Moenie nuwe ANC-leier se invloed op ekonomie en 2019-verkiesing onderskat nie

cyril-en-nkosazana-deur-ANA

Adj.pres. Cyril Ramaphosa en dr. Nikosazana Dlamini-Zuma is tans die twee voorlopers in die stryd om die ANC se leierskap. Foto: ANA.

Die keuses wat binnekort by die ANC se nasionale leierskapkonferensie gemaak word, sal nie net die party se lot in die algemene verkiesing in 2019 bepaal nie, maar ook implikasies vir die ekonomie inhou.

Afrika se grootste ekonomie het wankelrig geraak nadat beleggers nie langer die onnodige politieke invloed in beleid onder pres. Jacob Zuma se leiding wou duld nie.

Die party sal tydens die leierskapkonferensie onder meer ʼn opvolger vir Zuma kies en die wenkandidaat sal byna vir seker ook die land se volgende staatshoof wees aangesien die ANC in 2019 waarskynlik aan bewind sal bly.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa, ʼn voormalige sakeman, word wyd as beleggers se gunsteling beskou. Hy is tans die voorloper in die leierskapstryd saam met dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, wat die voormalige voorsitter van die Afrika-unie is.

Dlamini-Zuma, wat ook ʼn kabinetsminister was, is lank deur Zuma, haar voormalige eggenoot, as sy gunsteling vir die ANC se topposisie uitgewys. Sy is ʼn ondersteuner van radikale ekonomiese transformasie en sal na verwagting ʼn linkse, arbeidsgerigte agenda ondersteun.

Indien Ramaphosa die leisels van die ANC se leierskap sou oorneem, sou dit beleggers gerusstel wat meen Zuma het sy politieke mag misbruik om sy persoonlike finansiële belange te bevorder. Zuma word dikwels daarvan beskuldig dat hy bevoegde ministers, wat voorstanders van gesonde fiskale beleid was, uit sy kabinet geskop het.

Die ekonomie het getaan sedert Zuma in 2009 aan bewind gekom het en sukkel sedertdien om die invloed van die resessie en die verlies van ʼn miljoen werksgeleenthede af te skud.

Suid-Afrika het vanjaar ekonomiese groei van minder as 1% gesien en boonop sy beleggingsgraderings verloor met agentskappe wat almal onsekerheid oor die regering se verbintenis tot ʼn gesonde ekonomiese beleid deurentyd beklemtoon.

Beleggers en finansiële markte sal die ANC-leierskapstryd fyn dophou om te sien of dit moontlik weer ʼn pad ten gunste van ekonomiese groei en sakeondernemings sal volg, of net verder links sal beweeg.

“Op lang termyn sal ʼn Dlamini-Zuma-oorwinning ʼn skerp retoriese verskuiwing tot gevolg hê van meer linkse ekonomiese beleid.

“Dit sal waarskynlik beleggers afskrik, veral dié wat in die mynbou- en landboubedrywe betrokke is. Gegewe haar verbintenis tot hoër openbare besteding, sal verdere kredietafgraderings byna onvermydelik wees,” het John Ashbourne, ʼn ekonoom van Capital Economics wat in Afrika-sake spesialiseer, gesê.

Ashbourne het opgemerk dat Ramaphosa se veldtog steun van stedelike kiesafdelings en ekonomiese hervormers binne die ANC ontvang het. Dit maak dat die voormalige mynmagnaat as die beste kans vir ʼn meer sakevriendelike administrasie beskou word.

Hoewel die ANC gemaklik algemene verkiesings sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 gewen het, het die party se gewildheid onder Zuma se leierskap afgeneem. Die uitkoms van die konferensie gaan ʼn goeie aanduiding gee van hoe die party in die 2019-verkiesing sal vaar.

Die ANC sukkel steeds om die verlies van groot munisipaliteite ná die  munisipale verkiesing in 2016 te verwerk. Die ANC het die metro-rade van Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai verloor teen die agtergrond van korrupsieklagte teen Zuma.

Ratepop, die tegnologies gebaseerde navorsings-en-meningpeilingsgroep, het in sy opnames bevind die ANC sal meer kiesers verloor as Dlamini-Zuma die party se volgende leier word.

Die opname van 2 100 Suid-Afrikaners wat verlede jaar vir die ANC gestem het, het getoon dat sowat 81% in 2019 lojaal aan die party sal bly as Ramaphosa die leier is, met 19% wat die party sal wil verlaat. Met Dlamini-Zuma as kandidaat het 44% gesê hulle sal vir ANC stem, terwyl 57% die party sal verlaat.

“Aangesien die ANC net ongeveer 54% in die 2016-verkiesing behaal het, is die kanse dat die ANC sy parlementêre meerderheid met Dlamini-Zuma aan die stuur van die party sal behou, aansienlik minder en onwaarskynlik,” het navorsers by Ratepop gesê.

Dit sal ook baie belangrik vir beleggers wees om te sien of die party die heftige binnegevegte wat oor die afgelope paar maande binne die ANC gewoed het ná die konferensie kan stopsit.

“ʼn Positiewe uitkoms sal ʼn konferensie wees wat nie later in die hof betwis word nie en die verkose faksie moet vir goeie ekonomiese beleidstellings staan,” het Karl Westvig, die uitvoerende hoof van Retail Capital wat finansiering vir kleinsakeondernemings verskaf, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Ramaphosa het by etlike geleenthede radikale ekonomiese transformasie goedgepraat. Jul dwaal ernstig indien jul van mening is hy gaan drasties afwyk van die ANC agenda.

Geen Westerse meningspeiling kan die Afrika geen peil nie. Ons is steeds tussen die duiwel en die diepblou see. NDZ gooi die padda in die kookwater en basta met die gevolge. CR kook hom stadig ten einde meer melk uit die beskikbare koeie te kry.

Loeis ·

Sou Dlamini-Zuma aan bewind kom (en die Zuma kamp sal alles in sy vermoe doen om dit te laat gebeur), en die ANC se steun val in 2019 tot onder 50%, sal ‘n koalisie nodig wees om te regeer. Dit is in beginsel ‘n wonderlike ding, maar die gematigde partye (DA, VF+, ACDP, COPE en UDM) sal waarskynlik saam te min wees om te regeer. So tensy die IFP baie ANC steun oortrek, laat dit ons met die EFF as koalisie genoot, wat van die partye nie sal duld nie. Wat ek probeer se is: moenie te gou opgewonde raak nie,

John ·

Inteendeel. Daar is geen manier dat 2018 rustige vooruitgang kan bring in SA nie. Van alle kante bekyk is hierdie ekonomie so vol dinamiet gestop dat net ‘n groot en genadige langdurige wolkbreuk die lonte en vuurhoutjies papnat sal hou… en ons klein arkies maak dryf.

Denise ·

Stem 100% saam Eish dit is nou net soos die engelse sal se from BAD To WORST ek sien geen sonskyn nie!!!!!

Marianne ·

MOENIE DAT DIE ANC DIE LAND LEI NIE! Geen van die sogenaamde Politieke partye in die land is daartoe instaat on die land te red nie.
‘n HULPBRON PARTY bestaande uit ONPARTYDIGE – EERLIKE – HARDWERKENDE MENSE moet gestig word.

Waar sal ons hulp vandaan kom?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.