“Moenie mense oor ‘n see-uitsig mislei nie”

Morgansbaai Foto: CraigvE, TripAdvisor

Morgansbaai Foto: CraigvE, TripAdvisor

ʼn Remax-advertensie wat foto’s van die see wys vir ʼn eiendom wat nie ʼn see-uitsig het nie, is misleidend, het die Gesagsliggaam vir Reklamestandaarde (GRS) Vrydag gesê.

“Die respondent moet ook daarvan bewus wees dat maatreëls wat verwys na misleidende bewerings, ook voorsiening maak vir visuele bewerings,” het die GRS in ʼn verklaring gesê.

Die klag hou verband met ʼn webwerf-advertensie deur die eiendomsagentskap waarin ʼn leë erf in Morgansbaai in Oos-Londen in die Oos-Kaap te koop aangebied word. Vier van die foto’s het ʼn see-uitsig gewys, alhoewel die eiendom glad nie ʼn see-uitsig het nie.

Remax het in reaksie gesê daar was geen aanduiding in die skriftelike deel van die advertensie dat die eiendom ʼn see-uitsig het nie en die foto’s is slegs gebruik om voornemende kopers ʼn idee te gee van die algemene omgewing.

Die maatskappy het gesê dit was nie sy bedoeling om mense te mislei nie, en die advertensie is reeds van die webwerf verwyder. Die maatskappy het ook om verskoning gevra vir enige ongerief.

Die GRS het gesê hy aanvaar Remax se voorneme om die advertensie te verwyder en dat dit nie weer gebruik sal word nie. Remax word egter gemaan om nie enige advertensies te gebruik wat moontlik visueel of skriftelik misleidend kan wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

EMK ·

Hulle is nie die enigstes wat al so gesondig het nie! Nou het hul kammig gewys hoe die omgewing lyk – dan moet hulle dit duidelik BY die foto noem!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.