Moenie dat aanlyn bedrieërs jou Kerstyd bederf

(Foto: William Iven/Unsplash.)

Namate digitale aktiwiteite oor die feestyd toeneem, bedink bedrieërs allerhande nuwe slenters om ʼn vinnige geldjie – jou geldjie – in hul sak te steek.

BankservAfrica waarsku verbruikers dus om hierdie Desember ekstra paraat te wees en nie vir digitale slenters te val nie.

Ursula Pearson-Williams, hoof van bedrogsake by BankservAfrica, sê saam met die gerief van aanlyn betalings, veral wanneer ʼn groot hoeveelheid inkopies aanlyn gedoen word, kom ook die groter gevaar dat verbruikers gevaarligte kan miskyk. Dit geld veral vir diegene wat gek is oor ʼn winskopie of los gelukkie wat byna te goed klink om waar te wees; in die meeste gevalle is dit inderdaad ook nie waar nie.

Pearson-Williams meen hoewel verbruikers van alledaagse swendelary bewus moet wees, moet hulle ook daarvan kennis neem dat slenters verskillende lae van bedrieglike aktiwiteite kan aanneem.

Gesofistikeerde misdadigers en hul netwerke kan byvoorbeeld persoonlike besonderhede gebruik wat hulle deur ʼn ander slenter bekom het waar die verbruiker gelok is om hul persoonlike besonderhede aanlyn in te vul. Dit kan binne enkele dae tot ernstige ID- en nabootsingsbedrog lei, waarsku Pearson-Williams.

Sy sê BankservAfrica se Transactional Fraud Mitigation- (TFM-)span het eerstehandse ondervinding  met soortgelyke voorvalle in die betalingsruimte wat hy namens sy bankkliënte ondersoek.

In sommige gevalle is kliënte se bankrekeninge heeltemal gekaap, wat tot groot finansiële verliese gelei het.

BankservAfrika se eie navorsing en data-ontleding weerspieël voorts bedrieërs se modus operandi om veral oor die feestyd op niksvermoedende slagoffers toe te slaan wanneer verbruikers geneig is om minder aandag te gee aan dit wat in hul bankrekeninge aan die gang is.

Sommige van die eenvoudige jaareindtaktieke wat gebruik word om verbruikers te mislei, kan ʼn kwansuise verrassingsgeskenk behels, ’n laaste-minuut-promosie wat te goed is om waar te wees of ʼn bedrieglike telefoonoproep of boodskap waar die verbruiker se “bank” hulle aanmoedig om ʼn betaling te maak.

Bedrieglike skakels na vals webwerwe of rekeninge word dan gebruik om verbruikers te mislei om hul persoonlike en finansiële inligting in te vul. Swendelaars gebruik dié inligting om verbruikers se bankrekeninge te plunder.

Die Nasionale Verbruikerskommissie het Suid-Afrikaners onlangs teen die gebruik van skakels gewaarsku wat van sosialemediaplatforms of ander aanlyn advertensies afkomstig is.

Die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens het vroeër ook ʼn waarskuwing aan verbruikers gerig om paraat te wees vir swendelaars wat gekloonde rekeninge en profiele gebruik om wagwoorde of eenmalige PIN-kodes te bekom wat na verbruikers se elektroniese toestelle gestuur word.

Hierdie misdade vind ook teen ʼn stywe pas plaas – veral in die digitale era.

Dit vereis dus vinnige, kundige ingrypings met behulp van tegnologie. Om dié soort bedrog en swendelary suksesvol te beveg, verg egter ook ʼn gesamentlike benadering deur alle rolspelers in die bankwese en betalingswaardeketting.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.