“Moenie met ons vullis mors nie!”, sê AfriForum

Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, wil hê Suid-Afrika moet skoon en gesond bly.

Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, wil hê Suid-Afrika moet skoon en gesond bly.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ‘n nasionale veldtog genaamd “Moenie met ons vullis mors nie!”, van stapel gestuur om vas te stel of daar aan die minimum vullisbestuursvereistes voldoen word.

AfriForum sê meer as 100 van sy takke regoor Suid-Afrika word by die veldtog betrek. Volgens Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, sal daar na verwagting meer as 100 omgewingsoudits by vullisterreine regoor die land gedoen word. “Hierdie omgewingsoudits sal die nodige inligting en bewyse insamel om vas te stel of plaaslike owerhede aan die minimum vullisbestuursvereistes vir ’n veilige omgewing en verantwoordelike bestuur voldoen om te verseker dat munisipaliteite nie met ons vullis mors nie”.

“Onvoldoende vullisbestuur, die agteruitgang van infrastruktuur, korrupsie, gesondheid en veiligheidskwessies asook aardverwarming en besoedeling het ons ingryping genoodsaak om ons natuurlike omgewing te bewaar,” sê Stefan Pretorius, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Wes-Kaap.

AfriForum is van mening dat weinig munisipaliteite aan vullisregulasies voldoen en dat daar ’n tekort aan verantwoordbaarheid in plaaslike owerhede is om vullis na behore te bestuur. “Munisipale vullisterreine moet oor vullisbestuurslisensies beskik wat hulle lei om vullis ingevolge minimum standaarde te bestuur sodat die omgewing, gesondheid en veiligheidskwessies tot die minimum beperk word,” het Pretorius bygevoeg.

AfriForum sal die vullisterreine wat geoudit is deurgaans monitor. “Indien standaarde nie gehandhaaf word nie, sal ons druk op die munisipaliteite uitoefen om op te tree. As niks gedoen word nie, sal ons die nodige stappe doen om te verseker dat ʼn oplossing gevind word. Ons sal wanbestuur nie verder duld nie, en alternatiewe vir behoorlike vullisbestuur in die land word tans ondersoek,” het Pretorius gesê.

Die uitslae van die veldtog sal aan die einde van Junie 2014 bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peter Says ·

Feit is, hulle mors nie net met ons vullis nie, hulle mors met ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.