‘Moenie jou erfenis verwaarloos’ – AfriForum

Kanonskoot (Foto verskaf deur Erfenisfees)

Op die vooraand van Erfenisdag doen die burgerregte-organisasie AfriForum ’n beroep op gemeenskappe om verantwoordelikheid vir die bewaring en uitbou van hulle eie erfenis te aanvaar.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, heers verskeie debatte wêreldwyd oor die betekenis van historiese erfenis, asook oor hoe dit verstaan en bewaar moet word.

“Die regering se voorgestelde temaparke vir standbeelde is ’n voorbeeld in hierdie verband. Erfenisbakens soos standbeelde word die sondebok vir mense se eietydse probleme gemaak en daardeur word bepaalde gemeenskappe ook geteiken. Ons moet ons geskiedenis ken om te voorkom dat ideoloë se uitbuiting daarvan vir hulle eie agendas ons waardering daarvoor ondermyn. Waar enige vorm van erfenis só uitgebuit word, moet sterk standpunt daarteen ingeneem word.”

alana-bailey-afriforum-featured

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum. (Foto: Reint Dykema)

Bailey beklemtoon dat erfenis die natuur sowel as kultuur insluit. Kulturele erfenis bestaan uit stoflike erfenis soos argitektuur, standbeelde of meubels, en geestelike erfenis, wat van letterkunde tot selfs geskiedskrywing, raaisels en rympies insluit.

“Wanneer ons iets wil doen om ons erfenis te bewaar, hoef dit nie net om geskiedenis te draai of groot uitgawes te behels nie. ’n Mens kan ’n inheemse boom plant of ’n uilhuis oprig, ’n Afrikaanse boek lees of familiestaaltjies oorvertel.”

Mense wat meer energiek voel, kan ’n erfenisterrein gaan skoonmaak of ’n museum of natuurreservaat besoek. Talle van dié instellings bied spesiale programme vir Erfenisdag of Erfenismaand aan en deur dit te ondersteun, word die voortbestaan daarvan verseker.

“Die instellings verwelkom ook mense wat as vrywilligers betrokke wil raak om sodanige programme aan te bied.”

Volgens Bailey is dit noodsaaklik dat mense moet besef dat elke geslag verantwoordelik is vir die erfenis wat deur hulle voorgeslagte nagelaat is en dat dit elke gemeenskap se taak is om dit weer vir die geslagte na ons te bewaar. Verder moet ons dit aanvul met nuwe erfenisse wat ons daarby voeg.

“Dit is ’n ereskuld en plig wat ons nie durf nalaat of aan mense mag oorlaat wat dit vir eie gewin wil misbruik nie,” waarsku sy. “Die toekoms van ons verlede is in ons hande.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

FM ·

Alana, baie dankie. Ek stem 100% met jou saam.

Volgens Ps 78 is dit ‘n duidelike opdrag om die wonderdade aan die volgende 5 geslagte oor te vertel.

Adeline ·

Watter erfnis – boere word vermoor en die hoof van polisie vaar uit met haatspraak wat hy by Mal-emma geleer het – monumente word verwoes en gevandaliseer – misdaad, roof en haat word openik teen blankes verkondig en oumense wat sagte teikens is word vermoor en erg gemartel omdat hulle vel wit is – watter erfnis?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.