Moenie teen hoender diskrimineer nie, hoor BTW-komitee

Argieffoto (Foto: JEshootscom, Pixabay)

Voorleggings aan die BTW-paneel se verslag aan die parlement sluit in pleidooie om hoender as ʼn proteïenstapelvoedsel kwyt te skeld van BTW.

Dié voorstel is ingedien deur die vakbondfederasie Cosatu, wat gesê het hy is teleurgesteld dat geen toegewings gemaak is vir behoeftiges nie wat betref noodsaaklikhede soos water en elektrisiteit. Matthew Parks, Cosatu se verteenwoordiger in die parlement, het aan die staande komitee oor finansies gesê daar moet ʼn “progressiewe BTW-glyskaal” wees vir water en elektrisiteit vir arm en werkersklashuishoudings en hy beskou die paneel se versuim om dit voor te stel as ʼn groot weglating.

Parks het ook versoek dat daar ʼn beperking, byvoorbeeld een jaar, geplaas moet word op die 1%-verhoging in BTW, die land se eerste in 25 jaar, wat in April ingestel is. Hy het gesê die vakbondfederasie glo die paneel moes ook versoek het dat die BTW-verhoging teruggetrek word. Die verhoging tot 15% het ʼn ekstra inkomste van R22,9 miljard vir die regering beteken.

Parks het egter gesê dit is ʼn regressiewe belasting wat beteken die armes betaal vir die verlies aan staatsinkomste deur korrupsie. “Die ware oplossing vir die begrotingskrisis is eenvoudig om die geplunder en vermorsing te verhoed om ons gesteelde belastinggeld in te win.”

Lionel Adendorf van FairPlay, ʼn drukgroep vir ʼn regverdige en billike handelsbeleid, het die parlement gemaan om hoender op ʼn lys items te plaas wat in die BTW-vrye mandjie gegooi sal word. Die BTW-paneel het beraam dat ʼn zerokoers op pluimvee belastingverligting van ongeveer R6 miljard sal beteken vir die verbruiker en kon nie konsensus bereik oor die kwessie nie. Dit is na LP’s verwys.

Adendorf voer aan dit is die voorkeurvorm van proteïen vir armes en ʼn kwytskelding sal help om wanvoeding te voorkom. “Moenie teen hoender diskrimineer nie,” het hy gesê.

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPA) het toegegee dit sal ʼn koste vir die staat inhou, maar kan ʼn hupstoot beteken vir ʼn bedryf wat reeds 130 000 werknemers het. SAPA het in ʼn voorlegging gesê hy is verbind daartoe om seker te maak dat enige BTW-besparings as ʼn gevolg van ʼn zerokoers van primêre hoenderprodukte aan die verbruiker oorgedra sal word. Die organisasie beraam dat die aanvraag met 7.8% kan toeneem as hoender van BTW vrygestel word en dit kan 11 000 bykomende poste beteken.

Die komitee het ook versoeke aangehoor vir BTW-vrye basiese medisyne.

Die BTW-paneel het aanbeveel dat witbrood, meel, babadoeke, sanitêre produkte en skooluniforms vrygestel moet wees, benewens die 19 produkte wat reeds vrygestel is (waaronder bruinbrood, mieliemeel en vars vrugte en groente).

Openbare kommentaar op die paneel se aanbevelings het aan die einde van Augustus verstryk.

Minister van finansies Nhlanhla Nene sal nou hierdie voorleggings in berekening bring, tesame met die aanbevelings van die tesourie en die inkomstediens voor ʼn beslissing gemaak word watter aanbevelings ingestel sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Peet Schabort ·

Die Metsimaholo munisipaliteit hef BTW op elke inskrywing maak nie saak wat dit is BEHALWE erfbelasting. Tog wonder ek of die BTW nie verskuil is in die bedrag aangeslaan?

Retha ·

Persoonlik dink ek daar moet geen BTW op mediese sorg wees nie. Hoekom moet ‘n siek mens belas word vir iets wat nie voorkom kan word nie.

Antihoendertjie ·

Eet igv nie hoender nie. Dit proe deesdae vir my soos wildevoël…?

Dop dop ·

Vat btw weg kos en sit dit by drank. In Wes kaap gaan mos meer drank gekoop word as daar meer geld oor is.

Koos ·

Dop dop- of spandeer dit op opleiding dat julle meer verstand kry in Gauteng

marina appelgryn ·

Hef BTW NET op INGEVOERDE hoender!! Hoekom baba doeke vryskeld? As nie doeke kan bekostig moet dan nie baba hê of gebruik linne doeke!!

ixo ·

nee diskrimineer eerder teen babadoeke want mamma se hande makeer niks en n blokkie groen seep is nie soo duur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.