Moenie gerugte versprei nie, waarsku Noordwes-polisiehoë

Foto: ANA

Die polisie in Noordwes het lede van die gemeenskap versoek om nie valse en misleidende boodskappe deur sosiale media te versprei nie.

“Die polisie sal nie huiwer om op te tree teen enige persoon wat boodskappe versprei wat ten doel het om inwoners te intimideer of wat geweld aanhits nie,” het lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, Woensdag gesê.

Dit volg ná ʼn boodskap op Facebook en WhatsApp versprei is dat daar daagliks tussen 7 November en 31 Desember ontwrigtings sal plaasvind teen Sun City in Ledig, Robega, Pilanesberg, Maule, Phokeng, Phatsima, Rustenburg en omliggende dele. “Ons sal alles doen om seker te maak skade word aangerig aan enigiemand nader aan Sun City. Ons sal klippe gooi, voertuie aanval, buitebande aan die brand steek en so meer. Jy, jou familie en vriende word gewaarsku om nie naby aan Sun City te kom nie,” lui ʼn deel van die boodskap.

Die miljoen dollar Nedbank-Uitdaging vind hierdie naweek plaas by Sun City. Daar is teen Woensdag nog geen voorvalle aangemeld nie, maar die polisie patrolleer die gebied.

Motswenyane het gesê die oorsprong van die boodskap word ondersoek. “Die Wet op Byeenkomste is duidelik en reguleer openbare byeenkomste en betogings in sekere gebiede. Enige persoon het die reg om saam met ander persone bymekaar te kom en sy menings vrylik uit te spreek, maar dit moet vreedsaam geskied en die regte van ander persone moet in ag geneem word,” het sy bygevoeg. “Daar word ʼn dringende beroep gedoen op alle gemeenskappe wat aan betogings wil deelneem, om dit vreedsaam te doen en nie enige misdaad te pleeg nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.