Mogale City skuld Eskom R167 miljoen

Die nuwe ANC-stadsraad van Mogale City steur hom min sy aan finansiële verpligtinge en nog minder aan die inwoners van die dorp, sê Tjaart Steenkamp, VF Plus raadslid in Mogale City.

“Te midde van die dorp se hoë skuldlas aan Eskom (Mogale City skuld Eskom R167 miljoen) het die burgemeester onlangs tydens sy raadsoorname sowat 100 mense aangestel. Die nuut aangestelde senior personeel in sy kantoor se salarispakkette is byna R1 miljoen elk. Die VF Plus is bekommerd oor waar die raad soveel addisionele geld vandaan gaan kry in die lig dat Eskom nie die enigste diensverskaffer is wat betaal moet word nie.

“Dit gebeur in ʼn milieu waar die gemeenskapsveiligheidsdepartement nie volledig toegerus is nie. Baie van dié departement se motors is stukkend en oud wat veroorsaak dat daar te min voertuie vir die betrokke wetstoepassing beamptes is,” het Steenkamp verduidelik.

Volgens hom kan spoedbeheer ook nie volledig in Mogale City toegepas word nie, omdat daar geen werkbare toerusting is nie. “Wetteloosheid kan toeneem en die dorp kan in wetteloosheid verval as die stadsraad nie daadwerklike planne beraam om die situasie te red nie.”

Hy het ook verwys na die vele motorbotsings wat die afgelope maand op die R24-hoofweg en Robert Broomrylaan plaasgevind het. “Baie van die ongelukke word deur spoed veroorsaak of as gevolg van bestuurders wat onder die invloed van alkohol verkeer. Baie onskuldige lewens word in die proses verwoes.

“Die Mogale City stadsraad het ʼn verantwoordelikheid teenoor die inwoners – nie net om die dorp na behore te bestuur nie maar ook om hul veiligheid te beskerm. Die VF Plus gaan nie toelaat dat die burgemeester en sy kaders maak en breek soos wat hulle goeddink nie. Hulle sal tot verantwoording geroep word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Swart Piet ·

Wat die mense soos ons nie besef nie daai aangestelde 100 maatjie het gehelp om die ANC weer in plek te kry en nou moet hulle betaal word met sommer die belastingbetaler se ou geldjies.

jaco ·

dis n ANC-beheerde stadsraad en ESKOM word deur die ANC-regering beheer, met allerhande ESKOM-gunste vir die ANC se Gupta vriende. So eintlik skuld die ANC geld vir die ANC. Met ANC beheer oor beide die munisipaliteit en ESKOM, behoort hierdie problem maklik opgelos te word.

Johann ·

X-land van melk en heuning…want die koeie is gesteel en geslag en die bye korwe is ook gesteel!

SUSAN ·

Ek bly ook in Krugersdorp en van dat die waterpyp gebars het naby Krugersdorp gevangenis is ons water druking so sleg. ek koop my water en toe die pyp reg gemaak is en water herstel is het ek al my eenhede op my water meter verloor. het n mnr . Viljoen gebel wie se selfoon altyd af is en se stuur n sms maar kom nooit terug om die problem op te los nie. maar hulle is gou op jou dienste op te skort. die water drukking is baie sleg ek bly in Krugersdoerp Noord. kan ons saam staan en iets doen GROOT ASB. hoe lank moet ons nog ons geld vir die Guptas en ANC (Zuma) gee. ons werk vir ons geld.

Griki ·

Die ANC se kaartehuis is besig om inmekaar te stort en dus stel hulle vinnig hulle maatjies teen hoë salarisse aan sodat hulle die geldlaai nog meer kan besteel voordat dit te laat is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.