Moenie jou masker té gou bêre nie

(Argieffoto: Unsplash)

Die oorblywende maatreëls ingevolge Suid-Afrika se ramptoestand wat verlede maand vir 30 dae verleng is, verval Woensdag om middernag – en miljoene Suid-Afrikaners wag op hete kole om te sien wat die verwagte nuwe gesondheidsregulasies gaan inhou.

Die maatreëls verval outomaties vandag (4 Mei) en sou daar nie binne die volgende paar uur nuwe regulasies bekend gestel word nie, sal niks Suid-Afrikaners dwing om voortaan byvoorbeeld ʼn masker in die openbaar te dra nie.

Ingevolge die voorgestelde regulasies is die dra van maskers in enige openbare gebou of wanneer van openbare vervoer gebruik gemaak word, egter steeds verpligtend.

Peter Wassenaar, ʼn prokureur van Pretoria, sê dit is inderdaad só dat indien daar nie voor middernag nuwe regulasies bekend gestel word nie, ʼn maskerlose toekoms moontlik wink.

“As daar nie vandag regulasies is nie, gaan dit tegnies ʼn gaping laat… Dit is egter belangrik om te wag op enige regulasies voor ons bespiegel.”

Ondernemings kan egter steeds maskerlose besoekers belet as hulle sou wou. Net soos ʼn restaurant reg van toegang kan voorbehou as ʼn besoeker byvoorbeeld met plakkies en ʼn kortbroek by ʼn formele plek opdaag, kan ʼn onderneming ook besluit om bepaalde regulasies steeds af te dwing.

Dr. Llewellyn Curlewis, ʼn strafregkenner, sê daar bestaan tans geen wetgewing wat die regulasies verpligtend maak nie. Die regering het ʼn maand gelede aangekondig dat hy aan plaasvervangende regulasies werk en pres. Cyril Ramaphosa het ʼn “morele beroep” op mense gedoen om hulle steeds daarby te hou terwyl die nuwe regulasies afgehandel word.

Dié sogenaamde morele verpligting verval egter ook vandag.

Curlewis sê talle mense is “in die mag van die gewoonte” en kan nog geruime tyd byvoorbeeld voortgaan om hul maskers buite te dra – selfs al vereis wetgewing dit nie. Sakelui kan ook besluit om sekere regulasies, soos sanitering en die dra van maskers, steeds af te dwing. Een restaurant kan dalk in die toekoms besluit om die regulasies te laat vaar, terwyl ʼn ander kies om dit te behou.

“Jan Publiek gaan dan vir homself moet besluit,” sê hy.

Wassenaar sê ook as die hele samelewing “gaan ontmasker”, die vraag ontstaan of dit steeds billik van ʼn onderneming sal wees om sekere vereistes te stel.

“Dit is absurd en surrealisties dat jy sonder ʼn masker tot by die deur van ʼn winkelsentrum kan stap, maar daarna moet jy ʼn masker dra.”

Regering moet nóú sê

Daar was sedert die bekendmaking van die konsepregulasies, wat voortaan onder die minister van gesondheid sal val, skerp teenkanting teen die voorstelle en duisende kommentare daaroor is ingedien. Van die grootste teenkanting is gemik op voorgestelde verpligte inenting en kwarantyn.

Verskeie organisasies is gereed om hulle tot die hof te wend, sou die regulasies deurgevoer word.

“AfriForum se hofstukke is reeds afgehandel en ons regspan staan gereed om hierdie wysigings onmiddellik te beveg, sou dit in werking tree. AfriForum sal litigeer om die verstommende en onregverdigbare regulasies te hersien,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder.

Die openbaredeelnameplatform DearSA sê hy is ook bekommerd oor die regering se hantering van die openbaredeelnameproses rakende kommentaar op die nuwe voorgestelde wysigings aan die Gesondheidswet.

Die werkgewersorganisasie Neasa is een van die instellings wat regstaan om die regulasies in die hof te takel.

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof, sê een van die moontlikhede is dat die regering moontlik besluit dat die teenkanting teen die voorgestelde regulasies so groot is, dat hy hom liewer nie verder daarin wil begewe nie. “As die terugdruk te sterk is, kan die regering dalk terugstaan en later weer probeer. Dit is seker nie ʼn onmoontlike situasie nie, maar ek dink dit is onwaarskynlik. Ek kan nie dink hulle gaan so maklik wegstap nie.”

Die ander opsie is dat nuwe regulasies vanaand, enkele ure voor dit veronderstel is om in werking gestel te word, afgekondig word.

“Dit sal werklik onvanpas wees om enkele ure voor ʼn nuwe maatreël in werking moet tree, dit eers af te kondig. Dit verswak die wetgewer se gesag – maar dit is waarskynlik wat gaan gebeur.”

Papenfus sê die voorgestelde regulasies bevat “ʼn klomp onsinnighede” wat, indien dit nie gewysig word nie, tot regstappe gaan lei. “Ons gaan hof toe as daar nie ʼn radikale skuif in die regulasies is nie.”

Michele Clarke, die DA se woordvoerder oor gesondheid, sê Ramaphosa en sy regering moet nou sê wanneer die ramptoestand gaan eindig – en wat die pad vorentoe inhou.

“Die drakoniese konsepgesondheidsregulasies kan verreikende gevolge op mense se grondwetlike regte hê en die departement van gesondheid moet elke poging aanwend om te verseker almal se kommer kry aandag.”

Clarke sê die regering het voorheen openbaredeelnameprosesse bloot gebruik om boksies af te merk en sy eie agenda te stoomroller.

“Die DA gaan nie toelaat dat dit weer gebeur nie. Die regering kan nie voortgaan om Suid-Afrikaners as die vyand te behandel nie. Ons moet weet wat die status van die konsepgesondheidsregulasies is. Die land het die afgelope twee jaar genoeg gely en verdien om te weet wat voorlê.”

Curlewis sê die regering sal intussen een of ander vorm van regulasie in werking moet stel, soos hy onderneem het, of soos ʼn dwaas lyk as dit nie gedoen word nie.

“Die regering moet egter sy tyd neem, nog beraadslaag en wanneer hy iets aankondig moet dit ten minste sin maak. Anders moet hy dit liefs los.”

Wassenaar sê sou nuwe regulasies nie voor middernag bekend gemaak word nie, die minister van gesondheid dit wel op ʼn latere stadium kan instel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jean

Mense moet saamstaan en net ophou maskers dra, en die wat maskers wil dra kan.

krodedil

Maskers help niks om die virus te keer of te stop nie. Gooi jou masker weg

Witbaard

Ek het myself lankal ontmasker

Nella

Ek raak vreeslik benoud met my masker. Ek dra dit rerig net wanneer ek MOET. Ek sien die naweek die mense in die mall se maskers hang onder hulle kenne of op die ken. Of hul eet en druk iets in hul mond en sit masker terug. Nou is jou vinger in elk geval vol van jou eie spoeg en kan ook Covid so versprei. Die wat dit wil dra, kan dit mos maar dra om jouself te beveilig.

Carin

Almal wat ek ken wat al Covid gehad het, het hul maskers getrou gedra… ek se maar net. En meeste van die mense wat ek ken wat Covid gehad het was ten volle ingespuit… voeg ek maar net by..