontken dat ʼn verhoging in die brandstofheffing dalk op hande is.

Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa, het Woensdag by navraag gesê die regering het in die verlede al, wanneer die brandstofprys daal, ʼn verhoging in die brandstofheffing by die agterdeur laat insluip.

Hy sê in 2009 en 2014 het die regering die brandstofheffing verhoog in ʼn tydperk waar ʼn daling in pryse ondervind is.

“Ons gee ons kommer hieroor te kenne en ons het ʼn reg om dit te doen. Daar is genoeg aanduidings dat die regering ʼn styging kan laat inglip,” sê Duvenage.

ʼn Besluit oor die e-tolprojek is nou al verskeie kere na die kantlyn geskop. Mbalula het in Junie vanjaar egter beloof dat ʼn oplossing vir die e-tol-situasie “vir seker” in Oktober tydens die mediumtermynbegrotingsrede gegee sal word, hoewel verskeie vorige spertye daaroor al gekom en gegaan het.

Een van die voorstelle wat in die verlede gemaak is om die GFIP in die plek van die e-tolstelsel te help finansier, was ʼn styging in die brandstofheffing.

Danksy ʼn laer internasionale olieprys en die versterking van die rand teen die dollar, kan die prys van petrol volgende maand in die omgewing van R2,60 daal en die prys van diesel met naastenby R2,30. Die vrees is dat die regering hierdie daling as ʼn geleentheid gaan sien om belasting te verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johann101 ·

Oooo waar ‘n rokie is… is gewoonlik ‘n vuur & ons weet maar te goed dat die regering nie altyd die volle verlaging deur gee na ons die publiek nie…
Dan ook mbalula se reaksie spreek ook boekdele & die spyker is op die kop geslaan… die regering gaan nie die volle verwagte korting deurgee nie!…

Nico ·

FM het al telkemale belowe om ‘n verklaring omtrent e-tol te maak, dink sy laaste belofte was vir Februarie ’22. Hy bly uitstel (sonder verduideliking of verskoning) so, wat hy sê en wat hy doen of dink, verskil in elk geval. Ek wonder of hy onthou watter dag van die week dit is …

Nie Verbaas ·

Ons fantastiese ou “sit down before you get in” genie.

Oosieoos ·

Jy kan nie a woord glo wat mbabula sê nie a agterbakse mannetjie

Johan ·

Ek kan nie sien ek wat in die Ooskaap bly moet betaal vir E-tol nie ek gebruik dit nie eers nie as dit gebruik betaal ek vir dit maar het 6 jaar laas daar gery daai tolhekke was in elk geval gedoem van dag een af. Die ANC wou dit gehad het soos gewoontlik dink hulle nie as hulle iets impleminteer nie of vergeet dit kos geld op onderhoud en salarisse.

Boatsie ·

Bennie boekwurm stadig nou. Die mense luister in elk geval nie meer na wat jy sê nie en jy gee hul eintlik ook nie rede om dit te doen nie.

Jack ·

Wie vertrou die anc? Ons verwag beslis n daad van uitbuiting.

Eden ·

Sekerlik die slegste minister van die hele spul. En dit wil gedoen wees.

Schalk ·

Ongelukkig het hierdie einste FM al te veel stories gedraai dat ons hom moet glo. Hy is maar net soos gewoonlik voorgespring met sy onderduimse planne

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.